Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Ander tale

My persoonlike opinie is dat blootstelling aan ander tale baie belangrik is vir kinders. Nou, mens sou seker kon sê dat hierdie opinie sterk gekleur is deur die feit dat ons ‘n tweetalige huishouding is, en ook dat die kinders reeds van voorgeboorte af omring is deur drie tale. Nogtans dink ek nie dat drie genoeg is nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink nie elke mens behoort te, of kan, twintig tale vlot praat nie! Net dat dit goed is vir kinders om daaraan blootgestel te word.

Volgens linguistiese navorsing, word babas normaalweg gebore met die vermoë om al die klanke in al die tale te kan maak – daai babagebrabbel is ‘n mengsel van klanke uit Chinees, Arabies, Bulgaars, Hindi, Malayalam, Swahili, Zoeloe, Hebreeus, Tagalog, Serbies en nog ‘n paar honderd ander! Omdat die mense rondom die baba egter net sekere van al daardie klanke herhaaldelik maak, leer die baba dan dat daardie die “regte” klanke is om te maak en eindig op met mama, doedoe en gogga. Mettertyd vervaag al die ander klanke en wanneer hierdie baba eendag op die ouderdom van dertig Urdu wil aanleer, moet hy/sy van voor af leer om die ander klanke te maak wat nie in sy eie taal(e) voorkom nie.

So, waarom sou dit voordelig wees om aan ander tale blootgestel te word?

Hier’s my redes:

  1. Dit leer hulle verdraagsaamheid. Alle mense is nie dieselfde nie. Hulle lyk nie dieselfde nie en praat ook nie dieselfde nie. Wanneer iemand ‘n (vir hulle) vreemde taal praat, gaan hulle waarskynlik foute maak en ‘n aksent hê. ‘n Kind wat besef dat hy/sy nie al die tale in die wêreld vlot kan praat nie, sal meer begrip hê hiervoor en hopelik nie lag vir die foute nie, eerder help.
  2. Dit leer hulle meer van hulle eie taal. Mens onderskei eers wat uniek is aan jou kultuur nadat jy ‘n ander gesien het. Ek het byvoorbeeld nooit besef dat my ma se aartappelslaai besonders is nie, totdat ek ander mense s’n geëet het en dit minder lekker gevind het – maar almal rondom my het gesmul. My norm vir ‘n goeie aartappelslaai is dus duidelik anders as ander s’n, vanweë hoe ek grootgeword het. Ek het dit net nooit geweet nie, totdat ek die ánder probeer het.
    Dieselfde met taal. Mens besef eers dat “g”-klanke besonders is aan Afrikaans (en verwante tale) nadat jy mense teëgekom het wat glad nie die geluid kan maak nie, omdat dit nie in hulle taal voorkom nie. Sesotho gebruik byvoorbeeld nie lidwoorde nie (‘n, die) en daarom vind Sesothosprekendes dit soms moeilik om hierdie woorde reg te gebruik. Baie tale het geen of min verkleinwoorde, waar ons in Afrikaanse enige ou woordjie kan vervorm tot verkleinwoordjie as ons willetjies, of hoe, my lesertjie? En so meer…
  3. As hulle ooit ‘n ander taal sal wil of moet aanleer, sal dit makliker wees. Hulle sal verstaan dat die vreemde taal nie aanmekaarpas soos hul eie taal nie, gewoond wees daaraan om te luister vir ander klanke. Dit beteken nie hulle moet alles verstaan wat in die ander tale aangaan nie, maar net die ore oefen. Basies net minder beperk wees tot wat hulle ken en nie alle tale oordeel volgens die een wat hul ken nie.
  4. Dis soms nuttig. Om byvoorbeeld te weet dat carne die Italiaanse woord vir vleis is, help wanneer mens leer van karnivore, ook in sommige restaurante. Om te weet alpha is die eerste letter van die Griekse alfabet, help om sin te maak uit “alfabet”, “Alfa en Omega”, “Alfa Centauri”, ens. Soms help dit net om ‘n fliek meer te geniet, wanneer hulle van die klanke herken as die film in ‘n ander land as Amerika of Engeland afspeel!

So, hoe doen mens dit? Begin jy om die kinders elke dag by ‘n ander persoon af te laai vir ‘n taalles? Wel, dit kan lekker wees, maar ook duur, frustrerend en tydrowend. Boonop is jy dan beperk tot vyf, ses of sewe tale. Hier’s ‘n paar dinge wat ons al gedoen, en geniet, het:

  • Eerste moet natuurlik wees om mense te leer ken van ander tale, maar dis makliker gesê as gedaan. As almal op jou dorpie Afrikaans praat, sal dit nie help nie. Maar… as jy tóg iemand leer ken wat ‘n ander taal praat, vra hulle net een woord, miskien “hallo” of “hoe gaan dit?” of “dankie” en gebruik daardie een woord elke keer wat jy hulle sien. Miskien kom jul tuinier uit Malawi of die deeltydse skoonmaakster uit Zimbabwe of die bure uit Bulgarye of iemand by die kerk is getroud met ‘n Franse dame! Gebruik daardie geleenthede.
  • Kleintyd het ons minstens en maal per week ‘n stukkie film gekyk in ‘n ander taal. Nie ‘n hele twee-uur-lange film nie. Sommer net ‘n 15 minute stukkie uit ‘n (aan ons) baie bekende tekenprent. Of een episode uit ‘n reeks. Dis nogal pret om te sien watter ander taalopsies daar op sommige DVDs is. Dis fassinerend om ‘n bekende tekenprent in Nederlands te kyk. Of selfs ‘n taal te kies wat ‘n ander skrif gebruik, sodat jy nie eens weet watter taal gekies is nie! Laat die kinders ook kies. Omdat ons nie in die week TV gekyk het nie, was selfs TV in ‘n onbekende taal ‘n waardeerde bederf. Na die tyd het ons elkeen een ding probeer noem wat ons opgeval het – die taal klink dalk harder, of sagter, as Afrikaans. Of meer vloeiend. Of dalk klink dit of die stemme die heeltyd kwaad is, maar dis net die taal.
  • Soms was dit meer doelbewus – met groot hulp van ander internetgebruikers die hele wêreld oor, danksy YouTube. Tik in “Count to ten in Turkish” of “Arabic alphabet song” of “Colours in Italian” of “Chinese PinYin”. Dis gewoonlik iemand se tuisgemaakte video, maar daar is ook soms gratis snitte uit opvoedkundige programme. Dis groot pret. Noudat die seuns ouer is, het hulle ook soms versoeke.

Sommige dinge onthou hulle na een keer se kyk of luister, ander gaan by die een oor in en die ander uit – maar selfs daarvoor moes dit DEUR die brein gaan!

Lewer kommentaar »

Dumb ways to die: gesondheidsopvoeding

Op ‘n stadium vandag kyk ek vinnig na ons roosterplan, teen die spensdeur opgeplak, om te sien wat die res van die dag inhou. Ons noem dit nie ‘n rooster nie, want ‘n rooster is vol dinge wat jy móét doen, soos voorgeskrewe boeke. ‘n Plan is eerder waarskynlike moontlikhede, meer soos aanbevole boeke. Dus, roosterplan. Die plan kan verander as daar beurtkrag is, of ‘n verjaardagpartytjie, of sommer net die lewe.

Nog net lewensvaardighede oor na ete, dan Engels en selflees. Maar wat sal ons doen vir lewensvaardighede? Ek het hierdie weeklikse halfuur ingewerk om voorsiening te maak vir dinge wat in teorie bespreek moet word, maar dis die eerste week (ons vyfde skoolweek vir 2015) waar daar nie vanself iets opgeduik het wat net wág vir hierdie halfuur nie.

Boonop is ek die afgelope rukkie besig om te dink aan die vak wat ek nog op skool gehad het in standerd drie en vier: gesondheidsopvoeding. Sommige van wat ons daarin moes leer, het ek toe al dom gevind, maar ander was weer interessant, dalk selfs nodig, meestal die veiligheidsaspekte. My onderbewussyn het al ‘n rukkie die opdrag om daaroor na te dink wanneer ek besig is met ander dinge.

Skielik gaan ‘n liggie aan! My man het my vertel van hierdie videosnit wat in Australië gemaak is met ‘n veiligheidsboodskap; dit is beslis lewensvaardighede, vind sommer ook aansluiting by die gesondheidsopvoeding-idee, is gratis beskikbaar op youtube, vereis geen voorbereiding van my kant af nie en laastens, ek weet die seuns het dit al gehoor en hou van die wysie. Wat meer het mens nodig van skoolmateriaal?

So saam met die middagete doen ons toe sommer ons week se lewensvaardighede-teorie: ons kyk “Dumb ways to die“. Die eerste keer speel dit sommer net deur, sodat almal kan lag vir die animasiekarakters se streke. Die tweede keer onderbreek ek die snit na elke reël, vra dan die seuns om die beurt waarom dit dan so ‘n dom ding is om te doen. Ons het dit net met die eerste twee verse gedoen, waarna ek besluit het dis genoeg inligting, ons sal die res volgende week doen. Laat hulle eerder onthou wat ons nou bespreek het.

Dit was ‘n baie interessante bespreking in dié opsig dat ek heelwat meer te wete gekom het oor wat die seuns nou eintlik weet. Soos dat kleinboet in die fynste besonderhede kan verduidelik waarom mens nie brood met ‘n vurk uit die rooster moet haal nie – van elektrisiteit, die vurk wat metaal is en dus geleier, tot by die mens se samestelling van grotendeels water met yster in jou bloed, dus ook geleier!

Ook dat nie een van hulle die vaagste benul het hoekom mens nie ‘n twee weke oue pastei kan eet wat nie in die yskas was nie! Hulle het naamlik nog nooit, ooit voedselvergiftiging gehad nie, nie eens ‘n klein bietjie nie. Omdat ek in my lewe al ‘n aantal onaangename ondervindings gehad het met troue-kos, is dit een van die dinge waaroor ek super-versigtig is. Daar het my oordrewe versigtigheid met voedselveiligheid toe mooitjies my seuns die geleentheid ontneem om dit uit eie ondervinding te leer… Sal hulle leer uit my teoretiese waarskuwing? Of moet ek hulle dit aan eie bas laat voel? (Ie-ie-iek!)

Lewer kommentaar »

Kry ‘n brood!

Soms voel dit of alle onderrig net in die spreekwoordelike bodemlose put verdwyn, sonder enige nut. Mens leer en vertel en verduidelik en gee raad en onderrig en wys en herhaal dit alles tot vervelens toe, sonder enige sigbare resultate. Maar soms…

Soms is daar ‘n ligstraaltjie wat jou aanmoedig om voort te gaan. Die ander dag is ons inderhaas by die huis weg. Daar is 30 minute oor voor karate begin, ons moet nog eers Checkers toe gaan vir brood en melk, dan betaal en dan na die karateklas; natuurlik mag hulle nie laat wees nie. So onderweg word die hele plan netjies uitgewerk: ons parkeer by die eerste plek wat ons kry, ook al is dit verder weg, want dis vinniger om te loop as te wag vir ‘n oop plek naby. Dan in die winkel moet ouboet van sy melk (laktosevry) gaan kry, kleinboet twee brode gaan haal, ek kry die vars melk, ontmoet mekaar by die kassiere – wie eerste daar is staan solank tou. Woerts-warts is ons al drie daar, betaal, hardloop kar toe en op pad na karateklas. Sjoe!

Êrens in die hardloop het ek opgelet dat kleinboet nie die maak brood gekies het wat ons gewoonlik koop nie, maar daar was nie tyd om iets daaroor te sê nie. In die kar vertel hy egter vanself in die lang sinne van ‘n agtjarige: “Daar wás van ons gewoonlike brood, en dit wás tien sent goedkoper as die goedkoopste ander grootbrood, ek het nie na die dunbrood,” (Toaster slices), “gekyk nie, want óns eet dit nie. Toe kyk ek vir die datums soos Mamma altyd maak, en sien dat ál die bruin grootbrode van ons soort se datum al more is! Toe soek ek vir die tweede goedkoopste grootbrood, en hulle datums is eers oor ‘n paar dae. Toe vat ek van daais, want ons wil nie óú brood eet as daar nuwes is nie, al is dit tien sent goedkoper – dis mos nie só baie nie. Is dit oukei?”

Soms sink dinge tog in. Eendag sal sy vrou hom met geruste hart kan vra om brood te koop.

Lewer kommentaar »

Lewensvaardighede

Die dag toe my kleinsussie tuiskom na skool en vertel van die vak “Lewensvaardighede” (Life orientation skills), het ek byna in my koffie verstik. As ongetroude, pas-begin-werkende, redelik akademies georiënteerde idealis, kon ek glad nie die nut daarvan insien nie. Eintlik, kon ek nie die nodigheid daarvoor verstaan nie. Dis tog nie dinge wat mens uit ‘n boek moet leer nie, dis sommer maar net deel van die lewe. Dit was sommer maar net ‘n teken van dalende standaarde in die skole, myns insiens… ‘Die kinders van vandag’… in my jongmens-wysheid.

Later jare, na meer blootstelling aan die werklikhede van die lewe, het ek besef presies hoe nodig dit is. Al meer gesinne het net werkende ouer(s); al meer kinders moet vanaf drie maande of so na ‘n oppasser gaan, dan na ‘n kleuterskool, dan skool en nasorgsentrum. Boonop van voor 8 soggens tot na 5 smiddags (ma/pa moet dan by die werk wees 8-5). Dan is daar aandete, huiswerk, miskien ‘n bietjie TV voor slapenstyd, want more-oggend moet daar weer vroeg opgestaan word. Naweke is sportwedstryde, verjaarsdagpartytjies, dalkies ‘n familiekuier of kerk en honderd-en-tien ander dinge wat ingepas moet word. So wanneer moet hulle eintlik sien hoe hierdie dinge gedoen word? Niemand (in Suid-Afrika, ten minste) gaan bank toe, doen weeklikse inkopies, laat kom die loodgieter of elektrisiën laataand nie. Sou hulle dalk so iets doen, moet die kinders tog reeds in die bed wees!

Daar is ook ander kinders wat bloot nie die geleentheid het om hierdie dinge te sien en beleef nie – hulle het nie eens ‘n geboude huis nie, waarom sou die loodgieter of elektrisiën nodig wees? Daar is nie eens genoeg geld vir moderne lewe nie, waarom bank toe gaan? Beslis geen luukse van weeklikse inkopies nie! Begroting beteken wanneer daar geld is moet jy besluit wat die heel dringendste ding is wat daarmee gedoen moet word, baie beslis nie vooruitbeplanning nie!

Nou dat ons tuisskool, is ek soms dankie-tog bly dat lewensoriëntering ‘n skoolvak is. Soms voel dit of ons dag niks verder kom nie as ‘die kar moet ‘n nuwe battery kry’, ‘daar’s fout met die bankrekening, ‘motorlisensie moet hernu word’, ‘saailinge moet nou geplant (en dus gekoop) word as ons hierdie jaar enige groente wil plant’, ‘die hoenderkos is op’, ‘daar’s ‘n venster wat vervang moet word, gaan by die glasplek verby’, ‘wat eet ons vanaand – o gats, inkopies!’ Tersyde: Hoekom gebeur hierdie dinge ook soms almal op een dag? Dan is ons van vroegmore uithuisig tot laatmiddag. Saans vra pa oor die dag se skool en die kinders antwoord: “Ons het amper geen skool gedoen vandag nie! Lekker!!” Pa frons in my rigting: “Is dit wat hier aangaan as ek by die werk is?”

Dan kan ek rustig antwoord: “Ons het vandag op lewensvaardighede gekonsentreer.” En dit tel. Want dis nou ‘n skoolvak.

1 kommentaar »

%d bloggers like this: