Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Dumb ways to die: gesondheidsopvoeding

Op ‘n stadium vandag kyk ek vinnig na ons roosterplan, teen die spensdeur opgeplak, om te sien wat die res van die dag inhou. Ons noem dit nie ‘n rooster nie, want ‘n rooster is vol dinge wat jy móét doen, soos voorgeskrewe boeke. ‘n Plan is eerder waarskynlike moontlikhede, meer soos aanbevole boeke. Dus, roosterplan. Die plan kan verander as daar beurtkrag is, of ‘n verjaardagpartytjie, of sommer net die lewe.

Nog net lewensvaardighede oor na ete, dan Engels en selflees. Maar wat sal ons doen vir lewensvaardighede? Ek het hierdie weeklikse halfuur ingewerk om voorsiening te maak vir dinge wat in teorie bespreek moet word, maar dis die eerste week (ons vyfde skoolweek vir 2015) waar daar nie vanself iets opgeduik het wat net wág vir hierdie halfuur nie.

Boonop is ek die afgelope rukkie besig om te dink aan die vak wat ek nog op skool gehad het in standerd drie en vier: gesondheidsopvoeding. Sommige van wat ons daarin moes leer, het ek toe al dom gevind, maar ander was weer interessant, dalk selfs nodig, meestal die veiligheidsaspekte. My onderbewussyn het al ‘n rukkie die opdrag om daaroor na te dink wanneer ek besig is met ander dinge.

Skielik gaan ‘n liggie aan! My man het my vertel van hierdie videosnit wat in Australië gemaak is met ‘n veiligheidsboodskap; dit is beslis lewensvaardighede, vind sommer ook aansluiting by die gesondheidsopvoeding-idee, is gratis beskikbaar op youtube, vereis geen voorbereiding van my kant af nie en laastens, ek weet die seuns het dit al gehoor en hou van die wysie. Wat meer het mens nodig van skoolmateriaal?

So saam met die middagete doen ons toe sommer ons week se lewensvaardighede-teorie: ons kyk “Dumb ways to die“. Die eerste keer speel dit sommer net deur, sodat almal kan lag vir die animasiekarakters se streke. Die tweede keer onderbreek ek die snit na elke reël, vra dan die seuns om die beurt waarom dit dan so ‘n dom ding is om te doen. Ons het dit net met die eerste twee verse gedoen, waarna ek besluit het dis genoeg inligting, ons sal die res volgende week doen. Laat hulle eerder onthou wat ons nou bespreek het.

Dit was ‘n baie interessante bespreking in dié opsig dat ek heelwat meer te wete gekom het oor wat die seuns nou eintlik weet. Soos dat kleinboet in die fynste besonderhede kan verduidelik waarom mens nie brood met ‘n vurk uit die rooster moet haal nie – van elektrisiteit, die vurk wat metaal is en dus geleier, tot by die mens se samestelling van grotendeels water met yster in jou bloed, dus ook geleier!

Ook dat nie een van hulle die vaagste benul het hoekom mens nie ‘n twee weke oue pastei kan eet wat nie in die yskas was nie! Hulle het naamlik nog nooit, ooit voedselvergiftiging gehad nie, nie eens ‘n klein bietjie nie. Omdat ek in my lewe al ‘n aantal onaangename ondervindings gehad het met troue-kos, is dit een van die dinge waaroor ek super-versigtig is. Daar het my oordrewe versigtigheid met voedselveiligheid toe mooitjies my seuns die geleentheid ontneem om dit uit eie ondervinding te leer… Sal hulle leer uit my teoretiese waarskuwing? Of moet ek hulle dit aan eie bas laat voel? (Ie-ie-iek!)

Lewer kommentaar »

%d bloggers like this: