Ons, die hele familie, het ons dag se tuisskool gebruik vir ‘n besoek aan die kunsuitstalling van Nathan Sawaya, ‘n beeldhouer wat LEGO blokkies gebruik as medium, eerder as marmer, hout, gips of metaal.
Uit die staanspoor was dit ‘n goeie dag, want pa het ‘n dag se verlof gebruik om saam met ons ‘die STAD’ aan te durf. Enige uitstappie waarop pa saamkom, het onmiddelik verhoogde entoesiasme en belangstelling.
Gewoonlik wanneer ons êrens kuns raakloop (‘n uitstalling in ‘n winkelsentrum, straatmark, selfs vakansiewoonplek of kantoorgebou) stop ons eers ‘n oomblik, bekyk en bespreek. Dis maar ‘n redelike oppervlakkige bepreking, want ek is self glad geen kunskenner nie! Is dit ‘n portret, landskap of stillewe? Wat van die kleurkeuse – meestal lig, donker of kleurvol? Is dit realisties? Is daar enigiets ongewoon, soos ander dinge as verf? Lyk dit of dit ‘n emosie weergee, soos hartseer, vrolik, moeg? En dan natuurlik: hou jy daarvan of nie, en waarom sê jy so?
Maar met die Legokuns is daar soveel meer aan verbonde: sommige van sy skeppings is reproduksies van bekende kunsstukke; dis baie bevredigend om te hoor hoe die seuns uitroep: Dis Van Gogh! Daar’s Mona Lisa! Kyk, die sfinks! Natuurlik was daar eie konnotasies ook: Venus de Milo is ‘daai een wie se arms afgegooi is in Asterix en Obelix by die Olipmiese Spele’. Ouboet was in die wolke om ‘Die tweede Chinese perd’ te herken uit ‘n Geskiedenisles se rotstekeninge.
Omdat hulle ook hul eie familielede se smaak en voorkeure goed ken, kon hulle soms ‘n sekere persoon roep: Pappa, jy móét hierdie kom sien! Mamma, jy sal hier wil kyk! Boetie, jy sal hiervan hou! Hulle besef dus dat kuns subjektief is – almal hou nie van dieselfde goed nie (dankie, tog!)
Omdat sommige van die stukke driedimensioneel is, kon kleinboet op die grond kruip om te sien of Red Face Mask se neusgate hol is en daar ‘n tong in sy mond is, dan sy kop by Yellow se borsopening insteek om die holte te bestudeer, terwyl ouboet om en om Parthenon loop en binne-in tuur om te kyk dat dit daar ook netjies afgewerk is.
Ons kon Legokuns vergelyk met digitale beelde – hoe die blokkies té blokkierig kan wees as jy baie naby staan, maar ‘n prent vorm as jy terugtree, net soos wanneer jy op die rekenaar in- en uitzoem. Hoe dit makliker is om iets groots te laat rond lyk as iets kleins, soos met Apples en Tall Pencil, wat verklaar waarom hoë-resolusie beelde mooier lyk. Ag, ja, die blokkiesprente is ook vergelyk met Minecraft, want alles is so blokkierig, en een van hulle was vas van plan om in Minecraft ‘n skildery te probeer maak met verskillende kleure wol.
Die beste van alles is dat hulle baie goed bekend is met die medium. Daar was intense ontleding om uit te vind hóé sekere effekte verkry is. Hulle weet watter blokkies bestaan en wat nie. Daarom moet party blokkies op hul sy staan, byvoorbeeld in die Japanese skrif van The great Wave off Kanagawa. Die tegniese gesprekke het soms erg, wel, tegnies, geraak voordat hulle ooreengestem het oor hoe sekere dinge prakties uitgevoer is. Dis ‘n soort kennis wat hulle nie het van olieverf of marmer nie, daarom kon hulle hierdie keer die kunstenaar se bemeestering van die medium beter verstaan.
Dit was ‘n dag waarop ek baie bly was dat ons tuisskool. Beide ouers kon dáár wees om te sien hoe verskillende ‘skoolvakke’ en lewensondervindings bymekaar kom tot een genotvolle ervaring. Daar was geskiedenis, kuns, Minecraft, rekenaarkunde, Lego, argitektuur, beroepskeuses, Afrikaans, filosofie, kultuur en sommer nog baie meer, en niemand het eers ‘n klas aangebied nie!