In ‘n vorige skrywe (Twee vlieë met een klap ) het ek reeds genoem dat ons graag met een aktiwiteit meervoudige vaardighede aanleer, bemeester of inoefen. Tans is daar nog so ‘n aktiwiteit: Ouboet se blog.
Dit het soos volg ontstaan: seuns skryf (met pen en papier) nie te graag nie, en die wêreld word al meer tegnologies, so hulle leer om behoorlik te tik. Nadat die ‘leer tik’ verby is, kom die ‘oefen dit’ deel. Om daagliks ‘n stuk teks uit ‘n boek oor te tik, het na ‘n baie doellose oefening gevoel, maar tog moes ouboet dit maar doen… totdat iemand met die idee van ‘n blog vorendag gekom het.
Oombliklik het allerhande ander vaardighede wat ook deur ‘n blog aandag sou kry, in gedagte gekom. Dit kan sy kreatiewe skryfwerk wees. Onbewustelik kan dit ook heelwat rekenaarvaardighede verbeter. Taalvaardighede: spelling en taalleer. Sowel wilde verbeeldingsvlugte as logiese redenasie, en selfs ‘n bietjie filosofiese bespiegelinge, kan tot uiting kom.
So het Ouboet se blog tot stand gekom. Vir ‘n tyd lank was die nuutjie daarvan voldoende inspirasie. Die aardigheid daarvan het egter nie te lank gehou nie, of die verskonings begin. Meestal oor moeder se keuse van onderwerpe. So kies dan self onderwerpe! Nee, dis ook nie goed nie. Wat is dan verkeerd met my onderwerpe? Mens kan niks daaroor skryf nie. Regtig? Ja, niemand kan nie. Wel, ek sou kon. Dan, miskien as ek elke dag Mamma s’n lees, sal ek beter idees hê.
En die uiteinde van die saak is nou dat Mamma vier keer per week ‘n (baie kort) stukkie moet skryf oor dieselfde onderwerp as Ouboet. So na drie jaar van stilte: “Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my wit perd blogpos voor jou deur op jou skerm!”
[…] Vergelykende blogs Sep […]
LikeLike