Die meeste mense beskou die verdrywing uit die tuin van Eden as deel van Adam en Eva se straf. Maar dis nie hoe ek dit in die Bybel lees nie.
Die aand het God in die tuin kom wandel, die mens gesoek en hulle laat erken dat hulle ongehoorsaam was (gesondig het). Daarna, Gen 3:14 “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het…”. Dit wat daarop volg, is tog die straf, aangedui deur die woord ‘omdat’. In vers 16 spreek Hy Eva aan, en in vers 17 Adam: “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het…” tot en met vers 19.
In vers 20 word vertel wat daarna gebeur het. God het dus klaar gepraat, m.a.w. klaar straf uitgedeel. En daar was nog geen sprake van uit die tuin verjaag nie. Inteendeel, God sien die mens se ondoeltreffende vyeblaarklere en betoon nogeens genade deur hulle beter te klee.
Op ‘n syspoor: God het vir Adam en Eva rokke van vel gemaak. Nou, Hy is God en Almagtig, so Hy sou kon klere van vel skep deur net te spreek. maar ek dink tog dat, omdat die Bybel spesifiek noem dat dit van vel is, ook dat God dit maak, dit beslis impliseer dat daar inderdaad ‘n dier moes sterf om die vel te voorsien waarvan hul klere gemaak is. Al het die mense dalk nie dadelik (fisies) gesterf met die eet van die verbode vrug nie (maar wel geestelik), het daar tog ‘n dood plaasgevind. Dit sal die eerste keer wees dat ‘n dier moes sterf as gevolg van die sonde van ‘n mens. Dood het dus op aarde begin.
Terug by Adam en Eva se straf. Wel, eintlik, die straf is mos nou klaar uitgedeel. God maak vir hulle klere van vel. Eers daarna, in vers 22, beskryf die Genesisverhaal die situasie so: Die mens het reeds sy hand uitgesteek na die een boom, as hy maar tog net nie ook eet van die ander boom nie!
Wat sou gebeur het as die mens van die ander boom eet? Die ander boom is die boom van die lewe, en in vers 22 word daar spesifiek genoem dat hy dan sal lewe in ewigheid. Beteken dit dat die mens se sonde sou weggewas wees? Dit sê nie so nie. Dus sou die mens vir ewig lewe met sonde.
Dit wil God beslis nie hê nie – Hy wil dat die mens ewigheid met Hom deel, wat nie kan gebeur as die mens sondig is nie. Met ander woorde, God wil vir die mens ‘n ewige lewe sonder sonde hê, sodat ons in Sy teenwoordigheid kan wees.
Daarom stuur God vir Adam en Eva in vers 23 uit die tuin, en plaas gérubs daar om die tuin, meer spesifiek, toegang tot die boom van die lewe, te bewaak. Sodoende is daar net een weg tot ewige lewe, ‘n langtermynplan: Jesus Christus.
Daarom beskou ek die verjaging uit die tuin van Eden as een van die (dalk dié) grootste betoning van genade in die hele Ou Testament. Daarsonder sou die mens vir ewig kon lewe, met sonde, dus van God verwyder vir altyd. Nou is daar net een weg tot die lewe, deur Jesus wat ons sonde wegwas, sodat ons sónder sonde en mét God die ewigheid kan deurbring.