Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Drukskrif: Voorskool – K tot O

Tekstuur is baie belangrik vir ouboet. Hy eet nie sommige kosse nie, omdat die tekstuur hom naar maak. Hy dra nie graag sommige klere nie, want “dit voel nie lekker op my vel nie” (so hy moet maar liewers klaar aanpas in die winkel voordat dit gekoop word!).

Siende dat hy dus so gevoelig is vir tekstuur, het ek besluit om dit in te span. Ek het stewige karton gebruik (soos die agterblad van ‘n eksamenblok) en in groot blokke gesny, omtent so 10cm x 7cm. Daarop het ek dan die letters geteken, eers in potlood sodat ek nog foute kon regmaak, een per blok. Bo-oor die potlood dan nagetrek met omlyner (“liner”), ‘n dik een, soos met glasverf of materiaalverf. Nadat die omlyner droog was, het ek die klein nommertjies, wat volgorde aandui, ingevul met ‘n gewone swart pen.

Wanneer ons vir die eerste keer die skryf van ‘n nuwe letter oefen, het ons dit eers met die vinger op hierdie tekstuur-blokke nagetrek. Die omlyner maak ‘n duidelik voelbare riffel en die klonte in die goedkoop, veeldoelige omlyner wat ek gebruik het, het dit net versterk. ‘n Paar herhalings van die natrekbeweging help om die letter se vorm, sowel as die volgorde van die bewegings, in te skerp nog voordat hy moes begin skryf.

Omdat die blokke ook groter is as wat die letters uiteindelik op papier sal wees, is dit verder byna grootmotoriese beweging. Ouboet het gewoonlik op my skoot gesit, op ‘n stoel weg van ‘n tafel. Met niks om jou elmboog op te steun nie, moet mens jou hele arm beweeg om die letters na te trek, nie net ‘n vinger nie.

Die tekstuurletters se vorm en voorkoms stem ook ooreen met die werskblaaie, wat help om kontinuïteit te verleen.

Hier is die aflaaibare werksblaaie vir die voorskoolse drukskrif-hoofletters wat ek gemaak het:

K is vir kangaroe, Känguru, kangaroo

L is vir lorrie, Lastwagen & lorry

M is vir muis, Maus & mouse

N is vir neute, Nüsse & nuts

O is vir orrel, Orgel & organ (daar is nie baie woorde wat met ‘O’ begin in Afrikaans, Duits & Engels nie!)

Die vorige vyf letters is steeds hier beskikbaar, en die volgende vyf hier (binnekort), saam met idees wat inpas by kleinboet se kinetiese leer.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – F tot J

Hou skrifoefening kort! Dis seker die belangrikste les wat ek geleer het uit dure ondervinding. Gewoonlik wanneer my seun sy skrif vinnig en netjies afgehandel het, was my eerste instink om te dink dat dit te min of te maklik was en dan ‘n tweede bladsy uit te deel. Dit beteken eintlik ek beloon goeie werk met nog meer werk!

Gelukkig het besef dat dit glad nie aanmoedigend is nie. Wanneer ‘n seun vinnige, netjiese werk lewer, beloon hom met iets positiefs, soos: “Dit is so pragtig gedoen, jy mag nou vir tien minute gaan trampolien spring.” Deur vir hom net nog meer werk te gee, leer jy hom dat dit nie help om sy werk die eerste keer vinnig en reg te doen nie, dat daar geen voordeel in is nie. So kan mens selfs in iets soos die reaksie op skrif wat gedoen word, positiewe werksetiek stimuleer, of nie.

Nog iets wat hierby aansluit, is dat een sin wat netjies en reg geskryf is, baie meer werd is as ‘n bladsy vol haastige gekrabbel. Daar is areas van onderrig waar ‘n flink werkstempo belangrik is, maar nie in skrif nie. Kwaliteit baie beslis bo kwantiteit in hierdie geval. Doen eerder ‘n klein bietjie, maar konsentreer daarop om dit na die beste van jou vermoë te doen, daaruit leer jy tog iets!

Dis een van die redes waarom daar nie op my voorskoolse werksblaaie rye en rye natrekke per letter is om te oefen nie. Doen eerder ‘n klein aantal korrek. Trek eers die voorbeeldletter (in die hoek links bo) ‘n paar keer na met die vinger, in die volgorde soos aangedui, sodat die vorm van die letter reeds bekend is wanneer daar die eerste keer ‘n potlood gebruik word.

Verlede keer het ek werksblaaie A tot E as gratis drukstukke aangebied, hier is nou F tot J:

F is vir fiets & Fahrrad

G is vir gorilla, Gorilla & gorilla (Afrikaans, Duits en Engels!)

H is vir huis, Haus & house

I is vir igloe, Iglu & igloo

J is vir jagluiperd

Volgende keer ‘n stukkie raad oor tekstuur, saam met die volgende vyf hoofletters.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – A tot E

Saam met die kurrikulum-in-‘n-boks het ons ook Handwriting Without Tears bestel, omdat meer as een tuisskoolma dit aanbeveel het. Ons het egter net die onderwysgids bestel, sodat ek eers daardeur kon lees en besluit of dit ons ook sou pas, voordat ons die werksboeke koop.

Volgens my is dit ‘n wonderlike, praktiese manier om kinders te leer skryf. Eerstens is daar die hele gedagte dat alle hoofletters uit vier vorms (kort lyn, lang lyn, klein kurwe, groot kurwe) saamgestel is. Dit maak onmiddellik die wêreld van letters eenvoudiger.

Tweedens organiseer hulle letters wat dieselfde begin, bymekaar. In plaas daarvan om te sê dat M en N kinders sal deurmekaar maak en hulle ver uitmekaar te behandel, sit hulle dit juis bymekaar omdat dit byna dieselfde is. Voordat ek nou die hele boek hier oortik in my opgewondenheid, sal ek dit maar liewer daar laat.

Ongelukkig het omstandighede verander voordat ons die werkboeke en houtvorms kon koop. Dus was ek genoodsaak om maar net ‘n alternatiewe plan te maak. Met dit wat ek reeds geleer het uit HWT,  tesame met die lees van Ruth Beechick se boek The Three R’s en die raadpleeg van elke gratis skrif-werksblad wat ek op die internet kon opspoor, was ek gereed om nou my eie voorskoolse drukskrif-werksblaaie aanmekaar te slaan, spesifiek gerig op ons Suid-Afrikaanse seuns.

Meestal het die prentjies op elke blad ooreengestem met ons eie alfabet-prente, sodat dit geldig kan wees in Afrikaans, Duits en Engels. Omdat ek afhanklik was van prente wat hergebruik kon word sonder om kopiereg te skend, (en ek glad nie self kan teken nie, ook nie op ‘n rekenaar nie) moes ek hier en daar maar ‘n ander woord kies. Maar hulle almal werk in Afrikaans!

Dus,  A is vir appel, Apfel & apple

B is vir boot, Boot & boat

C is vir clown (kroek, ek weet, maar dié woord word tog in alle tale gebruik, of dit nou eintlik daar hoort of nie)

D is vir dolfyn, Delfin & dolphin

E is vir emmer & Eimer

Volgende keer ietsie wat ek swaar moes leer oor skrifoefening, saam met die werksblaaie van nog ‘n paar hoofletters.

Lewer kommentaar »

Tweetaligheid: leer lees

A is vir appel, B is vir bal… dis waar in Afrikaans, Engels en Duits. Maar R is nie vir altyd vir roomys nie. Soms is ‘E’ vir roomys en soms ‘I’.

Toe ouboet begin om deur prentewoordeboeke te blaai, en dit hardop te “lees” volgens die prentjies, het ons besef hier is ‘n probleem. Wanneer hy my ‘n ‘P’ wys, dan antwoord ek: “P, vir piesang”. Die aand kom Manlief tuis en ouboet storm op hom af, boek in die hand, wys trots na die ‘P’ en spog: “P, für Banane.” Dit was baie deurmekaar vir die knapie. Waarom is die prentjie van die vlermuis op die ‘V’ bladsy wanneer hy saam met Mamma lees, die ‘F’ bladsy wanneer Pappa lees, en in my maatjie se boek op die ‘B’ bladsy? Ander woorde, soos huis, gorilla en xilofoon, bly weer op dieselfde bladsy! Woordewêreld was ‘n baie deurmekaar plek.

Ons het gou besef hier kom ‘n groot verwarring, wat leer-om-te-lees in ‘n nagmerrie gaan verander. Gelukkig was daar ‘n vakansie in die Kruger-wildtuin om die draai. Dis net die regte plek om te dink terwyl jou oë die diere soek. Gewapen met notaboekie en potlood, het ons die vakansie benut om ook so tussenin ons eie alfabet saam te stel. Een met prentjies wat by dieselfde letter pas in al drie “ons” tale. Die vakansieweek was deurspek met uitroepe soos “Flamink! Dit werk!” en vreemde versoeke: “Noem vir my al die Duitse naamwoorde waaraan jy kan dink wat met ‘C’ begin, asseblief.”

Terug tuis was ons alfabet gereed. Met ‘n bietjie kreatiewe kroek hier en daar, vernaamlik die ‘C’, ‘Q’ en ‘Y’. Eers moes inkleurboeke, kunsboeke en hier en daar manlief se hulp ingeroep word om prentjies te kry van al die woorde. (Ek kan nie teken nie). Daarna is aftrek-vensterverf ingespan om ouboet se kamervenster te verander in ‘n alfabetplakkaat.

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Die prentjies is ook geteken en ingekleur in ons eie papierwoordeboek. Later ek weer dieselfde prentjies gebruik om ‘n alfabetplakkaat te maak. Weer toe hulle leer lees het, om klein konsertinaboekies te prakseer. Weereens toe ek werksblaaie vir drukskrif gemaak het. Daardie vakansie se dinkwerk het nog vir baie lank vruggedra!

Nabyskoot van 'n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Nabyskoot van ‘n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Lewer kommentaar »

Tweetaligheid

Ek is Afrikaans. Heeltemal. Meer as honderd persent: grootgeword in Afrikaanse kerk, Afrikaanse dorpe, Afrikaanse skole, super-Afrikaanse familie, alles Afrikaans. Om die waarheid te sê, die dag toe ek vir die heel eerste keer iemand ontmoet wat vrywillig Engels praat (Engels-onnies uitgesluit), was ek reeds twintig jaar oud.

My man is Duits. Hy is wel in Suid-Afrika gebore, maar beide sy ouers kom uit Duitsland. Hy het dus in ‘n Duitse huis grootgeword, Duitse kerk, Duitse vriende, Duitse familie aan alle kante.

Na ons troue het ons in Johannesburg gewoon: Engelse kerk, meestal Engelssprekende vriende, beslis Engels by die werk, Engelse bure. Tydens my swangerskap met ouboet, was dit dus vanselfsprekend dat ons op ‘n dag die gesprek gehad het: watter taal gaan ons kind(ers) praat?

Ewe vanselfsprekend wil ek graag dat hulle Afrikaans praat, manlief dat hulle Duits praat, en boonop besef albei dat Engels nuttig is in die sakewêreld. Maar mense begin ons bangpraat (asof daar nog nie genoeg dinge is om amper-ouers oor bang te praat nie) oor kinders wat deurmekaar raak as hulle meertalig grootword. En, soos meeste amper-ouers, wil ons beslis die regte dinge doen om ons kinders ‘n voorsprong te gee, nie ‘n agterstand nie!

Dus, tyd vir navorsing. Ek het meer gelees oor tale as oor enige ander baba-onderwerp. Alles. Van linguïstiese “Child language acquisition in a natural environment” tot Baba-en-Kleuter se kundiges! Tot ek besluit het: Basta! met al hierdie wedersyds weersprekende akademici – dis ons kind, ons sal besluit.

Ons besluit? Een persoon, een taal. Dis ons gekose benadering – elke mens met wie die kind op gereelde basis in aanraking kom, kan maar ‘n taal praat, solank daardie persoon ALTYD dieselfde taal praat. So, ek praat met hom Afrikaans, altyd. Manlief praat met hom Duits, altyd. In teorie kan elke mens wat hy ken met hom ‘n ander taal praat, solank hulle konsekwent daardie taal praat.

Dit het beteken dat mense soms gedink het ons is onbeskof. Want al was ons in ‘n omgewing waar ander mense nie Afrikaans / Duits magtig is nie, het ons nog steeds net elke ons eie taal met hom gepraat. Daarna soms die kern van die gesprek vertaal vir die mense daarby, maar nooit, ooit met hom Engels gepraat nie. Aan die ander kant het die karwagte, winkelassistente, kassiere, Sondagskoolpersoneel en al die ander mense met wie hy kontak gehad het buitenshuis, ook altyd met hom Engels gepraat.

Net voor kleinboet gebore is, het ons met ouboet (toe pas drie jaar oud), ‘n gesprek gehad, wat soos volg geklink het: Jy weet Mamma praat altyd met jou Mamma se taal, en Pappa praat altyd met jou Pappa se taal? Wel, wanneer jou boetie daar is, gaan ons dieselfde met hom ook doen, maar dan moet jy nou kies watter taal jy met hom gaan praat, Pappa s’n of Mamma s’n, en dan moet jy altyd net daardie taal met hom praat. Nogal ‘n besluit vir ‘n driejarige! Hy het Duits gekies (dis nou die manne-taal) en so is dit nou nog, die broers praat agt jaar later steeds net Duits met mekaar.

Ja, daar was ‘n stadium waar dit dalk gelyk het of hulle bietjie agter is. As ander kinders 50 woorde in Afrikaans ken en hy ken net 40, dan lyk dit stadig. Maar hy ken ook 40 in Duits, en omtrent al 10 in Engels, so dit maak 90!

Seker een van die beste dae is die dag wat jy besef hulle “hét” dit. Met albei van hulle was hulle byna twee, dié wonderlike dag. Die dag wat jy ‘n seuntjie stuur met die woorde “Gaan sê vir Pappa hy moet kom eet.” en dan ver weg die woorde hoor: “Pappa, hmmm…. Pappa, Mamma sagt du muss essen kommen.” Dan dans jy op jou eentjie in die kombuis, wat hy hét dit. Vanself, sonder dat iemand hom moes leer om te vertaal.

Dit beteken dat ons familiegesprekke soms nogal deurmekaar kan klink vir ‘n vreemde, alhoewel ons niks buitengewoons daarin sien nie. Pa se bydraes tot die gesprek is in Duits, Ma s’n in Afrikaans, en die seuns enigeen van die twee, afhangend of hul op Ma, Pa of boetie reageer! Wanneer dit boonop ‘n Bybel-gesprek is, is al drie die manne se Bybelaanhalings boonop in Engels! Ons kom dit nie eens meer agter nie.

Daar was dae wat hy die verkeerde taal met die verkeerde persoon begin praat, en geantwoord word met “Ekskuus?” of “Entschuldigen?” en dan oorslaan na die ‘regte’ taal. Die punt is, soms was dit bietjie meer moeite om streng te bly met die een persoon, een taal beleid. Ons was nog nooit spyt dat ons daardie besluit geneem het nie!

Lewer kommentaar »

Dumb ways to die: gesondheidsopvoeding

Op ‘n stadium vandag kyk ek vinnig na ons roosterplan, teen die spensdeur opgeplak, om te sien wat die res van die dag inhou. Ons noem dit nie ‘n rooster nie, want ‘n rooster is vol dinge wat jy móét doen, soos voorgeskrewe boeke. ‘n Plan is eerder waarskynlike moontlikhede, meer soos aanbevole boeke. Dus, roosterplan. Die plan kan verander as daar beurtkrag is, of ‘n verjaardagpartytjie, of sommer net die lewe.

Nog net lewensvaardighede oor na ete, dan Engels en selflees. Maar wat sal ons doen vir lewensvaardighede? Ek het hierdie weeklikse halfuur ingewerk om voorsiening te maak vir dinge wat in teorie bespreek moet word, maar dis die eerste week (ons vyfde skoolweek vir 2015) waar daar nie vanself iets opgeduik het wat net wág vir hierdie halfuur nie.

Boonop is ek die afgelope rukkie besig om te dink aan die vak wat ek nog op skool gehad het in standerd drie en vier: gesondheidsopvoeding. Sommige van wat ons daarin moes leer, het ek toe al dom gevind, maar ander was weer interessant, dalk selfs nodig, meestal die veiligheidsaspekte. My onderbewussyn het al ‘n rukkie die opdrag om daaroor na te dink wanneer ek besig is met ander dinge.

Skielik gaan ‘n liggie aan! My man het my vertel van hierdie videosnit wat in Australië gemaak is met ‘n veiligheidsboodskap; dit is beslis lewensvaardighede, vind sommer ook aansluiting by die gesondheidsopvoeding-idee, is gratis beskikbaar op youtube, vereis geen voorbereiding van my kant af nie en laastens, ek weet die seuns het dit al gehoor en hou van die wysie. Wat meer het mens nodig van skoolmateriaal?

So saam met die middagete doen ons toe sommer ons week se lewensvaardighede-teorie: ons kyk “Dumb ways to die“. Die eerste keer speel dit sommer net deur, sodat almal kan lag vir die animasiekarakters se streke. Die tweede keer onderbreek ek die snit na elke reël, vra dan die seuns om die beurt waarom dit dan so ‘n dom ding is om te doen. Ons het dit net met die eerste twee verse gedoen, waarna ek besluit het dis genoeg inligting, ons sal die res volgende week doen. Laat hulle eerder onthou wat ons nou bespreek het.

Dit was ‘n baie interessante bespreking in dié opsig dat ek heelwat meer te wete gekom het oor wat die seuns nou eintlik weet. Soos dat kleinboet in die fynste besonderhede kan verduidelik waarom mens nie brood met ‘n vurk uit die rooster moet haal nie – van elektrisiteit, die vurk wat metaal is en dus geleier, tot by die mens se samestelling van grotendeels water met yster in jou bloed, dus ook geleier!

Ook dat nie een van hulle die vaagste benul het hoekom mens nie ‘n twee weke oue pastei kan eet wat nie in die yskas was nie! Hulle het naamlik nog nooit, ooit voedselvergiftiging gehad nie, nie eens ‘n klein bietjie nie. Omdat ek in my lewe al ‘n aantal onaangename ondervindings gehad het met troue-kos, is dit een van die dinge waaroor ek super-versigtig is. Daar het my oordrewe versigtigheid met voedselveiligheid toe mooitjies my seuns die geleentheid ontneem om dit uit eie ondervinding te leer… Sal hulle leer uit my teoretiese waarskuwing? Of moet ek hulle dit aan eie bas laat voel? (Ie-ie-iek!)

Lewer kommentaar »

Kry ‘n brood!

Soms voel dit of alle onderrig net in die spreekwoordelike bodemlose put verdwyn, sonder enige nut. Mens leer en vertel en verduidelik en gee raad en onderrig en wys en herhaal dit alles tot vervelens toe, sonder enige sigbare resultate. Maar soms…

Soms is daar ‘n ligstraaltjie wat jou aanmoedig om voort te gaan. Die ander dag is ons inderhaas by die huis weg. Daar is 30 minute oor voor karate begin, ons moet nog eers Checkers toe gaan vir brood en melk, dan betaal en dan na die karateklas; natuurlik mag hulle nie laat wees nie. So onderweg word die hele plan netjies uitgewerk: ons parkeer by die eerste plek wat ons kry, ook al is dit verder weg, want dis vinniger om te loop as te wag vir ‘n oop plek naby. Dan in die winkel moet ouboet van sy melk (laktosevry) gaan kry, kleinboet twee brode gaan haal, ek kry die vars melk, ontmoet mekaar by die kassiere – wie eerste daar is staan solank tou. Woerts-warts is ons al drie daar, betaal, hardloop kar toe en op pad na karateklas. Sjoe!

Êrens in die hardloop het ek opgelet dat kleinboet nie die maak brood gekies het wat ons gewoonlik koop nie, maar daar was nie tyd om iets daaroor te sê nie. In die kar vertel hy egter vanself in die lang sinne van ‘n agtjarige: “Daar wás van ons gewoonlike brood, en dit wás tien sent goedkoper as die goedkoopste ander grootbrood, ek het nie na die dunbrood,” (Toaster slices), “gekyk nie, want óns eet dit nie. Toe kyk ek vir die datums soos Mamma altyd maak, en sien dat ál die bruin grootbrode van ons soort se datum al more is! Toe soek ek vir die tweede goedkoopste grootbrood, en hulle datums is eers oor ‘n paar dae. Toe vat ek van daais, want ons wil nie óú brood eet as daar nuwes is nie, al is dit tien sent goedkoper – dis mos nie só baie nie. Is dit oukei?”

Soms sink dinge tog in. Eendag sal sy vrou hom met geruste hart kan vra om brood te koop.

Lewer kommentaar »

Wetenskap: die jaar van die periodieke tabel

In ons tuisskool handel vanjaar se wetenskap, die hele jaar lank, oor die periodieke tabel. Ek weet in skool word natuurwetenskap versprei tussen chemie, fisika, elektrisiteit en dalk nog ander, maar vir ons is hierdie die jaar van die periodieke tabel. Miskien is volgende jaar die jaar van elektrisiteit… sal maar sien.

So hier is die plan vir die jaar van die periodieke tabel. Soos gewoonlik het ek die hele ding weer oorbeplan en oorbedink, maar ek hou van voorbereiding. Nie omdat dit lekker is nie, nie omdat dit ‘n vereiste van tuisskool is nie, maar doodeenvoudig net omdat dit my laat beter voel – meer in beheer, soortvan. Dis goed om aanpasbaar (“flexable”) te wees, maar myns insiens moet mens eers iets konkreets hê om ván af te kan wyk of jou aan te pas.

Overgesetsynde en desnieteenstaande, terug by die plan. Ons skooljaar is tentatief ingedeel in vier kwartale, van onderskeidelik twaalf, tien, tien en agt weke lank. Dus het ek die periodieke tabel ook opgedeel in vier afdelings, een vir elke kwartaal. Die eerste kwartaal… wag, dalk moet ek eers ‘n stappie terugtree.

Een van die dinge wat my grief van baie skole is die feit dat alles in sulke brokkies, blokkies en happies geleer word, so kinders kry nooit die geleentheid om ‘n geheelbeeld te sien nie, dus maak dit wat hulle leer nie juis sin nie. Soms kry hulle wel ‘n glimpsie van die héle laslappiekombers, maar dit eers na soveel maande of jare van stukkies, dat hulle nie meer belangstel nie. Natuurlik hang dit baie van die onderwyser af, maar met ons land se kurrikulum so uitgespel, het onderwysers ook nie juis meer tyd om af te wyk van die leerplan nie, want dan gaan hulle nie deur al die leervereistes kom nie. Dus bly alles in brokstukkies wat so rond en bont aangebied word.

Persoonlik reken ek dat dit makliker is om iets te verstaan as jy weet hoekom en waarom dit nodig is, belangrik is, nuttig is of iets anders om ‘n doel daaraan te gee. Mens sien ook makliker die nut van iets in as jy eers verstaan hoe dit was daarsonder. Soos beurtkrag – kinders besef eers hoe afhanklik hulle is van elektrisiteit, noudat hulle aan eie bas ondervind hoe die lewe is daarsonder, al is dit ook net vir twee ure op ‘n slag.

Dit gesê, is dit darem maar baie vervelig om iets nuuts te leer deur eers ‘n geskiedenisles daarvan te moet aanhoor. Ek onthou ‘n skoolvriendin van my het Rekenaarwetenskap as ekstra (sewende) vak geneem, maar na in die helfte van die jaar opgehou daarmee, want hulle het nog niks van rekenaars geleer nie, net geskiedenis. Dis nou toeka se jare, toe Rekenaarwetenskap ‘n nuwe skoolvak was, ek is seker dit is nie meer die geval nie.

O ja, terug by die plan vir die jaar! Hier is die plan so in breë trekke:

  • Die eerste kwartaal doen ons eksperimente, asof ons wetenskaplikes van die jaar toet is, om te ‘ontdek’ dat alles rondom ons nie dieselfde is nie. Party dinge los byvoorbeeld in water op, ander nie. Party dinge vries oornag in ons vrieskas, ander nie. So ‘ontdek’ ons dat materie uit verskillende boublokke moet bestaan, wat verskillende eienskappe daaraan verleen.
  • Die tweede kwartaal het twee dele. Eerstens gaan ons probeer om ons eie tabel te skep wat die boublokke van die eerste kwartaal op praktiese wyse rangskik; daarna gaan ons ‘n paar van die vroeëre tabelle van die elemente bekyk om ander wetenskaplikes se ordenings te bekyk, en hopelik die tekortkomings agter te kom. (Lank leef wikipedia!) Dit net so die eerste paar weke. Die res van die kwartaal gaan ons spandeer op die toets vir spesifieke stowwe.
  • Die derde kwartaal leer ons Mendeleev se periodieke tabel. Die hele een. Honderd-en-agtien elemente in tien weke. Volspoed op die sneltrein!
  • Die vierde kwartaal gaan ons bekyk hoe die groepe in die tabel eienskappe deel, en dit dus moontlik is om die eienskappe van onontdekte elemente te voorspel.

Elke week, minstens een maal per week, luister ons na Asap Science se weergawe van die elemente op die wysie van Offenbach se can-can. Teen die einde van die jaar ken ons hulle dalk almal!

Dit behoort ‘n goeie fondament te vorm vir die regte, egte chemie la-a-ater, eendag in die toekoms.

Lewer kommentaar »

Spinasie-genade

Kos is baie belangrik in ons huis, meeste van ons hou daarvan om te eet, ons probeer graag nuwe disse… Hmmm, wel, ek probeer dit graag kook, maar almal wil nou nie juis altyd so graag daarvan eet nie. Nogtans, kos is gewoonlik die eerste waaraan enigiemand dink as ons daaglikse roetine dalk gaan verander. Dis die oorwegende faktor wanneer ons probeer sin maak uit die deelkrag-skedule. Selfs wanneer ons Bybel lees, let ons op na die kos.

God is vol genade, soms op onverwagte plekke.Hier’s nog ‘n stukkie nuutontdekte genade (tema: kos) uit die Kinderbybel lees saam met kleinboet.

Nadat God die mens geskape het, het Hy in Gen. 2:16 “…aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,” Dis die enigste kos waarmee ons bekend is dat Adam en Eva dit geëet het. Volgens ouboet is dit beslis ware paradys: om soveel vrugte te kan pluk en eet as wat jy wil. (Ek is effens bekommerd oor die maagpyn en ander nagevolge, maar dit sou seker nie in die paradys ter sprake wees nie.)

Na die sondeval vervloek God die aarde in Gen 3:17 “…vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” Kan mens jou dit indink? As jy jou lewe lank nog net kon pluk en eet, perfekte vrugte daarby, nou skielik ‘n bestaan van moeite. Waar die bome voorheen vanself geil gegroei en mildelik vruggedra het, nou moeite en dorings. Sou hulle genoeg kon kry om te eet?

Gaan kyk maar êrens in die oop natuur hoeveel vrugtebome jy daar sien, waarvan die mens sou kon eet. As ek so dink aan die Kruger Wildtuin, sal die paar maroelas wat daar groei, my nogal nie versadig het die hele jaar deur nie! Ja, ek weet dinge was anders en die aarde was nog jonk. Maar hulle was nou uit die Tuin verdryf, en moes “met moeite” eet.

Tog het God genade betoon. Hy het aan hulle ‘n groter verskeidenheid gegee as voedsel. In Gen 3:18 verklaar God: “…en jy sal die plante van die veld eet.” Dáárvan is daar tog heelwat meer om te eet. Dalk nou nie so smaakvol en gerieflik soos om te loop en pere en perskes pluk nie, maar dis kos.

Dis moeilik om spinasie in die plek van druiwe (of mango of granate) as genade te sien, maar is dit nie tog verreweg beter as hongerly nie?

Lewer kommentaar »

Voorskool: Groter as, kleiner as en gelyk aan

Die jonger kinders wil klaarblyklik maar net dieselfde doen as hul ouer boeties of sussies. Skool lyk gewoonlik so lekker. En dit help nie dat Mamma sê: “Kom tel vir my die rosyntjies. Is daar tien? Deel dit nou mooi tussen jou en ouboet. Hoeveel kry elkeen?” en dan vir kleinboet laat probeer verstaan dat hy ook regtig Wiskunde gedoen het vandag nie! Ouboet se Wiskunde is dan op ‘n papier wat Mamma gemaak het, so kleinboet wil sy Wiskunde met alle geweld ook op ‘n papier hê! Klink dit bekend?

Een van die eerste dinge wat kleinboet op papier gedoen het vir Wiskunde, was groter as, kleiner as of gelyk aan. Met behulp van Microsoft Excel, Webdings en Wingdings, het ek werksblaaie gemaak om hierdie begrippe as ‘n prettige storie te leer. Sover ek onthou was kleinboet maar skaars drie jaar oud toe ons hiermee begin het as deel van die dag se tuisskool.

  • Aanvanklik het ons glad nie die simbole ingevul nie; net vir elke lyn / reël ‘n eensin-storie vertel: hier is ‘n paar huise, en daar is ‘n paar families. Kyk jy of daar vir elke familie ‘n huis is, en of hulle nog meer moet bou. Dan trek hy met kleurpotlood sulke lang boë om elke huis en familie te pas. Die antwoord kry ek dan mondelings: Daar’s nog te min huise. ‘n Ander voorbeeld: hier is treine en daar treinspore – kan elke trein sy eie spoor kry? Dan dieselfde lyne die hele papier vol, voordat ek die antwoord hoor. Soms was die lyne só die hele plek vol dat dit moeilik was om te sien van waar tot waar hulle gaan. toe het ons maar begin om vir elke ‘som’ ‘n ander kleur te gebruik. Nadat hy ‘n paar keer hierdie gedoen het, was dit tyd vir die volgende stap.
  • Die storie van die baie honger voëltjie: Daar’s ‘n Wiskundevoëltjie wat altyd baie honger is. Maak nie saak hoeveel hy eet nie, hy bly altyd baie honger. Omdat hy altyd so honger is, maak hy altyd sy bekkie oop na die plek waar die meeste is om te eet. As daar meer goeters aan hierdie (links) kant is, dan maak hy sy bekkie soontoe oop. (Teken groter as simbool   >  .) As daar meer goeters aan hierdie (regs) kant is, dan maak hy eerder sy bekkie soontoe oop. (teken kleiner as simbool  <  .) Wanneer daar presies ewe veel aan albei kante is, dan kan hy nie besluit nie, en probeer om gelyk na albei kante oop te maak (=). Met elkeen van die somme op die bladsy moet hy dan weer (soos bo) uitvind watter kant is die meeste, en dan die ooreenstemmende voëltjiebekkie natrek.
  • Later, toe kleinboet getalle 1-10 reeds ken, het ek nog werksblaaie gemaak, met ‘n mengsel van prentjies en getalle. As hy vir ‘n paar maande nie van hierdie tipe werk gedoen het nie, moes ek gewoonlik eers weer die storie van die baie honger Wiskundevoëltjie vertel.

Hier is albei dokumente, hopelik kan iemand anders hulle ook nog gebruik. GroterKleinerGelyk_Prente en GroterKleinerGelyk_PrentGetal

Nadat kleinboet ‘n regte bladsy skoolwerk gedoen het, net soos ouboet, voel hy sommer weer baie tevrede met homself!

1 kommentaar »

%d bloggers like this: