Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Tweetaligheid: leer lees

A is vir appel, B is vir bal… dis waar in Afrikaans, Engels en Duits. Maar R is nie vir altyd vir roomys nie. Soms is ‘E’ vir roomys en soms ‘I’.

Toe ouboet begin om deur prentewoordeboeke te blaai, en dit hardop te “lees” volgens die prentjies, het ons besef hier is ‘n probleem. Wanneer hy my ‘n ‘P’ wys, dan antwoord ek: “P, vir piesang”. Die aand kom Manlief tuis en ouboet storm op hom af, boek in die hand, wys trots na die ‘P’ en spog: “P, für Banane.” Dit was baie deurmekaar vir die knapie. Waarom is die prentjie van die vlermuis op die ‘V’ bladsy wanneer hy saam met Mamma lees, die ‘F’ bladsy wanneer Pappa lees, en in my maatjie se boek op die ‘B’ bladsy? Ander woorde, soos huis, gorilla en xilofoon, bly weer op dieselfde bladsy! Woordewêreld was ‘n baie deurmekaar plek.

Ons het gou besef hier kom ‘n groot verwarring, wat leer-om-te-lees in ‘n nagmerrie gaan verander. Gelukkig was daar ‘n vakansie in die Kruger-wildtuin om die draai. Dis net die regte plek om te dink terwyl jou oë die diere soek. Gewapen met notaboekie en potlood, het ons die vakansie benut om ook so tussenin ons eie alfabet saam te stel. Een met prentjies wat by dieselfde letter pas in al drie “ons” tale. Die vakansieweek was deurspek met uitroepe soos “Flamink! Dit werk!” en vreemde versoeke: “Noem vir my al die Duitse naamwoorde waaraan jy kan dink wat met ‘C’ begin, asseblief.”

Terug tuis was ons alfabet gereed. Met ‘n bietjie kreatiewe kroek hier en daar, vernaamlik die ‘C’, ‘Q’ en ‘Y’. Eers moes inkleurboeke, kunsboeke en hier en daar manlief se hulp ingeroep word om prentjies te kry van al die woorde. (Ek kan nie teken nie). Daarna is aftrek-vensterverf ingespan om ouboet se kamervenster te verander in ‘n alfabetplakkaat.

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Die prentjies is ook geteken en ingekleur in ons eie papierwoordeboek. Later ek weer dieselfde prentjies gebruik om ‘n alfabetplakkaat te maak. Weer toe hulle leer lees het, om klein konsertinaboekies te prakseer. Weereens toe ek werksblaaie vir drukskrif gemaak het. Daardie vakansie se dinkwerk het nog vir baie lank vruggedra!

Nabyskoot van 'n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Nabyskoot van ‘n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Advertisements
Lewer kommentaar »

Tweetaligheid

Ek is Afrikaans. Heeltemal. Meer as honderd persent: grootgeword in Afrikaanse kerk, Afrikaanse dorpe, Afrikaanse skole, super-Afrikaanse familie, alles Afrikaans. Om die waarheid te sê, die dag toe ek vir die heel eerste keer iemand ontmoet wat vrywillig Engels praat (Engels-onnies uitgesluit), was ek reeds twintig jaar oud.

My man is Duits. Hy is wel in Suid-Afrika gebore, maar beide sy ouers kom uit Duitsland. Hy het dus in ‘n Duitse huis grootgeword, Duitse kerk, Duitse vriende, Duitse familie aan alle kante.

Na ons troue het ons in Johannesburg gewoon: Engelse kerk, meestal Engelssprekende vriende, beslis Engels by die werk, Engelse bure. Tydens my swangerskap met ouboet, was dit dus vanselfsprekend dat ons op ‘n dag die gesprek gehad het: watter taal gaan ons kind(ers) praat?

Ewe vanselfsprekend wil ek graag dat hulle Afrikaans praat, manlief dat hulle Duits praat, en boonop besef albei dat Engels nuttig is in die sakewêreld. Maar mense begin ons bangpraat (asof daar nog nie genoeg dinge is om amper-ouers oor bang te praat nie) oor kinders wat deurmekaar raak as hulle meertalig grootword. En, soos meeste amper-ouers, wil ons beslis die regte dinge doen om ons kinders ‘n voorsprong te gee, nie ‘n agterstand nie!

Dus, tyd vir navorsing. Ek het meer gelees oor tale as oor enige ander baba-onderwerp. Alles. Van linguïstiese “Child language acquisition in a natural environment” tot Baba-en-Kleuter se kundiges! Tot ek besluit het: Basta! met al hierdie wedersyds weersprekende akademici – dis ons kind, ons sal besluit.

Ons besluit? Een persoon, een taal. Dis ons gekose benadering – elke mens met wie die kind op gereelde basis in aanraking kom, kan maar ‘n taal praat, solank daardie persoon ALTYD dieselfde taal praat. So, ek praat met hom Afrikaans, altyd. Manlief praat met hom Duits, altyd. In teorie kan elke mens wat hy ken met hom ‘n ander taal praat, solank hulle konsekwent daardie taal praat.

Dit het beteken dat mense soms gedink het ons is onbeskof. Want al was ons in ‘n omgewing waar ander mense nie Afrikaans / Duits magtig is nie, het ons nog steeds net elke ons eie taal met hom gepraat. Daarna soms die kern van die gesprek vertaal vir die mense daarby, maar nooit, ooit met hom Engels gepraat nie. Aan die ander kant het die karwagte, winkelassistente, kassiere, Sondagskoolpersoneel en al die ander mense met wie hy kontak gehad het buitenshuis, ook altyd met hom Engels gepraat.

Net voor kleinboet gebore is, het ons met ouboet (toe pas drie jaar oud), ‘n gesprek gehad, wat soos volg geklink het: Jy weet Mamma praat altyd met jou Mamma se taal, en Pappa praat altyd met jou Pappa se taal? Wel, wanneer jou boetie daar is, gaan ons dieselfde met hom ook doen, maar dan moet jy nou kies watter taal jy met hom gaan praat, Pappa s’n of Mamma s’n, en dan moet jy altyd net daardie taal met hom praat. Nogal ‘n besluit vir ‘n driejarige! Hy het Duits gekies (dis nou die manne-taal) en so is dit nou nog, die broers praat agt jaar later steeds net Duits met mekaar.

Ja, daar was ‘n stadium waar dit dalk gelyk het of hulle bietjie agter is. As ander kinders 50 woorde in Afrikaans ken en hy ken net 40, dan lyk dit stadig. Maar hy ken ook 40 in Duits, en omtrent al 10 in Engels, so dit maak 90!

Seker een van die beste dae is die dag wat jy besef hulle “hét” dit. Met albei van hulle was hulle byna twee, dié wonderlike dag. Die dag wat jy ‘n seuntjie stuur met die woorde “Gaan sê vir Pappa hy moet kom eet.” en dan ver weg die woorde hoor: “Pappa, hmmm…. Pappa, Mamma sagt du muss essen kommen.” Dan dans jy op jou eentjie in die kombuis, wat hy hét dit. Vanself, sonder dat iemand hom moes leer om te vertaal.

Dit beteken dat ons familiegesprekke soms nogal deurmekaar kan klink vir ‘n vreemde, alhoewel ons niks buitengewoons daarin sien nie. Pa se bydraes tot die gesprek is in Duits, Ma s’n in Afrikaans, en die seuns enigeen van die twee, afhangend of hul op Ma, Pa of boetie reageer! Wanneer dit boonop ‘n Bybel-gesprek is, is al drie die manne se Bybelaanhalings boonop in Engels! Ons kom dit nie eens meer agter nie.

Daar was dae wat hy die verkeerde taal met die verkeerde persoon begin praat, en geantwoord word met “Ekskuus?” of “Entschuldigen?” en dan oorslaan na die ‘regte’ taal. Die punt is, soms was dit bietjie meer moeite om streng te bly met die een persoon, een taal beleid. Ons was nog nooit spyt dat ons daardie besluit geneem het nie!

Lewer kommentaar »

%d bloggers like this: