Dalk dink jy nou: “Haai, oe, Blommie!” – dis mos vanselfsprekend. Maar ons het twee seuns. Hulle kom uit dieselfde genetiese poel (nature) en is in dieselfde familie grootgemaak (nurture). So hulle behoort dus redelik ooreen te kom in gedrag, reg?
Verkeerd!
Hulle is heeltemal verskillend. Een is ekstrovert, die ander introvert. Een is spaarsamig, een spandabel. Ek het reeds vertel dat hulle leerstyle nie dieselfde is nie en hulle geaardhede is SO verskillend en soms wonder ek of énigiets dieselfde is, behalwe hulle van. Hulle dink selfs in verskillende tale!
Hierdie foto is geneem in die middel van ‘n ete, boonop was hierdie geleentheid nie ‘n uitsonderlike geval nie, dis maar hoe etenstye lyk. Nou, dit is wel ‘n paar jaar gelede geneem en daar’s ook drie jaar ouderdomsverskil tussen hulle. Tog kan ek getuig dat nie veel verander van dié foto af tot nou toe nie. Is daar ‘n spoor van broodkrummels oor die tafel, kan jy sommer weet wie was daar. Stamp iemand per ongeluk ‘n glas van die kombuistoonbank af, vra niemand wie dit gedoen het nie. Ons weet. Tog, wanneer mens ‘n bal gooi, is dit daai einste mors-lomp-afstamp-kind wat die bal raakvang. Dit maak nie eintlik vir my sin nie, maar dis nou maar so.
Hoekom vertel ek hierdie alles? Dit beïnvloed elke dag se tuisskool. Een seun gaan kies ‘n afgesonderde tafel êrens in die huis om skriftelike werk te doen, die ander stertjie al agter my aan. Een vra oor die spelling van elke woord waaroor hy onseker is sodat hy nie fouteer nie, die ander skryf maar net en hoop dis reg. En om albei oor dieselfde kam te skeer sou rampspoedig wees!
Daarom berus ek my maar liewer daarby en probeer om hierdie dinge in ag te neem wanneer ek iets beplan. Op die ou end spaar dit net ons almal tyd, moeite en frustrasie. Dis byvoorbeeld meer leersaam vir die een om ‘n boek uit die biblioteek te leen oor ‘n onderwerp en al die teorieë te lees, daarom doen hy dit, waar die ander eerder op my skoot sal klouter (dit raak nou moeilik!) en luister na die praktiese implikasie vir alledaagse lewe, eerder as teorieë. Dit sou geen nut hê om die skootsitter te dwing om ook ‘n boek daaroor te lees nie – ek sou net aanhoudend moet neul en hy sal dit in elk geval nie inneem nie.
Tog dink ek daar is ‘n paar dinge waar mens maar op die swakplek kan konsentreer om dit op te bou. Die een is byvoorbeeld baie oplettend en die ander ‘n toe-oë-deur-die-wêreld dromer. Daar is gereeld ‘n stem vanaf die agtersitplek wat my maan dat die petrolvlak laag is, of herinner aan die spoedbeperking (veral op vreemde paaie). Dis die seun wat besig is om die vragmotor langs ons se onderstel te bestudeer op die snelweg, terwyl die ander seun nie eens weet daar is ‘n vragmotor óf snelweg naby nie! Juis daarom vra ek hom (die onoplettende dromer) om op die uitkyk te wees vir naambordjies wanneer ons ons op onbekende weë bevind. Want dis iets wat hy nodig het om eendag te kan funksioneer in die samelewing.
Party dae voel tuisskool maar soos watertrap. Soms is my kop bo, soms onder. Maar ek sal vir niks ter wêreld ophou watertrap solank ek ‘n keuse het nie!