My ma het by ons kom kuier, sommer so alleen, sommer maar net vir ‘n week of so. Dit was in ons skooltyd, sy’t gesê ons moet maar aangaan, sy sal inval by ons; wil net ‘n bietjie rus na die siekte.
Op ‘n dag doen ons Geskiedenis in die sitkamer: my ma sit op die wiegiestoel en brei, ek lê op die grond en lees voor, een kind lê op die rusbank, die ander is maar net orals rond. Aan die einde van die voorlees, verduidelikings en bespreking, vra ek ‘n klompie vrae om begrip te toets. Ouboet antwoord meestal die filosofiese vrae en bespiegelings, kleinboet die feite – hiërogliewe, papirus, Egiptenare, Sumer, klei, spykerskrif (kuneivorm).
Net toe ek wil opstaan en gaan koffie maak, praat my ma: “Daai kinders sal nooit in ‘n skool kan aard nie.” Onmiddelik stop ek, koffie kan wag. Omdat ek weet my ma ondersteun ons besluit en het tonne vertroue dat ons ‘n tuisskool-suksesstorie gaan wees (soms soveel dat dit my bang maak), weet ek sy bedoel die opmerking nie as kritiek nie.
“Wat bedoel Mamma?”
“Daai seuntjie, ” (dit moet kleinboet wees), “het nie een sekonde lank stil gesit nie.”
Vir ‘n oomblik lank moet ek dink wat sy bedoel – daar was niks anders aan vandag as aan enige ander voorlees-les nie, was daar? Maar tog… Soms het hy langs my gelê, dan op my rug geklouter, my dan omgerol en my bene rondgeskuif dat hy kan perdjie-ry, dan onder die koffietafel ingekruip met sy voet tot teen sy gesig om te kyk of daar ‘n doring in is, dan in ‘n stoel gaan sit (vir omtrent een sin lank), dan onderstebo gehang teen ‘n stoel met kop op die vloer en knieë oor die rugleuning, dan my bene kom buig dat hy onder my knieë kan inkruip soos ‘n tent, dan oor die vloer gewurm tot naby Ouma om op te krul soos ‘n dinosaurus in ‘n eier – dis net die bewegings waarvan ek so onbewustelik-bewus was. Soos ek reeds gesê het, ‘n doodnormale voorlees.
“Maar hy kon elke vraag antwoord wat jy hom gevra het, so hy het goed geluister.” En so het hierdie ding my aan die dink gesit. Die keer of twee wat iemand probeer het om hom te laat stil sit terwyl hy iets moet leer, was almal frustrerend – beide omdat hy gedurigdeur daaraan herinner moet word om stil te sit, en ook omdat hy niks kan onthou daarna nie! Eintlik weet ek al hierdie, ek is immers daar, maar het net nooit die 2 en 2 geplus nie. Daarna het ek meer begin oplet: wanneer hulle albei sit en tossels maak (deur die wol so om en om en om en om die kartonsirkels te draai), of veters om ‘n prentjie ryg (eintlik bedoel vir veel jonger kinders), dus enigiets wat hul hande besig hou, maar nie te veel dinkkrag gebruik nie, het ons ‘n goeie leeroomblik. Net soos wanneer hy die hele vloer vol rondwurm. Soms beweeg hy byna glad nie, maar niemand het dit verbied nie, hy wil net nie.
Maar wanneer hy moet stilsit, is dit asof hy soveel van sy breinkrag moet gebruik om te probeer stilsit, dat daar net mooi niks oor is om inligting in te neem of verwerk nie!
Natuurlik is alle kinders, alle seuns, nie dieselfde nie. Ons het net twee, uit dieselfde genetiese poel, grootgemaak in dieselfde huis, dus so eenders in beide ‘nature’ en ‘nurture’ as moontlik, maar hulle verskil. Tog blyk dit dat die blote vryheid om groot- en kleinmotoriese vryheid te hê, te MAG beweeg wanneer jou liggaam so voel, ‘n beduidende verskil maak in konsentrasie.
Al is dit net om vir die duur van die hele National Geographic-film onderstebo te lê op die bank.
Ongeveer ‘n jaar later het ek op hierdie artikel afgekom: Why so many kids can’t sit still in school today/ wat my leke-opinie met professionele inligting en statistieke ondersteun.