Hierdie storie het ek gelees toe ek omtrent agt of nege jaar oud was, maar ek het ook mense van ander lande teëgekom wat dit ken, so dalk is dit meer ‘n soort fabel. Indien nie, en iemand die oorsprong daarvan ken, laat weet my asb. sodat ek dit hier kan noem, of verwyder as dit kopiereg sou skend. Die storie het my egter my lewe lank bygebly, en met baie dinge gehelp om keuses te maak. Hier’s eers die storie:
‘n Seun vang eenmaal ‘n padda by die rivier, en neem dit huis toe. Hy wil sien wat die padda doen as hy dit in warm water gooi. Hy kry ‘n pot vol vuurwarm water en gooi die padda daarin. Die padda spring onmiddelik uit! Die slinkse seun neem toe ‘n pot koue water en gooi die padda daarin. Die padda swem heerlik rond. Dan plaas die seun die pot koue water op die stoof, waar hy die plaat aanskakel teen ‘n baie lae temperatuur. Die water word nou geleidelik warmer en warmer, en die padda kom dit nie eens agter nie. Padda swem rustig verder. Op ‘n stadium bereik die water in die pot ‘n temperatuur wat glad nie meer veilig is nie, maar die padda is nie bewus daarvan nie en spring nie uit om sy lewe te red nie. Padda swem net onbekommerd verder, totdat die seun weer kyk en die padda dryf in die water, pens bo, morsdood.
Dis nogal ‘n grusame einde, maar dis juis die punt. Die boek waarin ek dit gelees het, het nie die storie as Bybelles vertel nie. Dit het geëindig met morele les: So is dit soms met slegte dinge – hulle word so stadigaan slegter dat mens dit nie eens agterkom nie, net soos die padda, totdat dit te laat is.
Die verhaaltjie het my kindergemoed egter so getref, dat ek dit oral begin raaksien het, ook in Bybelverhale. Een voorbeeld daarvan is Saul, wat aanvanklik glad nie wou koning wees nie, maar sy mag het so na sy kop toe gegaan dat hy hom later sommer die priester se mag toe-eien.
Later as tiener, het ‘n sekere voorval dit weer sterk bewys. Daar was ‘n familielid van ongeveer my ouderdom, wat graag gelees het, soos ek. Sy ouers het glad nie gelees nie. Hulle het ook nie gekyk wat hy lees nie. Hy het veral belanggestel in boeke met towenaars, dwerge, trolle en allerhande fantasiekarakters. Met elke kuier was daar minder boeke oor ander fantasiekarakters, en meer towenaars, towery en donker magte. Eendag het ek selfs teenoor my ouers opgemerk dat daar nie eens meer boeke in sy kamer is wat ek sal wíl lees nie. My ouers het ‘n paar keer met syne gepraat en gevra of hulle dalk nie bietjie moet kyk na die tipe boeke wat hy lees nie, maar hulle was net gelukkig dat hy wel lees. Dit was voordelig daarin dat sy Engels baie goed was op skool (nie juis my familie se sterkpunt nie) en dit was vir hulle voldoende. ‘n Jaar of wat later, hoor ons dat hy ‘n Satanis geword het. Daar was seker ook ander faktore wat daartoe bygedra het, maar vir ‘n kind uit ‘n Christelike huis, is ek seker dit was die langdurige blootstelling, stadigaan al hoe meer intens, wat daardie verandering teweeggebring het.
Nou, as volwassene en ma, sien ek dit in soveel meer situasies. Mens raak eenvoudig net gewoond aan dinge. As iemand wat grootgeword het in ‘n omgewing waar geen vloekwoorde, nie eens effense kras woorde, toegelaat word nie (my ma het kwaai gefrons as ons snot of verneuk sê), maar blootgestel is daaraan later in werksomgewing, het ek die ander dag tot my skok agtergekom dat dit my nie meer soveel pla as iemand ‘n soortvan algemene vloekwoord uiter nie. Nes die padda, het ek gewoond geraak aan die warmer water.
Hiermee probeer ek niemand bangpraat nie. Ek wil beslis nie hê enigiemand moet ophou fantasieverhale lees nie – Narnia, Hobbit, en Lord of the Rings is almal gewilde leesstof in ons huis! Ook wil ek niemand aanmoedig om paranoïes te wees nie. Net mooi vra: wees versigtig en let op. Soms kom die eerste film of boek uit, ouers fynkam dit om seker te maak dis toelaatbaar vir hul kinders, dan kom die opvolg uit, en die ouers kyk weer so vlugtig daarna (miskien). Maar gewoonlik teen die derde van ‘n reeks is hulle gewoond aan die water in die pot en let nie meer op of dit warmer word of nie. As die eerste en tweede boek (of film) oukei was, sal die derde seker tog ook wees? So as daar dan dinge voorkom waarmee hulle nie saamstem nie, weet hulle dit nie.
Nog ‘n voorbeeld is in films: Ek het die eerste Harry Potter gekyk, dit was aanvaarbaar. ‘n Fantasiewêreld met ‘n towenaarskool, byna soos Liewe Heksie wat moet skool toe gaan… in ‘n meer moderne era. Maar soos die opvolgnommers hoër gestyg het, het dit al hoe boser geword. Ek het met een van hulle (kan nie onthou of dit twee of drie was nie) uit die Kine uitgestap in die middel van die film, want ek kon dit net nie verder kyk nie. Hoe sou ‘n ouer wat dit nie self gekyk het nie, daarvan bewus wees? (Persoonlik dink ek die filmmakers doen dit met opset.)
Toets gereeld die waters. Nog iets wat ons probeer om gereeld te doen: bespreek met jou kinders waarom jy dink ‘n sekere film, boek, TV-reeks, uithangplek, enigiets is nie goed vir hulle nie. Kennis maak mag, onthou? Dan kan hulle self polisieman speel.
Sjoe, nou het ek hierdie sedepreek oorgelewer! Dit brand my al vir sooo lank.
Wat dink julle?
Wat dink jy?