Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Seuns en stilsit

op 1 Februarie 2015

My ma het by ons kom kuier, sommer so alleen, sommer maar net vir ‘n week of so. Dit was in ons skooltyd, sy’t gesê ons moet maar aangaan, sy sal inval by ons; wil net ‘n bietjie rus na die siekte.

Op ‘n dag doen ons Geskiedenis in die sitkamer: my ma sit op die wiegiestoel en brei, ek lê op die grond en lees voor, een kind lê op die rusbank, die ander is maar net orals rond. Aan die einde van die voorlees, verduidelikings en bespreking, vra ek ‘n klompie vrae om begrip te toets. Ouboet antwoord meestal die filosofiese vrae en bespiegelings, kleinboet die feite – hiërogliewe, papirus, Egiptenare, Sumer, klei, spykerskrif (kuneivorm).

Net toe ek wil opstaan en gaan koffie maak, praat my ma: “Daai kinders sal nooit in ‘n skool kan aard nie.” Onmiddelik stop ek, koffie kan wag. Omdat ek weet my ma ondersteun ons besluit en het tonne vertroue dat ons ‘n tuisskool-suksesstorie gaan wees (soms soveel dat dit my bang maak), weet ek sy bedoel die opmerking nie as kritiek nie.
“Wat bedoel Mamma?”
“Daai seuntjie, ” (dit moet kleinboet wees), “het nie een sekonde lank stil gesit nie.”

Vir ‘n oomblik lank moet ek dink wat sy bedoel – daar was niks anders aan vandag as aan enige ander voorlees-les nie, was daar? Maar tog… Soms het hy langs my gelê, dan op my rug geklouter, my dan omgerol en my bene rondgeskuif dat hy kan perdjie-ry, dan onder die koffietafel ingekruip met sy voet tot teen sy gesig om te kyk of daar ‘n doring in is, dan in ‘n stoel gaan sit (vir omtrent een sin lank), dan onderstebo gehang teen ‘n stoel met kop op die vloer en knieë oor die rugleuning, dan my bene kom buig dat hy onder my knieë kan inkruip soos ‘n tent, dan oor die vloer gewurm tot naby Ouma om op te krul soos ‘n dinosaurus in ‘n eier – dis net die bewegings waarvan ek so onbewustelik-bewus was. Soos ek reeds gesê het, ‘n doodnormale voorlees.

“Maar hy kon elke vraag antwoord wat jy hom gevra het, so hy het goed geluister.” En so het hierdie ding my aan die dink gesit. Die keer of twee wat iemand probeer het om hom te laat stil sit terwyl hy iets moet leer, was almal frustrerend – beide omdat hy gedurigdeur daaraan herinner moet word om stil te sit, en ook omdat hy niks kan onthou daarna nie! Eintlik weet ek al hierdie, ek is immers daar, maar het net nooit die 2 en 2 geplus nie. Daarna het ek meer begin oplet: wanneer hulle albei sit en tossels maak (deur die wol so om en om en om en om die kartonsirkels te draai), of veters om ‘n prentjie ryg (eintlik bedoel vir veel jonger kinders), dus enigiets wat hul hande besig hou, maar nie te veel dinkkrag gebruik nie, het ons ‘n goeie leeroomblik. Net soos wanneer hy die hele vloer vol rondwurm. Soms beweeg hy byna glad nie, maar niemand het dit verbied nie, hy wil net nie.

Maar wanneer hy moet stilsit, is dit asof hy soveel van sy breinkrag moet gebruik om te probeer stilsit, dat daar net mooi niks oor is om inligting in te neem of verwerk nie!

Natuurlik is alle kinders, alle seuns, nie dieselfde nie. Ons het net twee, uit dieselfde genetiese poel, grootgemaak in dieselfde huis, dus so eenders in beide ‘nature’ en ‘nurture’ as moontlik, maar hulle verskil. Tog blyk dit dat die blote vryheid om groot- en kleinmotoriese vryheid te hê, te MAG beweeg wanneer jou liggaam so voel, ‘n beduidende verskil maak in konsentrasie.

Al is dit net om vir die duur van die hele National Geographic-film onderstebo te lê op die bank.

Ongeveer ‘n jaar later het ek op hierdie artikel afgekom: Why so many kids can’t sit still in school today/  wat my leke-opinie met professionele inligting en statistieke ondersteun.


6 responses to “Seuns en stilsit

  1. Manewales sê:

    Ek het net een seun en 2 dogters (die 2 is heelwat rustiger as ouboet, maar aansienlik besiger as meeste van hulle skool ewe knieë) en ek moet erken dat dit my deesdae redelik verbaas dat hulle al heelwat langer as vroeër kan stil sit en luister of iets doen.

    Aanvanklik het ek dit toe geskryf aan die feit dat hulle ouer raak, maar na die artikel waarvan jy praat se lees ‘n rukkie terug en nog ‘n paar ander oor kinderontwikkeling en sport (spesifiek gimnastiek) het ek besef die verskil het begin intree toe hulle met gimnastiek begin het. Dis ongelooflik watter verskil die paar uur ‘n week maak. Waarskynlik nie net oor wat hulle in daardie tyd doen nie, maar ook hoe dit hulle spel oor die algemeen beïnvloed het. Nou is speeltyd gevul met tol en draai, onderste bo hang en klim en klouter en die gevolg is dat hulle skielik kan stil sit om te konsentreer! Hoe fantasties is dit nie!

    Like

    • tweetaligetuisskolers sê:

      Ja, Manewales, gelukkig verbeter hul stilsit-vermoë met tyd, anders sou daar baie meer moedelose ouers, onderwysers en kinders gewees het!

      Liked by 1 person

  2. Twilight sê:

    Ons het ook twee seuns en ek let nie juis daarna op of hulle stilsit of nie. Kan wel agterkom wanneer ek hulle aandag het. Of verloor het. Ek weet dat hulle wel ure kan stilsit wanneer hulle erg in iets geinteresseerd is – soos Lego. Maar dan word dit gewoonlik gevolg letterlik deur ‘n uitbarsting van liggaamlike aktiwiteit. ‘n Wilde gestoei of spring op die trampolien verlig blykbaar die opgeboude energie wat volg op stilsit.

    Like

    • tweetaligetuisskolers sê:

      Twilight, dis net nog ‘n rede waarom tuisskool wen: ‘n ouer kan oplet na hul kinders en so iets agterkom, baie makliker as ‘n onderwyser in ‘n vol klas, wat boonop aan ‘n rooster gebonde is. Ons skooldag het gereelde 15-minute trampolientyd ingewerk, net om daardie energie UIT te kry, of hardloop om die huis met die hond. Toe ons in ‘n klein woonstel gewoon het vir ‘n tyd lank, het ek hulle soms met die trappe op en af gejaag!

      Like

  3. Chanell Möller sê:

    Ek het meer n vraag as n kommentaar…ek ht n 2 ling seuns en di 1 word gedurig uitgetrap omdat hy ni stilsit in di ni. Juf se hy ht pille nodig ma sielkundige se nee hy ht dit ni nodig. Ek raad op en kan ni home school ni ek n enkel mamma wat voldag werk!! Wat maak ek???

    Like

    • tweetaligetuisskolers sê:

      Dis moeilik, maar niemand kan vir jou sê wat jy moet doen nie, jy self ken jou kind die beste. Dalk kan jy met die juffrou praat en aan haar verduidelik dat jy wel by ‘n sielkundige raad gaan vra het en pille is nie nodig nie. Vir sommige seuns help dit wanneer hulle baie aktief is die res van die dag, soos om aan sport deel te neem. Vir ander help dit wanneer hulle ‘n boekie of papier het waarop hulle kan prentjies teken, krap of noedel. Nog iets wat jy kan probeer is om vir hom iets te kry wat sy hande besig hou, dan sit die res van sy lyf stiller 🙂 LOL, dit klink snaaks, maar ek weet nie hoe om dit anders te beskryf nie. Voorheen was “stress balls” die groot ding, ‘n tydjie gelede was vroetelkubusse gewild en tans is “fidget spinners” die in-ding. Sommige van hierdie kan ander kinders in die klas se aandag aftrek, kies dus maar iets wat stil is. As jy “fidget toys” google, is daar ‘n groot verskeidenheid, meeste van hulle wel in Suid-Afrika beskikbaar. As jy beplan om so iets vir hom aan te skaf, praat beslis eers met die juffrou en verduidelik dat dit nie sommer enige speelding is wat hy uit stoutigheid skool toe bring nie, maar dat dit iets is wat haar behoort te help deur hom stiller te hou. Baie sterkte!
      Ns. Verduidelik tog ook gereeld aan hom dat dit nie HY is wat die probleem is nie, maar die woeligheid.

      Like

Wat dink jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: