Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Werksdag

Daar is dinge in elke huishouding wat gedoen moet word, maar niemand het ooit lus om dit te doen nie. Wat op daardie lysie is, verskil van huis tot huis – selfs in dieselfde huis van dag tot dag. Al ooit geweet die kar moet eintlik binne skoongemaak word, maar net nie lus nie? Maar op ‘n anderdag pla dit dalk nie om dit te doen nie. Wel, wat gebeur wanneer niemand ooit lus het nie? Soos die hoenderhok skoonmaak.

Soms is dit ook so dat een gesinslid ‘n werkie ophaal wat hul reken dringend gedoen moet word, maar in ‘n ander gesinslid se “departement” val, soos ‘n stukkie van die gordyn se soom wat uit is, of die gangkasdeur se skarnier wat herstel moet word. Sulke dinge kan maklik tot struweling lei – en het al meermale in ons huis!

Lank, lank gelede toe die seuns nog klein was (babas/ongebore) het ons een metode gehad om al hierdie dinge gedoen te kry. Ons het op gereelde, vasgestelde basis vergadering gehou, kompleet met notule en vorderingsverslae. Ek dink amper dit was iets soos elke tweede Maandagaand.

Elkeen van ons kon items op die aksielys byvoeg, dan het ons bespreek wie se verantwoordelikheid dit is om die volgende stap te neem. Dit het soms beteken dat ons dit vinnig Sondagaand of Maandagmiddag net voor vergadering doen, net sodat die volgende stap in die ander persoon se kamp kan val met die vergadering (soos stout skoolkinders wat hul huiswerk gou die oggend voor skool doen). Maar die werk het gedoen gekom.

In die buiteland het dinge heeltemal anders gewerk, so die vergaderings het in onbruik verval. Ons het nie eintlik daar enige stelsel gehad nie, maar dit was ook nie eintlik nodig nie. Ons het geen troeteldiere aangehou nie, doer bo in ‘n wolkekrabber gewoon, so geen tuin gehad nie… dinge was net anders.

Terug in Suid-Afrikan, met die seuns ouer en ook gereed vir verantwoordelikhede, werk die hele vergaderingstelsel net nie meer nie. Vir ‘n tydjie het ons net knorrig geraak vir mekaar as iemand neul omdat iemand anders nie hul werk doen nie (gordynsoom / deurskarnier / hoenderhok). Dis nie dat ons nie besef dit moet tog gedoen word nie, maar daar was meestal net tydsberekening-verskille. Soos iemand wat jou aan ‘n gordynsoom herinner net wanneer jy vir die eerste keer die week ‘n boek optel om bietjie te lees. Of oor die kasdeur kla op ‘n yskoue dag wanneer niemand kans sien vir werskaf nie.

Voeg daarby dat daar nie werklik tyd is in die week om dit te doen nie. Manlief is elke dag heeldag op kantoor. Ons drie doen skoolwerk. Ja, ek weet tuisskool gee mens meer ruimte vir aanpasbaarheid, maar mens kan ook nie so buigbaar wees dat daar geen tyd oor is vir skoolwerk nie! Na ‘n effe onplesierige naweek van meningsverskille het ons hard probeer dink aan ‘n nuwe oplossing. Ook een gekry:

Maandelikse werskdag. As daar enigiets is wat gedoen moet word, op gereelde basis of eenmalige instanthouding, word dit opgeskryf teen die yskasdeur. Die eerste Saterdag van elke maand mag niemand enigiets ander doen nie, na ontbyt, as om aan daardie lys te werk, totdat dit klaar gedoen is. Kom wat wil.

Gewoonlik is niemand eintlik lus nie, maar selfs dit help ‘n vreemdsoortige samehorigheid aan – ons almal werk aan dinge waarvoor ons (oorspronklik) nie eintlik lus was nie. Maar as mens nou eers eenmaal die tuinslang in die hand het en per ongeluk aspris jou familielede natspuit, dan word selfs hoenderhok skoonmaak pret! Herstelwerk aan die huis word sommer gou ‘n oomblik van onderrig, want die seuns staan tog in elk geval daar om te help. Omdat almal weet hulle kan weer ontspan na al die werk klaar is en ook weet dat dit dan klaar is vir ‘n maand, is dit goeie aansporing om dinge geDOEN te kry, sonder dat enigiemand hoef slawedrywer te speel.

As mens dan ‘n stukkende kasdeur, of soomuit-gordyn, of vuil kar raaksien deur die loop van die maand, gaan skryf jy dit maar net op die lys, en weet dit sal wel gedoen word. Sodoende mors niemand hul asem op neul en herinner nie.

Ek is redelik seker op ‘n stadium sal hierdie nie meer die ideale oplossing wees nie, en sal ons maar weer ‘n ander plan moet maak. Dan maak ons dit maar. Vir nou, werk dit vir ons!

😦 Volgende Saterdag is werksdag.

Lewer kommentaar »

Ons top tien oomblikke wat nooit in ‘n skool sou wees nie

Vandag dink ek dis tyd vir ietsie ligs, dis immers naweek! So, hier is ons top tien skool-onmoontlike leeroomblikke. Sommige is op kamera vasgevang, ander nie. Hierdie het ook nie sommer alles in een jaar gebeur nie – dis uitgestrek oor ‘n hele paar jaar. Elke huis waar daar tuisskool is, sal sy eie unieke oomblikke hê. Daar word byvoorbeeld baie gelag oor die skool-in-nagklere, wat weer iets is wat nié in ons huis gebeur nie… maar ons wangeklede skooloomblik is nog erger!

Ek sal my leeswerk in die bad doen

Tuisskool-in-bad: lekker lees

Tuisskool-in-bad: lekker lees

Vir hierdie een het ons ‘n foto. Ek het my beste probeer om die foto beskaafd te maak. Dit was ‘n warm dag en Ouboet moes nog Afrikaans lees – toe besluit hy om dit sommer te doen in die bad!

Leer chemie en kaartkunde tegelyk

Ons seuns luister baie graag na die Elemente van die Periodieke Tabel liedjie deur Asap science. Mens kan dit ook doen terwyl jy besig is met kaartkunde op Seterra. Dit is dus moontlik om chemie en kaartkunde tegelykertyd te leer. Dink net hoe die onderwysers van die twee verskillende vakke sou sukkel om terselfdertyd onderrig te gee in ‘n skool!

Gaan versorg jou troeteldiere tydens pouse

Wel, dit gebeur byna elke dag. Pouse is daar om seker te maak die hond, hoenders, visse, wurms en wat ook al op daardie oomblik aan die lewe gehou word in die huis, te gaan versorg – dit kry almal aan die beweeg en buite. Kan jy jou indink as almal pouse van die skoolterrein af hardloop om te gaan kyk of Spy Chicken se poot al beter is?!

Gaan voort met dieselfde skoolwerk in ‘n ander land

Dis seker vir my een van die grootste voordele daaraan verbonde om te tuisskool wanneer dit tyd is om te verhuis. Eers kry die seuns kans om daar te wees terwyl alles rondom hulle gebeur, deel te wees van inpak, besluite neem, dinge verkoop, weggee en weggooi, sowel as die burokrasie, dan weer die uitpak, blyplek soek en burokrasie. Maar deur dit alles bly drie dinge konstant – God, die familie en skool! Vir skoolkinders is juis dít die grootste ontwrigting. Ons gaan egter net voort met die volgende bladsy van die boek wat ons in die ander land toegemaak het.

Trek uit as jy warm kry!

Wel, ons het ‘n foto hiervan, maar daar is niks wat ek kan doen om dit beskaafd te maak nie! Teen die tyd wat alle inkriminerende dele uitgesny is, is daar nie meer ‘n foto oor nie. So ek sal dit maar moet beskryf. Ek kom om die hoek met ‘n boek vir voorlees, en tref kleinboet aan in sy Adamsgewaad! Op my vraag van “hoekom?” is die antwoord doodlogies: “Dis warm.”

Een skoolklas met ouderdomme van 2 maande tot 18 jaar

Nou sluit ek nie eens die ouers in nie. Ons het ‘n hele paar van hierdie herinnerings – van planetarium tot omgewingsbewaring! Dis ook hoe mens ‘n goeie leermeester en gesoute toerleier onderskei van die minder goeies: hoe hulle dit hanteer dat almal in die klas nie dieselfde ouderdom, geloof en skoolvlak is nie. Ek onthou veral een besoek aan ‘n planetarium waar die lektor vir meer as 3 ure daarin geslaag het om almal se aandag te hou – van die kleinste kind daar, op Mamma se skoot, tot die Mamma! Hy kon met ewe veel grasie die vrae antwoord oor buiteruimse wesens, gravitasie op ander planete en beroepsmoontlikhede. Vir my is dit ‘n wonderlike ervaring om in so ‘n gemengde groep te wees en te kan sien hoe kinders wat mekaar nie noodwendig ken nie, saamwerk oor taal- en ouderdomsgrense heen.

Stel die skooluitstappie uit tot die vakansie

Mampoerstokery tydens vakansie

Mampoer-stokery

Angorabokhaar uitstappie tydens vakansie

Angorabokhaar-uitstappie tydens vakansie

Dis nogal moeilik om te besluit watter van ons vakansieaktiwiteite is net vakansie en watter is eintlik opvoedkundig. Die grens is meestal so vaag. Niemand kla dat hierdie “skool” is en ons hou nou “vakansie” nie – die hele lewe is een aaneenlopende opvoedingsmoontlikheid.

Doen jou skoolwerk in die munisipale kantore

Hmmm… dis ‘n lang storie. Genoeg om te vertel dat ons eendag ons dag se skoolwerk, waterbottels en piekniekmiddagete gepak het en doodeenvoudig aangegaan het met ons skooldag, in die munisipale kantore, totdat iemand met die nodige senioriteit om sekere besluite te maak ons kon/wou sien. Ons was nie van plan om met ongedane sake daar te vertrek nie, maar ek wou ook nie ongeduldig raak omdat daar nog so baie is om te doen nie. Toe doen ons dit maar daar, terwyl ons wag.

Leer ‘n twee-en-halfjarige om met ‘n hamer te werk (bo-op die kombuistafel)

Houtwerk op die kombuistafel

Dis tog sekerlik teen veiligheidsreëls van openbare instellings! Om ‘n onhandige klein kind ‘n regte hamer te gee, klink na waansin, maar daar is ook ‘n storie agter. Die enigste manier om te leer was dat hul dit self doen en natuurlik wou kleinboet meemaak. O ja, en hoeveel houtwerkonnies sal toelaat dat die leerder óp die tafel sit en werk?

Dis darem nie nodig om ons te verkla as onverantwoordelike ouers nie – pa het heeltyd reg by hom gesit, gereed om in te gryp en red as dit nodig sou wees.

Klim en klouter terwyl jy vir juffrou koffie maak

Dis nou al ‘n rukkie gelede. Kleinboet moes nog óp die kaste klouter om die koffie te maak (hy het dan net vir my of ouboet geroep om die kookwater in te gooi). Op skool het ek soms vir ‘n juffrou gaan tee haal in die personeelkamer, maar dit vergelyk nie daarmee nie. Hy was partymaal skoon uitasem van die stoel-rondsleep om op te klim, dan akrobatiese toertjies om ‘n kasdeur oop te maak terwyl hy reg voor dit staan. Goeie liggaamsoefening, reken ek. Boonop kry ek ‘n koffie daaruit!

Lewer kommentaar »

Kinders verskil

Dalk dink jy nou: “Haai, oe, Blommie!” – dis mos vanselfsprekend. Maar ons het twee seuns. Hulle kom uit dieselfde genetiese poel (nature) en is in dieselfde familie grootgemaak (nurture). So hulle behoort dus redelik ooreen te kom in gedrag, reg?

Verkeerd!

Hulle is heeltemal verskillend. Een is ekstrovert, die ander introvert. Een is spaarsamig, een spandabel. Ek het reeds vertel dat hulle leerstyle nie dieselfde is nie en hulle geaardhede is SO verskillend en soms wonder ek of énigiets dieselfde is, behalwe hulle van. Hulle dink selfs in verskillende tale!

????????????????????

Hierdie foto is geneem in die middel van ‘n ete, boonop was hierdie geleentheid nie ‘n uitsonderlike geval nie, dis maar hoe etenstye lyk. Nou, dit is wel ‘n paar jaar gelede geneem en daar’s ook drie jaar ouderdomsverskil tussen hulle. Tog kan ek getuig dat nie veel verander van dié foto af tot nou toe nie. Is daar ‘n spoor van broodkrummels oor die tafel, kan jy sommer weet wie was daar. Stamp iemand per ongeluk ‘n glas van die kombuistoonbank af, vra niemand wie dit gedoen het nie. Ons weet. Tog, wanneer mens ‘n bal gooi, is dit daai einste mors-lomp-afstamp-kind wat die bal raakvang. Dit maak nie eintlik vir my sin nie, maar dis nou maar so.

Hoekom vertel ek hierdie alles? Dit beïnvloed elke dag se tuisskool. Een seun gaan kies ‘n afgesonderde tafel êrens in die huis om skriftelike werk te doen, die ander stertjie al agter my aan. Een vra oor die spelling van elke woord waaroor hy onseker is sodat hy nie fouteer nie, die ander skryf maar net en hoop dis reg. En om albei oor dieselfde kam te skeer sou rampspoedig wees!

Daarom berus ek my maar liewer daarby en probeer om hierdie dinge in ag te neem wanneer ek iets beplan. Op die ou end spaar dit net ons almal tyd, moeite en frustrasie. Dis byvoorbeeld meer leersaam vir die een om ‘n boek uit die biblioteek te leen oor ‘n onderwerp en al die teorieë te lees, daarom doen hy dit, waar die ander eerder op my skoot sal klouter (dit raak nou moeilik!) en luister na die praktiese implikasie vir alledaagse lewe, eerder as teorieë. Dit sou geen nut hê om die skootsitter te dwing om ook ‘n boek daaroor te lees nie – ek sou net aanhoudend moet neul en hy sal dit in elk geval nie inneem nie.

Tog dink ek daar is ‘n paar dinge waar mens maar op die swakplek kan konsentreer om dit op te bou. Die een is byvoorbeeld baie oplettend en die ander ‘n toe-oë-deur-die-wêreld dromer. Daar is gereeld ‘n stem vanaf die agtersitplek wat my maan dat die petrolvlak laag is, of herinner aan die spoedbeperking (veral op vreemde paaie). Dis die seun wat besig is om die vragmotor langs ons se onderstel te bestudeer op die snelweg, terwyl die ander seun nie eens weet daar is ‘n vragmotor óf snelweg naby nie! Juis daarom vra ek hom (die onoplettende dromer) om op die uitkyk te wees vir naambordjies wanneer ons ons op onbekende weë bevind. Want dis iets wat hy nodig het om eendag te kan funksioneer in die samelewing.

Party dae voel tuisskool maar soos watertrap. Soms is my kop bo, soms onder. Maar ek sal vir niks ter wêreld ophou watertrap solank ek ‘n keuse het nie!

1 kommentaar »

Tweetaligheid

Ek is Afrikaans. Heeltemal. Meer as honderd persent: grootgeword in Afrikaanse kerk, Afrikaanse dorpe, Afrikaanse skole, super-Afrikaanse familie, alles Afrikaans. Om die waarheid te sê, die dag toe ek vir die heel eerste keer iemand ontmoet wat vrywillig Engels praat (Engels-onnies uitgesluit), was ek reeds twintig jaar oud.

My man is Duits. Hy is wel in Suid-Afrika gebore, maar beide sy ouers kom uit Duitsland. Hy het dus in ‘n Duitse huis grootgeword, Duitse kerk, Duitse vriende, Duitse familie aan alle kante.

Na ons troue het ons in Johannesburg gewoon: Engelse kerk, meestal Engelssprekende vriende, beslis Engels by die werk, Engelse bure. Tydens my swangerskap met ouboet, was dit dus vanselfsprekend dat ons op ‘n dag die gesprek gehad het: watter taal gaan ons kind(ers) praat?

Ewe vanselfsprekend wil ek graag dat hulle Afrikaans praat, manlief dat hulle Duits praat, en boonop besef albei dat Engels nuttig is in die sakewêreld. Maar mense begin ons bangpraat (asof daar nog nie genoeg dinge is om amper-ouers oor bang te praat nie) oor kinders wat deurmekaar raak as hulle meertalig grootword. En, soos meeste amper-ouers, wil ons beslis die regte dinge doen om ons kinders ‘n voorsprong te gee, nie ‘n agterstand nie!

Dus, tyd vir navorsing. Ek het meer gelees oor tale as oor enige ander baba-onderwerp. Alles. Van linguïstiese “Child language acquisition in a natural environment” tot Baba-en-Kleuter se kundiges! Tot ek besluit het: Basta! met al hierdie wedersyds weersprekende akademici – dis ons kind, ons sal besluit.

Ons besluit? Een persoon, een taal. Dis ons gekose benadering – elke mens met wie die kind op gereelde basis in aanraking kom, kan maar ‘n taal praat, solank daardie persoon ALTYD dieselfde taal praat. So, ek praat met hom Afrikaans, altyd. Manlief praat met hom Duits, altyd. In teorie kan elke mens wat hy ken met hom ‘n ander taal praat, solank hulle konsekwent daardie taal praat.

Dit het beteken dat mense soms gedink het ons is onbeskof. Want al was ons in ‘n omgewing waar ander mense nie Afrikaans / Duits magtig is nie, het ons nog steeds net elke ons eie taal met hom gepraat. Daarna soms die kern van die gesprek vertaal vir die mense daarby, maar nooit, ooit met hom Engels gepraat nie. Aan die ander kant het die karwagte, winkelassistente, kassiere, Sondagskoolpersoneel en al die ander mense met wie hy kontak gehad het buitenshuis, ook altyd met hom Engels gepraat.

Net voor kleinboet gebore is, het ons met ouboet (toe pas drie jaar oud), ‘n gesprek gehad, wat soos volg geklink het: Jy weet Mamma praat altyd met jou Mamma se taal, en Pappa praat altyd met jou Pappa se taal? Wel, wanneer jou boetie daar is, gaan ons dieselfde met hom ook doen, maar dan moet jy nou kies watter taal jy met hom gaan praat, Pappa s’n of Mamma s’n, en dan moet jy altyd net daardie taal met hom praat. Nogal ‘n besluit vir ‘n driejarige! Hy het Duits gekies (dis nou die manne-taal) en so is dit nou nog, die broers praat agt jaar later steeds net Duits met mekaar.

Ja, daar was ‘n stadium waar dit dalk gelyk het of hulle bietjie agter is. As ander kinders 50 woorde in Afrikaans ken en hy ken net 40, dan lyk dit stadig. Maar hy ken ook 40 in Duits, en omtrent al 10 in Engels, so dit maak 90!

Seker een van die beste dae is die dag wat jy besef hulle “hét” dit. Met albei van hulle was hulle byna twee, dié wonderlike dag. Die dag wat jy ‘n seuntjie stuur met die woorde “Gaan sê vir Pappa hy moet kom eet.” en dan ver weg die woorde hoor: “Pappa, hmmm…. Pappa, Mamma sagt du muss essen kommen.” Dan dans jy op jou eentjie in die kombuis, wat hy hét dit. Vanself, sonder dat iemand hom moes leer om te vertaal.

Dit beteken dat ons familiegesprekke soms nogal deurmekaar kan klink vir ‘n vreemde, alhoewel ons niks buitengewoons daarin sien nie. Pa se bydraes tot die gesprek is in Duits, Ma s’n in Afrikaans, en die seuns enigeen van die twee, afhangend of hul op Ma, Pa of boetie reageer! Wanneer dit boonop ‘n Bybel-gesprek is, is al drie die manne se Bybelaanhalings boonop in Engels! Ons kom dit nie eens meer agter nie.

Daar was dae wat hy die verkeerde taal met die verkeerde persoon begin praat, en geantwoord word met “Ekskuus?” of “Entschuldigen?” en dan oorslaan na die ‘regte’ taal. Die punt is, soms was dit bietjie meer moeite om streng te bly met die een persoon, een taal beleid. Ons was nog nooit spyt dat ons daardie besluit geneem het nie!

Lewer kommentaar »

%d bloggers like this: