Dié kaartjie het ek gemaak vir ‘n vriendin se verjaarsdag. O ja, dis iets waarmee ek my graag besig hou: papierkuns.
- Die riffelkarton agter is gesny in ‘n 15cm x 10 cm reghoek, dan in die helfte gevou om ‘n 7.5cm x 10 cm kaartjie te vorm
- ‘n Stukkie tuisgemaakte papier van verhuisingsbokse (dis ‘n anderdag se storie) is geskeur in ‘n grootte van ongeveer 10cm x 6cm
- Met alfabetstempels is die 40 bo in die linkerkantste hoek en die naam onder in die regterkantste hoek gedruk in goudkleurige ink
- ‘n Stukkie helderpienk sneespapier (“tissue paper”) is gesny in ‘n sirkel. Met die middelpunt van die sirkel tussen duim en wysvinger stewig saamgevat, is dit gedraai om ‘n blommetjie te vorm
- Die blompot het ek in ‘n kunswinkel gekry – daar was sommige wat heeltemal gevorm is soos ‘n miniatuur-pot, en ander in die lengte deurgesny, wat dit natuurlik baie makliker maak om te plak
- Eers is die blompot en blommetjie uitgelê op die bruin (boks) papier om te meet hoe lank die groen pypskoonmaker gesny moet word; dan is die pypskoonmaker gesny
- Dit is die maklikste om eerste die confetti-blare te plak, dan die pypskoonmaker-stingel, laastens die blompot en blommetjie
- ‘n Stukkie gekleurde papier (passende groen of pienk sou goed werk vir hierdie kaartjie) is net effens kleiner as die riffelkarton-kaartjiegesny, gevou in die helfte. Dan is die boodskap daarin geskryf. Op hierdie manier kan mens maklik net die binneblad vervang as daar ‘n fout insluip by die boodskap.
- Met die boodskap geskryf, is die binneblad dan in die kaartjie geplak. Ek vind dit die beste om net die agterkant van die regterkantste helfte van die binneblad te gom, sodat die kaartjie ‘n bladsy het om om te vou wanneer dit oopgemaak word
Hmmm… gewoonlik het my kaartjies nie koeverte nie, want hulle is te bonkig om in ‘n koevert te pas. Miskien help hierdie om iemand se kreatiwiteit aan die vloei te kry! 🙂