Daar is verskeie menings oor waar die vorming van nommers nou eintlik hoort – as Wiskunde of as skrif.
Ek stem saam met diegene wat die skryf van die nommers klassifiseer as ‘n skrifoefening. Om te weet hoeveel is agt (die betekenis van die woord) is Wiskunde; om die nommer te kan skryf, en te oefen om dit netjies te kan skryf, is skrif.
Veral kinders wat nie daarvan hou om te skryf nie, ontwikkel maklik ‘n hekel aan wiskunde wanneer wiskunde gebruik word as skrifoefening. Verder is daar nie veel nut in om ‘n hele ry 3’s, dan ‘n ry 4’s te maak elke keer voordat jy ‘n paar somme maak nie – dit word meestal net afgerammel, en help nie om netjiese skrif aan te leer nie. Nou ja, dis my storie en ek bly daarby – hierdie inskrywing is nie daar om ‘n debat aan die gang te sit nie!
So, elke mens kan gerus hul eie opinie oor die saak hê! Hier is die werksblaaie wat ek gemaak het toe ons seuns se tuisskool nog op voorskoolse vlak was:
Soos wat ek reeds genoem het, vind ek dat dit meer voordelig is om ‘n klein hoeveelheid skryfwerk netjies te doen as ‘n bladsy vol te skryf wat al hoe slordiger daar uitsien soos die kind al hoe minder lus is om dit te doen. Daarom is die drukstukke kort en duidelik.
Lekker tuisskool!