Wetenskap is pret! Leer is lekker!
As hierdie twee dinge vroeg-vroeg reeds by ‘n kind ingeskerp word, dan is die stryd reeds halfpad oorwin. Goed begonne, half gewonne. Dis ‘n belangrike doelwit in ons tuisskool-lewe (wel, eintlik bedoel ek nou die pret-deel, maar ook die goed begonne). Kinders is van nature leergierig, dit hang af of hierdie lus vir leer aangemoedig word of met verveling gesmoor word.
Seuns hou daarvan om met water te mors. Ja, ek weet tuisskoolouers wil ook nie heeldag skoonmaak en opruim na ‘n morsige leerondervinding nie. Dit hoef ook nie só morsig te wees nie en die kinders kan gerus van jongs af leer om te help opruim na die eksperimente.
Vir ons was eksperimente, veral dié met water daarby, ‘n goeie manier om te leer, maar ook terselfdertyd aan te leer dat wetenskap, en leer oor die algemeen, lekker is. Hier is drie watereksperimente vir voorskool, graad 1 of graad 2 wat byna geen voorbereiding verg nie:
Dryf of sink?
Al wat nodig is, is ‘n skottel (of bad) vol water, ‘n papier en potlood. Dis nou van ma se kant af. Dan mag die seuns 20 (dit pas goed in op ‘n folio papier) dinge kies waarmee hulle wil eksperimenteer. Ouboet skryf die name van al hierdie dinge onder mekaar neer op die papier, as die eerste kolom . (Dit tel sommer ook as spelling / Afrikaans / skrif vir die dag, want daar gaan waarskynlik woorde wees wat hy nie weet hoe om te spel nie.)
Dan moet Ouboet en Kleinboet raai watter van hierdie dinge sal dryf en watter sink, in water. Een kolom vir Ouboet se hipotese, een vir Kleinboet s’n – hy hoef net ‘n D of S te maak langs elke voorwerp. Nou vir die pret.
Hulle maak beurte om die goed in die skottel water te gooi, te kyk of dit dryf of sink, dan moet Ouboet weer die waarneming noteer.
Daarna kan hulle kyk hoeveel van hulle hipotese reg was, en dalk is daar ‘n besprekingspunt of twee as dinge anders was as wat hulle dink.
Wat gebeur as dit vries?
Benodigdhede: ‘n Deursigbare houer wat in die vrieskas mag gaan, ‘n rekkie wat om die houer sal pas, water en voedselkleursel.
Nou ja, die voedselkleursel is nie noodsaaklik nie, maar gekleurde water is meer pret – ook meer sigbaar.
Vul die houer gedeeltelik met water, voeg voedselkleursel by (“Cool!”). Pas dan die rekkie om die houer. Die seuns kan seker maak dat die rekkie mooi presies op die watervlak lê as merker.
Plaas dan die houer in die vrieskas (of vrieskompartement van die yskas) totdat die water gevries is. Wees daarop voorbereid dat die vrieskas of yskas ‘n honderd keer oopgemaak gaan word om te kyk of dit al gevries is!
Wanneer die water solied gevries is, haal dit uit, maar wees versigtig om nie die rekkie te skuif nie. Die seuns vergelyk nou die watervlak toe die water nog vloeistof was, soos gemerk deur die rekkie, met die volume noudat dit gevries is. Water sit uit wanneer dit vries!
Lug is ligter as water
Met weereens ‘n bak vol water, ‘n strooitjie en ‘n leë koeldrankblikkie, of ander houer met klein opening, is almal gereed vir nog ‘n watereksperiment!
Begin deur na die dryf of sink-eksperiment te verwys: Sal ‘n leë koeldrankblikkie dryf of sink? Wat daarvan as die blikkie vol water is? En as dit vol lug is?
Maak die koeldrankblikkie vol water en sit dit in die bak water, waar dit sink. Laat die seuns beurte maak op die strooitjie by die blikkie se opening in te steek en te blaas. twee dinge kan nie terselfdertyd dieselfde ruimte inneem nie. Ons kar kan nie wees waar ‘n ander kar reeds is nie, dan is daar ‘n ongeluk. Net so met die lugwat hulle uitblaas en die water in die blikkie – albei kan nie in die blikkie wees nie. Omdat die lug ingeblaas word, druk dit die water uit. Soos wat daar meer lug in die blikkie is, begin die blikkie hoër in die water lê totdat dit eindelik dryf. Die lug in die blikkie maak dit nou ligter as die water, daarom dryf dit.
Dan, om sommer ‘n ekologiese les daarby in te werk, herinner ek die seuns daaraan om nie die water sommer net in die drein af te gooi nie – dis immers nog skoon bruikbare water. Benat die potplante daarmee, vul die troeteldiere se waterbakke of selfs die toilet se watertenk!