Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

En daar leer ek om te hekel!

Ek het grootgeword in ‘n familie waar almal (of byna almal) hulle eie, spesiale vaardigheid het. My ma brei graag – sy het vir die seuns babaklere gebrei, later seunstruie, en voorsien ons nou nog van pragtige, pasperfekte slaapkouse, vingerlose handskoene en serpe.

My ouma hekel eerder. So lank as wat ek onthou, wanneer sy by ons kom kuier het, staan sy soggens vyfuur op, gaan stil-stil kombuis toe, maak vir haar ‘n fles rooibostee en sit en hekel. Daar sit sy totdat ons eendag wakker word, deur die kombuis warrel vir ontbyt voor skool en hou eers weer op as daar weer relatiewe stilte en orde in die huis is – dan gaan sy voort met haar dag. Toe ek ouer word, was daar elke verjaarsdag ‘n lappie of twee om in my trousseau-kis weg te pak. Sy het vir ons die pragtigste eetkamertafeldoek gehekel as trougeskenk.

My niggie maak hoede. Soos in regte-egte spoggerige dameshoede vir troues en kerk en parlement en perdewedrenne en boetieks. Sy kan enigiets optower wat mens op jou kop kan dra – van vere-agtige knippies wat net bo een oor vassteek, tot flambojante somershoede groot genoeg om daaronder weg te kruip vir ‘n donderstorm. In styl.

My tannie (en my ma ook as sy lus het) maak klere. Dis los somerskeppings en deftige baadjies. ‘n Hele nuwe uitrusting vir die kombuis om by die gordyne te pas – oortreksels vir die teepot en broodrooster en voedselverwerker. Of passende plekmatjies en servette vir ‘n spesifieke geleentheid. Of besluit Saterdagmiddag sy wil Sondag iets nuuts aantrek kerk toe en skep dit dan sommerso.

‘n Ander niggie was ewig besig met kruissteek-kunswerke. Sy het ‘n ruk lank by ons loseer toe ek nog op skool was, en daar was altyd een of ander spesiale lap êrens te sien, wat nog ‘n gare-prentjie moet kry.

My voorkeur-kunsvorm was papier. Ek hou daarvan om met papier te werk – jy kan dit presies meet tot op die laaste millimeter en dit bly die regte grootte. Die steke is nooit te groot of klein nie. Jy diepmerk met liniaal presies waar jy dit vou, en dit werk uit, geen naat wat te breed is en nou pas Barbie se been nie meer in haar langbroek nie. Jy pak alles soos jy beplan voordat jy gom smeer en bring veranderings aan voordat dit te laat is. Geen steke uittrek of gare lostorring nie. Ek vind papier ‘n baie gehoorsame, beheerbare medium om mee te werk.

Dis nie dat ek nie die ander probeer het nie, of te min aangemoedig is nie. My ma (en die skool) het my probeer leer om te brei, en ek kan regs en aweregs steke maak, maar dit kom nooit tot ‘n bruikbare eindproduk nie… behalwe vir ‘n plein serp wat kleinboet nooit dra nie. Ek wou ook naaldwerk doen en het my ma selfs omgepraat om ‘n “Maak jou eie maklike popklere”-boek vir my te koop vir my tiende verjaarsdag of so iets. Vandaar weet ek dat Barbie se broekspype nie ‘n millimeter kan uit wees nie, dan pas dit nie meer nie. Ek het darem eenmaal gordyne gemaak vir die babakamer – dis immers net reguit lyne en as die naat nou effens skeef is hier en daar, is dit nie opsigtelik nie. Van borduurwerk het ek gehou, maar wat DOEN mens met die stuk lap daarna, ek kon nooit veel nut daarvoor kry nie, en mens kan ook net soveel kussings en muurbehangsels hê (wat in elk geval nog meer naaldwerkvaardighede vereis).

Om die storie van my pogings kort te hou, dit was amper soos tuisskool. Almal het probeer om my sekere vaardighede aan te leer, en tot ‘n mate daarin geslaag, al is dit nou ook meer teoreties as prakties, maar ek het net nooit eintlik die nut daarvan gesien in my alledaagse lewe nie. Nie een van die goggas het my gebyt nie.

Totdat…! (So ‘n storie moet ‘n “totdat”-oomblik hê, nè?) Toe ons in ons nuwe huis intrek, was daardie hierdie vreemde, lang, smal oppervlak in die eetkamer. Die hout is nie besonder mooi nie, niks wat ons het pas daar nie. Alle lappies is of heeltemal te kort, of te breed, of albei. ‘n Hele string kleineres werk ook nie. Ek bel toe maar my ma (wat doen mens dan nou anders?) en hoor of Ouma nog hekel – laas wat ek gehoor het sukkel haar vingers bietjie.

Die uiteinde daarvan is dat daar ‘n paar weke later ‘n pakkie by die poskantoor opdaag. Binne-in is ‘n fyn gehekelde lappie, gemaak volgens die afmetings wat ek geneem het. Die dooie hoekie lyk nou heel skaflik.

Maar toe tref die aaklige gedagte my: wat as Ouma nie meer kan hekel nie? Sy kan ook nie vir altyd aanhou nie. Niemand anders in ons familie hekel nie, en niks anders sou so reg lyk op daardie oppervlak nie. Dalk moet ek leer?

Eers dag ek, hekel en ek sal nie maats wees nie, want brei was nie juis my gunsteling-tydverdryf nie. Maar alles wat ek teen brei het, is nie van toepassing op hekel nie: mens kan nie steke verloor nie (ten minste nie so dat die hele breiwerk leer soos ‘n sykous omdat daar in die middel van die ry een steek uittrek nie). Mens kan sommer net ophou waar jy is en later aangaan, hoef nie eers die ry klaar te maak nie. Boonop verloor daar nie so maklik een pen nie. Met brei het ek aanhoudend een van die breipenne verloor en moes eers ‘n halfuur daarna soek voordat ek kon verder brei. Dis nou seker nie brei se skuld dat ék so is nie, maar die kombinasie (brei + my) het net nie gewerk nie, ook al rym dit.

Ewe vuur en vlam lig ek my ma in met die volgende telefoonoproep. Hulle was juis op pad om die volgende week by ons aan te kom op pad na iewers anders, so sy raai my toe aan om nie hekelpenne en gare te koop nie, sy bring sommer maar saam van wat sy het. (Liewe mamma weet ook teen hierdie tyd hoe dit gaan met my en handvaardighede 😉 ) So gesê, so gedaan. Sy laai ‘n sak met penne, hekelgare en ‘n paar uitknipsels oor “Leer om te hekel”, wat nog aan my sussie behoort het, by ons af.

By die biblioteek bewapen ek myself ook met ‘n boek wat my al die geheime van hekel stap vir stap sal uitspel. Daagliks probeer ek al hierdie geheime ontrafel. Na ‘n paar weke bel ek my ma en laat weet dat sy maar weer al die hekelgoed moet saamvat wanneer hulle weer by ons verbykom – dit help tog nie. Wat het ek nou eintlik gedink? Teen die tyd behoort ek mos al van beter te weet! My vingers kan net nie gare en penne raakvat en gemaklik wees daarmee nie.

So ‘n paar weke (maande?) later sien ek eendag ‘n nuwe deelwerk genaamd “The Art of Crochet“. Wat eintlik my oog gevang het, is die DVD wat daarmee saamkom, wat belowe om die nabyskote te wys van elke aspek van die gehekelry. Die eerste uitgawe kos ook net R9.95. Omdat ek nog steeds graag wou leer hekel (nie omdat ek hardkoppig is nie!), besluit ek dat tien rand ook nou nie soveel geld is om te betaal nie. Maar as hierdie nie werk nie, dan gee ek regtig op! Gelukkig sluit hierdie tienrandaanbod sommer ook ‘n bolletjie wol en ‘n hekelpen in.

Het my gesinslede (almal manlik) my gespot (liefderyk) toe ek hierdie deel-tydskrif te voorskyn bring en verklaar dat ek weer gaan probeer om te leer hekel. Ek het die arme DVD sat gespeel, en omtrent elke 2 sekondes eers laat wag terwyl ek weer my vingers uit die wol ontknoop. Die seuns het al die woorde van die DVD-demonstreerdame uit die kop saamgesê! Maar, raai wat? Sedert die laaste probeerslag enkele maande gelede, terwyl ek NIE probeer het nie, het my vingers skielik besluit hulle kan dit doen. Dis toe nie eintlik so moeilik nie.

Advertisements
1 Kommentaar »

%d bloggers like this: