A is vir appel, B is vir bal… dis waar in Afrikaans, Engels en Duits. Maar R is nie vir altyd vir roomys nie. Soms is ‘E’ vir roomys en soms ‘I’.
Toe ouboet begin om deur prentewoordeboeke te blaai, en dit hardop te “lees” volgens die prentjies, het ons besef hier is ‘n probleem. Wanneer hy my ‘n ‘P’ wys, dan antwoord ek: “P, vir piesang”. Die aand kom Manlief tuis en ouboet storm op hom af, boek in die hand, wys trots na die ‘P’ en spog: “P, für Banane.” Dit was baie deurmekaar vir die knapie. Waarom is die prentjie van die vlermuis op die ‘V’ bladsy wanneer hy saam met Mamma lees, die ‘F’ bladsy wanneer Pappa lees, en in my maatjie se boek op die ‘B’ bladsy? Ander woorde, soos huis, gorilla en xilofoon, bly weer op dieselfde bladsy! Woordewêreld was ‘n baie deurmekaar plek.
Ons het gou besef hier kom ‘n groot verwarring, wat leer-om-te-lees in ‘n nagmerrie gaan verander. Gelukkig was daar ‘n vakansie in die Kruger-wildtuin om die draai. Dis net die regte plek om te dink terwyl jou oë die diere soek. Gewapen met notaboekie en potlood, het ons die vakansie benut om ook so tussenin ons eie alfabet saam te stel. Een met prentjies wat by dieselfde letter pas in al drie “ons” tale. Die vakansieweek was deurspek met uitroepe soos “Flamink! Dit werk!” en vreemde versoeke: “Noem vir my al die Duitse naamwoorde waaraan jy kan dink wat met ‘C’ begin, asseblief.”
Terug tuis was ons alfabet gereed. Met ‘n bietjie kreatiewe kroek hier en daar, vernaamlik die ‘C’, ‘Q’ en ‘Y’. Eers moes inkleurboeke, kunsboeke en hier en daar manlief se hulp ingeroep word om prentjies te kry van al die woorde. (Ek kan nie teken nie). Daarna is aftrek-vensterverf ingespan om ouboet se kamervenster te verander in ‘n alfabetplakkaat.
Die prentjies is ook geteken en ingekleur in ons eie papierwoordeboek. Later ek weer dieselfde prentjies gebruik om ‘n alfabetplakkaat te maak. Weer toe hulle leer lees het, om klein konsertinaboekies te prakseer. Weereens toe ek werksblaaie vir drukskrif gemaak het. Daardie vakansie se dinkwerk het nog vir baie lank vruggedra!
Wat dink jy?