Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Italiaans

In ‘n vorige hoofstuk van my lewe (voor huwelik, kinders, tuisskool, huishou…) was ek op ‘n stadium aan’t soek vir iets om weer ‘n doel en uitdaging in alledaagse lewe te sit. My lewe oor die algemeen was teleurstellend en oninteressant, ek wou iets hê om oor opgewonde te raak. Toe besluit ek om Italiaans te leer. Ek wou nog altyd verstaan wat in operas aangaan! Die Italiaanse ambassade was net ‘n paar blokke van my destyds werkplek geleë en het Italiaane klasse aangebied.

Vir ‘n hele aantal maande (meer as ‘n jaar, dink ek) het ek twee maal per week by “Professore” gaan Italiaans leer. Later het ek van werk verander, ver van die ambassade, kon nie meer betyds by die klasse wees nie, het toe maar oorgeskakel na Saterdagoggende. Ek het niemand geken wat Italiaans praat nie, dus geen oefening ingekry nie anders as met myself praat, of in die klas. Tot ek op ‘n dag verlief raak op ‘n Duitser en besluit om Italiaans te los en eerder Duits te leer! Die Italiaanse grammatika- en woordeboek het in die boekrak staanplak gekry… en daar bly staan.

Later, as tuisskoolma, het die idee van klassieke tale my sterk aangetrek. Al die programme wat verkondig dat mens klassieke Grieks en Latyn moet leer, dan kan jy jou eie taal baie beter praat, het egter aanvaar dat “jou eie taal” Engels is. Nêrens kon ek inligting vind oor ‘n soortgelyke program in Afrikaans nie. Dit het ook nou nie juis gehelp dat ons toe nie in Suid-Afrika gewoon het nie! Dan voel dit ook vir my vreemd om twee “dooie tale” te leer as daar ‘n wêreld vol tale is wat mens dalk eendag met ‘n lewende medemens kan praat.

Die seuns het ek vroeg-vroeg geleer om tot by tien te tel in Italiaans. Later, soos ons ander skoolwerk doen, kon ek herhaaldelik daarna verwys, byvoorbeeld met die name van reëlmatige veelhoeke, soos dekagoon, oktagoon, ens. Ook in Engels met triangletricycle (tre = drie). Selfs desimaal (dieci = tien). Uno beteken een, en dis een van ons gereelde kaartspele! So tussendeur het ek seker maar tonne kere genoem dat soveel woorde van Latyn afkomstig is en dat Italiaans die naaste lewende taal aan Latyn is.

Eendag, omtrent middel verlede jaar, toe Ouboet iets anders in ‘n boekrak soek, kom hy op die Italiaanse handboek af… Hy bestorm my, boek in die hand, so opgewonde soos nog iets. Dis asof hy Penny is wat Medusa se Duiwelsoog-diamant (Die Redders / The Rescuers) ontdek het! Hy begin sommer onmiddelik om die boek deur te blaai en woorde uit te spreek. Eers was ek bietjie verbaas, ek weet mos ek het nog die boek..? Gelukkig, voordat ek iets kon sê wat sy entoesiasme demp, skiet onskool (unschool) 101 my te binne: die beste tyd om enigiets te leer is wanneer mens belangstel.

Na ‘n kort gesprek (Ja, ek wil SO graag Italiaans leer) het ons ooreengestem om een maal per week Italiaans-klas te hê. My Italiaans is so verroes dat ek nie eens meer een enkele sin kan uitkry nie, maar gelukkig het ek nog die boeke, en soos wat ek dit lees, kraak die nodige breinselle uit hulle roes uit. My handboek is gerig op haastige grootmense, so eintlik gebruik ons dit nie vir ons klas nie, maar dit gee my darem idees en, bo alles, help om die geroeste breinselle te olie.

Die moeilikste was om te besluit wat leer ons en in watter volgorde. Dit moet tog interessant wees (my handboek begin met etiket by paspoortbeheer en reisdokumente, nie eintlik wat seuns eerste wil leer nie). Verder moet elke nuwe stukkie kennis bydrae by die vorige, sodat hulle darem iets kan sê. Daar moet ook balans wees tussen woordeskat en grammatika. Dalk maak ek dit onnodig ingewikkeld? Hmm… Nee, wat.

Hier is wat ons tot nou toe geleer het:

  • Tel: hulle kon eintlik al tel, maar dit was ‘n prettige manier om te begin met telliedjies vanaf YouTube
  • Persoonlike voornaamwoorde: Ek is Guido. Jy is Luigi. Hy is Pinocchio. Sy is Gina…
  • Vervoer-woordeskat: fiets, kar, vragmotor, vliegtuig, trein, vuurpyl, motorfiets, huurmotor, helikopter, bagasie, kaartjie, gondel, straat, bus, boot…
  • Meervoude van vervoer: een bus, twee busse. Hierby ook ‘n verduideliking van die manlike en vroulike woordvorme van alle selfstandige naamwoorde (maklik vir hulle om te verstaan, Duits het dit ook) en hoe mens dit sommerso aan die woord kan sien, ook self kan uitwerk wat die meervoud moet wees, want Italiaans bly byna altyd by die reëls.
  • Die alfabet: verskye YouTube alfabetliedjies in Italiaans
  • Besitlike voornaamwoorde: Ek het ‘n vuurpyl. Jy het tien treine. Sy het ‘n helikopter. Julle het bagasie. Hulle het drie vuurpyle…
  • Kleure: Weereens het YouTube heelwat vrolike, interessante videomateriaal verskaf
  • Gebruik van byvoeglike naamwoorde (eintlik net die kleure, maar hoe om dit in ‘n sin te pas): Jy het ‘n blou fiets. Ek is ‘n groen motor. Dit is vyf blou helikopters.
  • Vrae met bogenoemde: Het jy ‘n rooi kar? Nee, ek het ‘n blou kar. Is dit ‘n pers trein? Nee, dit is ‘n pers vragmotor.
  • Kos-woordeskat: brood, water, kaas, tamatie, spaghetti, olywe, knoffel, olyfolie, tamatie, wyn, koffie, sout, groente, vrugte, vleis, rys. Ons fokus op algemene woorde, met net spesifieke groente of vleis wat meer Italiaans is, soos tamatie, sampioene, salami. Dit was ‘n openbaring aan hulle hoeveel koswoorde in Afrikaans kom net so uit Italiaans!
  • Soos ons die nuwe woorde leer, gebruik ons weer die vrae, telwoorde, besitting, kleur, ens. van vorige lesse

Volgende kom “Ek wil … ” sinne saam met asseblief en dankie. Die wortel voor die donkie se neus hier is dat, wanneer hulle hierdie deel onder die knie het, ons na ‘n Italiaanse restaurant sal gaan as beloning, waar hulle dan moet probeer om die spyskaart te verstaan sonder om na die Engels te kyk!

Dis seker nie nodig dat hulle ‘n volksvreemde taal aanleer as hulle alreeds een tuis praat nie. Maar… Dit kos geen ekstra geld nie, net bietjie dinkwerk en moeite, met as beloning, ekstra taalvaardigheid. Hulle herken gereeld woorde in Afrikaans, Engels en Duits wat ooreenstem met die Italiaans (Latyn) en dit spoor hulle net aan.

Hoe lank hierdie gier gaan hou, weet ek nie. So lank as wat hule nog belangstel, gaan ons aan!

Lewer kommentaar »

3 Maklike Watereksperimente

Wetenskap is pret! Leer is lekker!

As hierdie twee dinge vroeg-vroeg reeds by ‘n kind ingeskerp word, dan is die stryd reeds halfpad oorwin. Goed begonne, half gewonne. Dis ‘n belangrike doelwit in ons tuisskool-lewe (wel, eintlik bedoel ek nou die pret-deel, maar ook die goed begonne). Kinders is van nature leergierig, dit hang af of hierdie lus vir leer aangemoedig word of met verveling gesmoor word.

Seuns hou daarvan om met water te mors. Ja, ek weet tuisskoolouers wil ook nie heeldag skoonmaak en opruim na ‘n morsige leerondervinding nie. Dit hoef ook nie só morsig te wees nie en die kinders kan gerus van jongs af leer om te help opruim na die eksperimente.

Vir ons was eksperimente, veral dié met water daarby, ‘n goeie manier om te leer, maar ook terselfdertyd aan te leer dat wetenskap, en leer oor die algemeen, lekker is. Hier is drie watereksperimente vir voorskool, graad 1 of graad 2 wat byna geen voorbereiding verg nie:

Dryf of sink?

Al wat nodig is, is ‘n skottel (of bad) vol water, ‘n papier en potlood. Dis nou van ma se kant af. Dan mag die seuns 20 (dit pas goed in op ‘n folio papier) dinge kies waarmee hulle wil eksperimenteer. Ouboet skryf die name van al hierdie dinge onder mekaar neer op die papier, as die eerste kolom . (Dit tel sommer ook as spelling / Afrikaans / skrif vir die dag, want daar gaan waarskynlik woorde wees wat hy nie weet hoe om te spel nie.)

Dan moet Ouboet en Kleinboet raai watter van hierdie dinge sal dryf en watter sink, in water. Een kolom vir Ouboet se hipotese, een vir Kleinboet s’n – hy hoef net ‘n D of S te maak langs elke voorwerp. Nou vir die pret.

Hulle maak beurte om die goed in die skottel water te gooi, te kyk of dit dryf of sink, dan moet Ouboet weer die waarneming noteer.

????????????????????

Daarna kan hulle kyk hoeveel van hulle hipotese reg was, en dalk is daar ‘n besprekingspunt of twee as dinge anders was as wat hulle dink.

Wat gebeur as dit vries?

Benodigdhede: ‘n Deursigbare houer wat in die vrieskas mag gaan, ‘n rekkie wat om die houer sal pas, water en voedselkleursel.

Nou ja, die voedselkleursel is nie noodsaaklik nie, maar gekleurde water is meer pret – ook meer sigbaar.

Vul die houer gedeeltelik met water, voeg voedselkleursel by (“Cool!”). Pas dan die rekkie om die houer. Die seuns kan seker maak dat die rekkie mooi presies op die watervlak lê as merker.

Plaas dan die houer in die vrieskas (of vrieskompartement van die yskas) totdat die water gevries is. Wees daarop voorbereid dat die vrieskas of yskas ‘n honderd keer oopgemaak gaan word om te kyk of dit al gevries is!

????????????????????

Wanneer die water solied gevries is, haal dit uit, maar wees versigtig om nie die rekkie te skuif nie. Die seuns vergelyk nou die watervlak toe die water nog vloeistof was, soos gemerk deur die rekkie, met die volume noudat dit gevries is. Water sit uit wanneer dit vries!

Lug is ligter as water

Met weereens ‘n bak vol water, ‘n strooitjie en ‘n leë koeldrankblikkie, of ander houer met klein opening, is almal gereed vir nog ‘n watereksperiment!

Begin deur na die dryf of sink-eksperiment te verwys: Sal ‘n leë koeldrankblikkie dryf of sink? Wat daarvan as die blikkie vol water is? En as dit vol lug is?

Maak die koeldrankblikkie vol water en sit dit in die bak water, waar dit sink. Laat die seuns beurte maak op die strooitjie by die blikkie se opening in te steek en te blaas. twee dinge kan nie terselfdertyd dieselfde ruimte inneem nie. Ons kar kan nie wees waar ‘n ander kar reeds is nie, dan is daar ‘n ongeluk. Net so met die lugwat hulle uitblaas en die water in die blikkie – albei kan nie in die blikkie wees nie. Omdat die lug ingeblaas word, druk dit die water uit. Soos wat daar meer lug in die blikkie is, begin die blikkie hoër in die water lê totdat dit eindelik dryf. Die lug in die blikkie maak dit nou ligter as die water, daarom dryf dit.

????????????????????

Dan, om sommer ‘n ekologiese les daarby in te werk, herinner ek die seuns daaraan om nie die water sommer net in die drein af te gooi nie – dis immers nog skoon bruikbare water. Benat die potplante daarmee, vul die troeteldiere se waterbakke of selfs die toilet se watertenk!

Lewer kommentaar »

Xileem-eksperiment

Nog ‘n prettige eksperiment om te doen is dié van xileem. Xileem is die weefsel binne-in die stingel van die plant wat water en opgeloste voedingstowwe vanaf die plantwortels na die res van die plant vervoer.

Dis doodeenvoudig: gooi voedselkleursel by water, vind ‘n wit (of baie ligte) blom, en hou die blom in die water aan. Na ‘n paar dae begin die blom verkleur na gelang van die kleur water waarin dit is.

????????????????????

Dis die ideale eksperiment om te doen as jy níé ‘n groot gemors in die kombuis wil hê die dag nie, maar nie jou seuns se opgewondenheid kan teleurstel nie as hulle die rooster bekyk en uitroep: “Jippie! Volgende is wetenskap. Watse eksperiment doen ons vandag, Mamma?”

Omdat ons al voorheen eksperimente gedoen het oor verdamping en die seuns dus bewus is daarvan, het ons die meeste van die fles se bek toegeplak met maskeerband. Dit bewys dan ook dat die plant die water opgebruik, dit verdamp nie sommer maar net nie. Boonop help dit om die blom bo water te hou.

Hopelik help hierdie ‘n haastige mamma om eendag kop bo water te hou!

Lewer kommentaar »

Blaas ‘n blik, oftewel, gekanaliseerde energie

Daar kan baie energie wees, maar geen aksie. Dit tel wel ook vir mense, maar eintlik gaan hierdie inskrywing oor die wind. Soms kan die wind waai en waai, maar mens sien geen duidelike reaksie, byvoorbeeld ‘n waaier in ‘n groot vertrek op ‘n snikhete dag. Neem mens egter daardie selfde energie en kanaliseer dit op ‘n meer doeltreffende manier, dan skielik is daar duidelike reaksie. Dieselfde waaier geplaas dat die wind teen die plafon of muur weerkaats, of gebruik in ‘n kleiner vertrek, kan tog ‘n verskil maak.

Ons het hierdie bewys met ‘n wetenskap-eksperiment:

Jy kan nie sommer ‘n vol blik met jou asem omblaas nie

Neem ‘n toe blik blikkieskos en plaas dit op die tafel. Laat al die kinders ‘n beurt kry om so hard as moontlik te blaas en probeer om die blik om te blaas. Hulle kan selfs tesame blaas. Die blik bly staan… wel, ons kon dit nie omgeblaas kry nie.

Kanaliseer die energie????????????????????

Neem nou ‘n strooitjie, ballon en rekkie. Blaas die ballon ‘n keer of twee op om die oorspronklike styfheid te verminder. Steek die strooitjie by die bek van die ballon in. Wikkel die rekkie ‘n paar maal daarom om dit stewig bymekaar te hou – nie te veel nie, anders druk dit dalk die strooitjie se opening toe!

Die strooitjie en ballon is nou die gereedskap waarmee verder gewerk gaan word.

Plaas die blik bo-op die ballon en laat die kinders weer probeer om dit om te blaas deur net gewoonweg daarteen te blaas. Dit bewys dat dit nie die feit is dat die blik op ‘n ballon staan wat die blik laat omval nie. Met die blote asem (ongekanaliseer) bly die blik steeds staan.

Resultate

Tuisskool Eksperiment - blaas 'n blik om

Tuisskool Eksperiment – blaas ‘n blik om

Met die blik bo-op die ballon, blaas nou by die strooitjie in. Die blik val sommer maklik om! Waarom? Die energie word nou meer doeltreffend aangewend deur dit met die strooitjie tot in die ballon te kanaliseer. Die energie kan dus vermors word deur groot hoeveelhede te gebruik, maar ondoeltreffend. Of baie minder, maar doeltreffend. Dieselfde geld vir alle energie, of dit nou elektrisiteit, wind, water, of tuisskool is!

Wees daarop voorbereid dat die blik soveel keer omgeblaas gaan word dat dit induik met die vallery, en jy dit as deel van aandete moet inspan! Ook dat allerhande ander dinge ook ‘n beurt gaan kry om omgeblaas te (probeer) word.

Ons het hierdie eksperiment gedoen toe die seuns maar 6 en 3 jaar oud was. Hulle het dit vreeslik geniet en daarby ook aangeleer dat wetenskap pret is!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – 1 tot 10

Daar is verskeie menings oor waar die vorming van nommers nou eintlik hoort – as Wiskunde of as skrif.

Ek stem saam met diegene wat die skryf van die nommers klassifiseer as ‘n skrifoefening. Om te weet hoeveel is agt (die betekenis van die woord) is Wiskunde; om die nommer te kan skryf, en te oefen om dit netjies te kan skryf, is skrif.

Veral kinders wat nie daarvan hou om te skryf nie, ontwikkel maklik ‘n hekel aan wiskunde wanneer wiskunde gebruik word as skrifoefening. Verder is daar nie veel nut in om ‘n hele ry 3’s, dan ‘n ry 4’s te maak elke keer voordat jy ‘n paar somme maak nie – dit word meestal net afgerammel, en help nie om netjiese skrif aan te leer nie. Nou ja, dis my storie en ek bly daarby – hierdie inskrywing is nie daar om ‘n debat aan die gang te sit nie!

So, elke mens kan gerus hul eie opinie oor die saak hê! Hier is die werksblaaie wat ek gemaak het toe ons seuns se tuisskool nog op voorskoolse vlak was:

Nommer 1

Nommer 2

Nommer 3

Nommer 4

Nommer 5

Nommer 6

Nommer 7

Nommer 8

Nommer 9

Nommer 10

Soos wat ek reeds genoem het, vind ek dat dit meer voordelig is om ‘n klein hoeveelheid skryfwerk netjies te doen as ‘n bladsy vol te skryf wat al hoe slordiger daar uitsien soos die kind al hoe minder lus is om dit te doen. Daarom is die drukstukke kort en duidelik.

Lekker tuisskool!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – U tot Z

Nadat ons minstens eenmaal die werksblaaie van al die letters en nommers gedoen het, het ons die voltooide werksblaaie in ‘n boek saamgebind en dit in daardie seun se kamer gaan neersit.

Omdat hy trots is op wat hy gedoen het, kyk hy soms daarna vir ‘n hele tydjie nadat dit voltooi is en trek soms die letters weer na met sy vinger, of met kleurpotlood bo-oor die voorheen gedoende grys potlood. Op hierdie manier word die letters deur die vakansie ingeskerp uit vrye wil, wat ‘n baie kragtige manier is van leer.

Enige prentjies wat hy nog nie ingekleur het nie, kan hy ook nou inkleur, wat ook fyn motoriese spierbeheer oefen. Beide ons seuns hou nie daarvan om in te kleur wanneer hulle moet nie, maar kleur graag in wanneer hulle lus voel om dit te doen.

Die einddoel hiervan is tweeledig: eerstens om trots te kweek op voltooide werk, tweedens om die volgende jaar se hersiening te vergemaklik. Omdat die letters nog bekend is, is daar dan minder tyd nodig om hulle weer te leer, en kan vinniger voortgegaan word met nuwe werk.

Die laaste ses letters van die alfabet:

U is vir uniform, Uniform & uniform (weer in Afrikaans, Duits en Engels)

V is vir vulkaan, Vulkan & volcano

W is vir walvis, Wal & whale

X is vir xilofoon, Xylophon & xylophone

Y is vir ys (die onmoontlikste letter om in al drie tale ‘n gewone woord voor te vind!)

Z is vir Zoeloe, Zulu & Zulu

Volgende inskrywing handel oor voorskoolse oefening van nommers!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – P tot T

Soos tekstuur gehelp het om ouboet te leer, so werk beweging weer vir kleinboet. Hy het ook die tekstuurkaarte nagetrek, maar dit was eerder agter die skootsittery aan as enigiets anders.

Vir hom het dit gehelp om die letters fisies te maak: met sy hande, met sy voete of met sy hele liggaam. Hy moes iets optel of trap of rondbeweeg om dit te máák. Of dit nou was met groot stukke karton wat in die nodige vorms gesny is, volgens Handwriting Without Tears se patroon, of met spaghetti wanneer die letter nie kurwes het nie, of selfs met swembadnoedels vir hierdie letters – hy wou dit uitpak.

Op beddegoed-wasdag het ons eers die lakens gebruik om die dag se letter uit te pak voordat dit in die wasmasjien beland het. Dis veral nuttig vir die geboogde letters, soos C, O, G en J.

Wanneer ons verby ‘n swembad gestap het, het ons eers ons voete in die water gedruk en dan letters gestap op die plaveisel langsaan – die nat voetspore vorm duidelike letters, maar word gou weer droog (so daar is geen vandalisme nie). Dieselfde geld vir ‘n stappie op die strand (of in ‘n sandput) waar die sand gelyk is, deur met hak-teen-toon voetspore, of deur een voet in die sand gesleep, die letters te stap.

Soms het ons groot letters gemaak, ‘n paar treë hoog, soos deur met ‘n stok in die grond te krap. Soms was dit kleiner, soos met gebreekte stukke ontbytkos (bv. Otees). Soms was dit plat figure, soos die voetspore of sleepmerke, soms driedimensioneel, gepak met takke, blare, klippe, kos of wasgoed. Solank dit net grootmotoriese liggaamsbeweging ingesluit het… meer soos speel as soos skool.   🙂

Die vorige vyf werksblaaie vir voorskoolse drukskrif-hoofletters, is hier beskikbaar. Hier is dan die drukstukke vir letters P tot T:

P is vir pan, Pfanne & pan (Afrikaans, Duits & Engels)

Q is vir Qatar lugredery. (Gedurende die tyd wat ons in die buiteland gewoon het, was hierdie volgens die seuns die beste lugredery, en dus vir my ‘n maklike oplossing vir die problematiese letter Q!)

R is vir reënboog, Regenbogen & rainbow

S is vir slang, Schlange & snake

T is vir tafel, Tisch & table

Volgende keer die laaste ses letters. Ek hoop dit help êrens iemand om ‘n makliker dag se tuisskool te kan geniet!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – K tot O

Tekstuur is baie belangrik vir ouboet. Hy eet nie sommige kosse nie, omdat die tekstuur hom naar maak. Hy dra nie graag sommige klere nie, want “dit voel nie lekker op my vel nie” (so hy moet maar liewers klaar aanpas in die winkel voordat dit gekoop word!).

Siende dat hy dus so gevoelig is vir tekstuur, het ek besluit om dit in te span. Ek het stewige karton gebruik (soos die agterblad van ‘n eksamenblok) en in groot blokke gesny, omtent so 10cm x 7cm. Daarop het ek dan die letters geteken, eers in potlood sodat ek nog foute kon regmaak, een per blok. Bo-oor die potlood dan nagetrek met omlyner (“liner”), ‘n dik een, soos met glasverf of materiaalverf. Nadat die omlyner droog was, het ek die klein nommertjies, wat volgorde aandui, ingevul met ‘n gewone swart pen.

Wanneer ons vir die eerste keer die skryf van ‘n nuwe letter oefen, het ons dit eers met die vinger op hierdie tekstuur-blokke nagetrek. Die omlyner maak ‘n duidelik voelbare riffel en die klonte in die goedkoop, veeldoelige omlyner wat ek gebruik het, het dit net versterk. ‘n Paar herhalings van die natrekbeweging help om die letter se vorm, sowel as die volgorde van die bewegings, in te skerp nog voordat hy moes begin skryf.

Omdat die blokke ook groter is as wat die letters uiteindelik op papier sal wees, is dit verder byna grootmotoriese beweging. Ouboet het gewoonlik op my skoot gesit, op ‘n stoel weg van ‘n tafel. Met niks om jou elmboog op te steun nie, moet mens jou hele arm beweeg om die letters na te trek, nie net ‘n vinger nie.

Die tekstuurletters se vorm en voorkoms stem ook ooreen met die werskblaaie, wat help om kontinuïteit te verleen.

Hier is die aflaaibare werksblaaie vir die voorskoolse drukskrif-hoofletters wat ek gemaak het:

K is vir kangaroe, Känguru, kangaroo

L is vir lorrie, Lastwagen & lorry

M is vir muis, Maus & mouse

N is vir neute, Nüsse & nuts

O is vir orrel, Orgel & organ (daar is nie baie woorde wat met ‘O’ begin in Afrikaans, Duits & Engels nie!)

Die vorige vyf letters is steeds hier beskikbaar, en die volgende vyf hier (binnekort), saam met idees wat inpas by kleinboet se kinetiese leer.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – F tot J

Hou skrifoefening kort! Dis seker die belangrikste les wat ek geleer het uit dure ondervinding. Gewoonlik wanneer my seun sy skrif vinnig en netjies afgehandel het, was my eerste instink om te dink dat dit te min of te maklik was en dan ‘n tweede bladsy uit te deel. Dit beteken eintlik ek beloon goeie werk met nog meer werk!

Gelukkig het besef dat dit glad nie aanmoedigend is nie. Wanneer ‘n seun vinnige, netjiese werk lewer, beloon hom met iets positiefs, soos: “Dit is so pragtig gedoen, jy mag nou vir tien minute gaan trampolien spring.” Deur vir hom net nog meer werk te gee, leer jy hom dat dit nie help om sy werk die eerste keer vinnig en reg te doen nie, dat daar geen voordeel in is nie. So kan mens selfs in iets soos die reaksie op skrif wat gedoen word, positiewe werksetiek stimuleer, of nie.

Nog iets wat hierby aansluit, is dat een sin wat netjies en reg geskryf is, baie meer werd is as ‘n bladsy vol haastige gekrabbel. Daar is areas van onderrig waar ‘n flink werkstempo belangrik is, maar nie in skrif nie. Kwaliteit baie beslis bo kwantiteit in hierdie geval. Doen eerder ‘n klein bietjie, maar konsentreer daarop om dit na die beste van jou vermoë te doen, daaruit leer jy tog iets!

Dis een van die redes waarom daar nie op my voorskoolse werksblaaie rye en rye natrekke per letter is om te oefen nie. Doen eerder ‘n klein aantal korrek. Trek eers die voorbeeldletter (in die hoek links bo) ‘n paar keer na met die vinger, in die volgorde soos aangedui, sodat die vorm van die letter reeds bekend is wanneer daar die eerste keer ‘n potlood gebruik word.

Verlede keer het ek werksblaaie A tot E as gratis drukstukke aangebied, hier is nou F tot J:

F is vir fiets & Fahrrad

G is vir gorilla, Gorilla & gorilla (Afrikaans, Duits en Engels!)

H is vir huis, Haus & house

I is vir igloe, Iglu & igloo

J is vir jagluiperd

Volgende keer ‘n stukkie raad oor tekstuur, saam met die volgende vyf hoofletters.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – A tot E

Saam met die kurrikulum-in-‘n-boks het ons ook Handwriting Without Tears bestel, omdat meer as een tuisskoolma dit aanbeveel het. Ons het egter net die onderwysgids bestel, sodat ek eers daardeur kon lees en besluit of dit ons ook sou pas, voordat ons die werksboeke koop.

Volgens my is dit ‘n wonderlike, praktiese manier om kinders te leer skryf. Eerstens is daar die hele gedagte dat alle hoofletters uit vier vorms (kort lyn, lang lyn, klein kurwe, groot kurwe) saamgestel is. Dit maak onmiddellik die wêreld van letters eenvoudiger.

Tweedens organiseer hulle letters wat dieselfde begin, bymekaar. In plaas daarvan om te sê dat M en N kinders sal deurmekaar maak en hulle ver uitmekaar te behandel, sit hulle dit juis bymekaar omdat dit byna dieselfde is. Voordat ek nou die hele boek hier oortik in my opgewondenheid, sal ek dit maar liewer daar laat.

Ongelukkig het omstandighede verander voordat ons die werkboeke en houtvorms kon koop. Dus was ek genoodsaak om maar net ‘n alternatiewe plan te maak. Met dit wat ek reeds geleer het uit HWT,  tesame met die lees van Ruth Beechick se boek The Three R’s en die raadpleeg van elke gratis skrif-werksblad wat ek op die internet kon opspoor, was ek gereed om nou my eie voorskoolse drukskrif-werksblaaie aanmekaar te slaan, spesifiek gerig op ons Suid-Afrikaanse seuns.

Meestal het die prentjies op elke blad ooreengestem met ons eie alfabet-prente, sodat dit geldig kan wees in Afrikaans, Duits en Engels. Omdat ek afhanklik was van prente wat hergebruik kon word sonder om kopiereg te skend, (en ek glad nie self kan teken nie, ook nie op ‘n rekenaar nie) moes ek hier en daar maar ‘n ander woord kies. Maar hulle almal werk in Afrikaans!

Dus,  A is vir appel, Apfel & apple

B is vir boot, Boot & boat

C is vir clown (kroek, ek weet, maar dié woord word tog in alle tale gebruik, of dit nou eintlik daar hoort of nie)

D is vir dolfyn, Delfin & dolphin

E is vir emmer & Eimer

Volgende keer ietsie wat ek swaar moes leer oor skrifoefening, saam met die werksblaaie van nog ‘n paar hoofletters.

Lewer kommentaar »

%d bloggers like this: