Voorheen het ek vertel hoe ons by die netjiese tuisskool uitgekom het: koop een boks met alles daarin wat jy vir ‘n jaar gaan nodig kry. Nadat ons die Sonlight kurrikulum vir twee jaar geniet het, was dit tyd om nuwe skoolmateriaal te kry. Ek het reeds maande lank die Sonlight-katalogus bestudeer sodat ons weer één boks kon kry wat ons oor twee jaar gebruik. Dit was werklik ‘n baie goeie kurrikulum en ons het veral die pragtige boeke baie geniet – ons is ‘n leesfamilie.
Voordat ons egter by die bestel daarvan kon uitkom, het lewensomstandighede sodanig verander dat ons dit doodeenvoudig nie kon bekostig nie, ons het net nie die dollers gehad vir een boek nie, wat nog te sê ‘n boks vol! En die versending is byna net so duur soos die boks. Vir ‘n rukkie was ek in ‘n toestand: hoe moet ek my seuns (wat eendag hulle families moet kan onderhou) ‘n behoorlike opvoeding gee sonder om geld uit te gee?
Gelukkig het hierdie nie gebeur terwyl ons nog streng die kurrikulum se skedule gevolg het nie, want dan sou die verandering veel swaarder wees. Omdat ons reeds vir byna twee jaar ons eie stukkies werk by hul boeke gevoeg het, en hul boeke uitgerek het, boonop Afrikaans en Duits ekstra gelees het, was ons darem effens voorbereid daarop om self ons weg te moes baan.
Weereens het ek ure op die net deurgebring – my grootste beskikbare ondersteuningsraamwerk. So het ek gevind dat honderde ander tuisskolers nie netjies verpakte bokse gebruik nie, maar self meng-en-pas. Dalk kon ons ook ons eie laslappiekurrikulum maak.
Dus ek het ‘n lysie gemaak (ek’s gek na lysies) van dié dinge wat ons elke dag moet doen. Op daardie stadium was ons op ‘n Kindergarten en graad 1-2 vlak. Die lysie was basies wiskunde, Afrikaans (huistaal), Duits(huistaal), Bybel en skrif (of dan, fyn motoriese vaardighede wat skrif sal bevorder) onder die kolom ‘daagliks’ en dan Engels (bykomende taal), wetenskap, geskiedenis, aardrykskunde, kuns en musiek onder die kolom ‘weekliks’ . Hieruit het ek twee dinge geleer:
- Moenie dinge te ingewikkeld maak nie. Ons is nie ‘n skool nie, en hoef dus nie elke vak afsonderlik te lys om ouers tevrede te stel nie. Dit was nie lank nie of byna die hele kolom ‘weekliks’ het saamgesmelt tot “Algemene Kennis”
- Waar jy die spreekwoordelike twee vlieë met een klap kan slaan, slaan hulle. Of sommer twee of drie! Byvoorbeeld, as hy sy Bybelvers vir die week een dag in Afrikaans uitskryf, die volgende dag in Duits en die volgende in Engels, dan tel dit sommer terselfdertyd vir die tale (spelling / woordeskat), Bybel en skrif. As julle na kunsprente kyk (soos Come look with me-reeks), bespreek dan sommer die kuns én die onderwerp (geskiedkundig, natuurwetenskap, Bybelverhaal, ens.).
Die eerste paar maande, dalk selfs jaar, van hierdie tydperk was seker die moeilikste in ons hele tuisskool ooit. In ‘n vreemde land, waar geen Afrikaanse bronne beskikbaar is nie, en baie min Engels van goeie kwaliteit teen lae koste (byvoorbeeld die biblioteek) was dit maar swaar. Verder het baie min van ons kenisse en vriende geweet hoe dit eintlik gaan.
Byna al ons daaglikse skoolmateriaal het ek self gemaak. Meestal met die hand geskryf, want drukkersink is duur. Gewoonlik het ek saans, na die seuns gaan slaap het, die hele volgende dag se skoolmateriaal gemaak. Die boekies waaruit hulle leer lees, plakkate, werksblaaie. Verder het ons soveel moontlik van die internet gebruik gemaak, geleer van skootboeke (lapbooks) – wat boonop baie vakke in een aktiwiteit afhandel.
Êrens in hierdie tyd het iemand in ons kerk my genader – sy het voorheen hulle vier seuns getuisskool, en het op hope skoolmateriaal afgekom wat hulle nooit weer sal gebruik nie, wil ons dit dalk hê? Sommige was halfgebruikte werksboeke, ander bordspeletjies, opblaas-aardbol, geo-borde, flitskaarte en nog ander hulpbronne wat ons nie op daardie stadium kon bekostig nie. Dit was ‘n hemelse geskenk, selfs in Engels!
Ons het dus in minder as drie jaar deur verskillende tuisskoolmetodes gegaan: eers kurrikulum-in-‘n-boks, daarna kurrikulum-op-eie-tempo-met-ekstras, toe die geen-geld-koop-niks metode. Na ongeveer twee jaar van laasgenoemde het die geleentheid hom voorgedoen vir ons om terug te kom na Suid-Afrika, en ook om begroting te hê vir skooldinge.
Wat ‘n wonderlike verbetering was daar nie intussen in Suid-Afrika nie. Daar is Slimkoppe, Alles-in-een, soveel materiaal by enige PNA, CNA, selfs by die ‘plastiekwêreld’ tipe winkels! Dis asof private opvoedkundige materiaal net skielik orals te koop is.
Nou gebruik ons ‘n mengsel van rekenaarkursusse, gekoopte werksboeke, die biblioteek!, groepsaktiwiteite en gratis internetbronne, maar is ook nie bang om self iets te maak as dit wat beskikbaar is ons nie pas nie. Na al die rondspartel van een uiterste na die ander, is dit heerlik om uiteindelik te voel ons het ‘n soort ekwilibrum. Ten minste vir nou. 🙂