Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

LEGO-kunsuitstalling

Ons, die hele familie, het ons dag se tuisskool gebruik vir ‘n besoek aan die kunsuitstalling van Nathan Sawaya, ‘n beeldhouer wat LEGO blokkies gebruik as medium, eerder as marmer, hout, gips of metaal.

Uit die staanspoor was dit ‘n goeie dag, want pa het ‘n dag se verlof gebruik om saam met ons ‘die STAD’ aan te durf. Enige uitstappie waarop pa saamkom, het onmiddelik verhoogde entoesiasme en belangstelling.

Gewoonlik wanneer ons êrens kuns raakloop (‘n uitstalling in ‘n winkelsentrum, straatmark, selfs vakansiewoonplek of kantoorgebou) stop ons eers ‘n oomblik, bekyk en bespreek. Dis maar ‘n redelike oppervlakkige bepreking, want ek is self glad geen kunskenner nie! Is dit ‘n portret, landskap of stillewe? Wat van die kleurkeuse – meestal lig, donker of kleurvol? Is dit realisties? Is daar enigiets ongewoon, soos ander dinge as verf? Lyk dit of dit ‘n emosie weergee, soos hartseer, vrolik, moeg? En dan natuurlik: hou jy daarvan of nie, en waarom sê jy so?

Maar met die Legokuns is daar soveel meer aan verbonde: sommige van sy skeppings is reproduksies van bekende kunsstukke; dis baie bevredigend om te hoor hoe die seuns uitroep: Dis Van Gogh! Daar’s Mona Lisa! Kyk, die sfinks! Natuurlik was daar eie konnotasies ook: Venus de Milo is ‘daai een wie se arms afgegooi is in Asterix en Obelix by die Olipmiese Spele’. Ouboet was in die wolke om ‘Die tweede Chinese perd’ te herken uit ‘n Geskiedenisles se rotstekeninge.

Omdat hulle ook hul eie familielede se smaak en voorkeure goed ken, kon hulle soms ‘n sekere persoon roep: Pappa, jy móét hierdie kom sien! Mamma, jy sal hier wil kyk! Boetie, jy sal hiervan hou! Hulle besef dus dat kuns subjektief is – almal hou nie van dieselfde goed nie (dankie, tog!)

Omdat sommige van die stukke driedimensioneel is, kon kleinboet op die grond kruip om te sien of Red Face Mask se neusgate hol is en daar ‘n tong in sy mond is, dan sy kop by Yellow se borsopening insteek om die holte te bestudeer, terwyl ouboet om en om Parthenon loop en binne-in tuur om te kyk dat dit daar ook netjies afgewerk is.

Ons kon Legokuns vergelyk met digitale beelde – hoe die blokkies té blokkierig kan wees as jy baie naby staan, maar ‘n prent vorm as jy terugtree, net soos wanneer jy op die rekenaar in- en uitzoem. Hoe dit makliker is om iets groots te laat rond lyk as iets kleins, soos met Apples en Tall Pencil, wat verklaar waarom hoë-resolusie beelde mooier lyk. Ag, ja, die blokkiesprente is ook vergelyk met Minecraft, want alles is so blokkierig, en een van hulle was vas van plan om in Minecraft ‘n skildery te probeer maak met verskillende kleure wol.

Die beste van alles is dat hulle baie goed bekend is met die medium. Daar was intense ontleding om uit te vind hóé sekere effekte verkry is. Hulle weet watter blokkies bestaan en wat nie. Daarom moet party blokkies op hul sy staan, byvoorbeeld in die Japanese skrif van The great Wave off Kanagawa. Die tegniese gesprekke het soms erg, wel, tegnies, geraak voordat hulle ooreengestem het oor hoe sekere dinge prakties uitgevoer is. Dis ‘n soort kennis wat hulle nie het van olieverf of marmer nie, daarom kon hulle hierdie keer die kunstenaar se bemeestering van die medium beter verstaan.

Dit was ‘n dag waarop ek baie bly was dat ons tuisskool. Beide ouers kon dáár wees om te sien hoe verskillende ‘skoolvakke’ en lewensondervindings bymekaar kom tot een genotvolle ervaring. Daar was geskiedenis, kuns, Minecraft, rekenaarkunde, Lego, argitektuur, beroepskeuses, Afrikaans, filosofie, kultuur en sommer nog baie meer, en niemand het eers ‘n klas aangebied nie!

Lewer kommentaar »

Tweetaligheid: leer lees

A is vir appel, B is vir bal… dis waar in Afrikaans, Engels en Duits. Maar R is nie vir altyd vir roomys nie. Soms is ‘E’ vir roomys en soms ‘I’.

Toe ouboet begin om deur prentewoordeboeke te blaai, en dit hardop te “lees” volgens die prentjies, het ons besef hier is ‘n probleem. Wanneer hy my ‘n ‘P’ wys, dan antwoord ek: “P, vir piesang”. Die aand kom Manlief tuis en ouboet storm op hom af, boek in die hand, wys trots na die ‘P’ en spog: “P, für Banane.” Dit was baie deurmekaar vir die knapie. Waarom is die prentjie van die vlermuis op die ‘V’ bladsy wanneer hy saam met Mamma lees, die ‘F’ bladsy wanneer Pappa lees, en in my maatjie se boek op die ‘B’ bladsy? Ander woorde, soos huis, gorilla en xilofoon, bly weer op dieselfde bladsy! Woordewêreld was ‘n baie deurmekaar plek.

Ons het gou besef hier kom ‘n groot verwarring, wat leer-om-te-lees in ‘n nagmerrie gaan verander. Gelukkig was daar ‘n vakansie in die Kruger-wildtuin om die draai. Dis net die regte plek om te dink terwyl jou oë die diere soek. Gewapen met notaboekie en potlood, het ons die vakansie benut om ook so tussenin ons eie alfabet saam te stel. Een met prentjies wat by dieselfde letter pas in al drie “ons” tale. Die vakansieweek was deurspek met uitroepe soos “Flamink! Dit werk!” en vreemde versoeke: “Noem vir my al die Duitse naamwoorde waaraan jy kan dink wat met ‘C’ begin, asseblief.”

Terug tuis was ons alfabet gereed. Met ‘n bietjie kreatiewe kroek hier en daar, vernaamlik die ‘C’, ‘Q’ en ‘Y’. Eers moes inkleurboeke, kunsboeke en hier en daar manlief se hulp ingeroep word om prentjies te kry van al die woorde. (Ek kan nie teken nie). Daarna is aftrek-vensterverf ingespan om ouboet se kamervenster te verander in ‘n alfabetplakkaat.

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Ons tuisskool vensterwoordeboek in drie tale

Die prentjies is ook geteken en ingekleur in ons eie papierwoordeboek. Later ek weer dieselfde prentjies gebruik om ‘n alfabetplakkaat te maak. Weer toe hulle leer lees het, om klein konsertinaboekies te prakseer. Weereens toe ek werksblaaie vir drukskrif gemaak het. Daardie vakansie se dinkwerk het nog vir baie lank vruggedra!

Nabyskoot van 'n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Nabyskoot van ‘n deel van ons tuisskool vensterwoordeboek.

Lewer kommentaar »

Kry ‘n brood!

Soms voel dit of alle onderrig net in die spreekwoordelike bodemlose put verdwyn, sonder enige nut. Mens leer en vertel en verduidelik en gee raad en onderrig en wys en herhaal dit alles tot vervelens toe, sonder enige sigbare resultate. Maar soms…

Soms is daar ‘n ligstraaltjie wat jou aanmoedig om voort te gaan. Die ander dag is ons inderhaas by die huis weg. Daar is 30 minute oor voor karate begin, ons moet nog eers Checkers toe gaan vir brood en melk, dan betaal en dan na die karateklas; natuurlik mag hulle nie laat wees nie. So onderweg word die hele plan netjies uitgewerk: ons parkeer by die eerste plek wat ons kry, ook al is dit verder weg, want dis vinniger om te loop as te wag vir ‘n oop plek naby. Dan in die winkel moet ouboet van sy melk (laktosevry) gaan kry, kleinboet twee brode gaan haal, ek kry die vars melk, ontmoet mekaar by die kassiere – wie eerste daar is staan solank tou. Woerts-warts is ons al drie daar, betaal, hardloop kar toe en op pad na karateklas. Sjoe!

Êrens in die hardloop het ek opgelet dat kleinboet nie die maak brood gekies het wat ons gewoonlik koop nie, maar daar was nie tyd om iets daaroor te sê nie. In die kar vertel hy egter vanself in die lang sinne van ‘n agtjarige: “Daar wás van ons gewoonlike brood, en dit wás tien sent goedkoper as die goedkoopste ander grootbrood, ek het nie na die dunbrood,” (Toaster slices), “gekyk nie, want óns eet dit nie. Toe kyk ek vir die datums soos Mamma altyd maak, en sien dat ál die bruin grootbrode van ons soort se datum al more is! Toe soek ek vir die tweede goedkoopste grootbrood, en hulle datums is eers oor ‘n paar dae. Toe vat ek van daais, want ons wil nie óú brood eet as daar nuwes is nie, al is dit tien sent goedkoper – dis mos nie só baie nie. Is dit oukei?”

Soms sink dinge tog in. Eendag sal sy vrou hom met geruste hart kan vra om brood te koop.

Lewer kommentaar »

Kurrikulum: Van netjiese boks tot mengelmoes

Voorheen het ek vertel hoe ons by die netjiese tuisskool uitgekom het: koop een boks met alles daarin wat jy vir ‘n jaar gaan nodig kry. Nadat ons die Sonlight kurrikulum vir twee jaar geniet het, was dit tyd om nuwe skoolmateriaal te kry. Ek het reeds maande lank die Sonlight-katalogus bestudeer sodat ons weer één boks kon kry wat ons oor twee jaar gebruik. Dit was werklik ‘n baie goeie kurrikulum en ons het veral die pragtige boeke baie geniet – ons is ‘n leesfamilie.

Voordat ons egter by die bestel daarvan kon uitkom, het lewensomstandighede sodanig verander dat ons dit doodeenvoudig nie kon bekostig nie, ons het net nie die dollers gehad vir een boek nie, wat nog te sê ‘n boks vol! En die versending is byna net so duur soos die boks. Vir ‘n rukkie was ek in ‘n toestand: hoe moet ek my seuns (wat eendag hulle families moet kan onderhou) ‘n behoorlike opvoeding gee sonder om geld uit te gee?

Gelukkig het hierdie nie gebeur terwyl ons nog streng die kurrikulum se skedule gevolg het nie, want dan sou die verandering veel swaarder wees. Omdat ons reeds vir byna twee jaar ons eie stukkies werk by hul boeke gevoeg het, en hul boeke uitgerek het, boonop Afrikaans en Duits ekstra gelees het, was ons darem effens voorbereid daarop om self ons weg te moes baan.

Weereens het ek ure op die net deurgebring – my grootste beskikbare ondersteuningsraamwerk. So het ek gevind dat honderde ander tuisskolers nie netjies verpakte bokse gebruik nie, maar self meng-en-pas. Dalk kon ons ook ons eie laslappiekurrikulum maak.

Dus ek het ‘n lysie gemaak (ek’s gek na lysies) van dié dinge wat ons elke dag moet doen. Op daardie stadium was ons op ‘n Kindergarten en graad 1-2 vlak. Die lysie was basies wiskunde, Afrikaans (huistaal), Duits(huistaal), Bybel en skrif (of dan, fyn motoriese vaardighede wat skrif sal bevorder) onder die kolom ‘daagliks’ en dan Engels (bykomende taal), wetenskap, geskiedenis, aardrykskunde, kuns en musiek onder die kolom ‘weekliks’ . Hieruit het ek twee dinge geleer:

  1. Moenie dinge te ingewikkeld maak nie. Ons is nie ‘n skool nie, en hoef dus nie elke vak afsonderlik te lys om ouers tevrede te stel nie. Dit was nie lank nie of byna die hele kolom ‘weekliks’ het saamgesmelt tot “Algemene Kennis”
  2. Waar jy die spreekwoordelike twee vlieë met een klap kan slaan, slaan hulle. Of sommer twee of drie! Byvoorbeeld, as hy sy Bybelvers vir die week een dag in Afrikaans uitskryf, die volgende dag in Duits en die volgende in Engels, dan tel dit sommer terselfdertyd vir die tale (spelling / woordeskat), Bybel en skrif. As julle na kunsprente kyk (soos Come look with me-reeks), bespreek dan sommer die kuns én die onderwerp (geskiedkundig, natuurwetenskap, Bybelverhaal, ens.).

Die eerste paar maande, dalk selfs jaar, van hierdie tydperk was seker die moeilikste in ons hele tuisskool ooit. In ‘n vreemde land, waar geen Afrikaanse bronne beskikbaar is nie, en baie min Engels van goeie kwaliteit teen lae koste (byvoorbeeld die biblioteek) was dit maar swaar. Verder het baie min van ons kenisse en vriende geweet hoe dit eintlik gaan.

Byna al ons daaglikse skoolmateriaal het ek self gemaak. Meestal met die hand geskryf, want drukkersink is duur. Gewoonlik het ek saans, na die seuns gaan slaap het, die hele volgende dag se skoolmateriaal gemaak. Die boekies waaruit hulle leer lees, plakkate, werksblaaie. Verder het ons soveel moontlik van die internet gebruik gemaak, geleer van skootboeke (lapbooks) – wat boonop baie vakke in een aktiwiteit afhandel.

Êrens in hierdie tyd het iemand in ons kerk my genader – sy het voorheen hulle vier seuns getuisskool, en het op hope skoolmateriaal afgekom wat hulle nooit weer sal gebruik nie, wil ons dit dalk hê? Sommige was halfgebruikte werksboeke, ander bordspeletjies, opblaas-aardbol, geo-borde, flitskaarte en nog ander hulpbronne wat ons nie op daardie stadium kon bekostig nie. Dit was ‘n hemelse geskenk, selfs in Engels!

Ons het dus in minder as drie jaar deur verskillende tuisskoolmetodes gegaan: eers kurrikulum-in-‘n-boks, daarna kurrikulum-op-eie-tempo-met-ekstras, toe die geen-geld-koop-niks metode. Na ongeveer twee jaar van laasgenoemde het die geleentheid hom voorgedoen vir ons om terug te kom na Suid-Afrika, en ook om begroting te hê vir skooldinge.

Wat ‘n wonderlike verbetering was daar nie intussen in Suid-Afrika nie. Daar is Slimkoppe, Alles-in-een, soveel materiaal by enige PNA, CNA, selfs by die ‘plastiekwêreld’ tipe winkels! Dis asof private opvoedkundige materiaal net skielik orals te koop is.

Nou gebruik ons ‘n mengsel van rekenaarkursusse, gekoopte werksboeke, die biblioteek!, groepsaktiwiteite en gratis internetbronne, maar is ook nie bang om self iets te maak as dit wat beskikbaar is ons nie pas nie. Na al die rondspartel van een uiterste na die ander, is dit heerlik om uiteindelik te voel ons het ‘n soort ekwilibrum. Ten minste vir nou. 🙂

1 kommentaar »

Ons kurrikulum-storie (deel 2)

In my vorige inskrywing het ek vertel hoe ons, as Afrikaans-Duitse gesin van Suid-Afrika, in ‘n vreemde land ‘n Amerikaanse (Engelse) kurrikulum-in-‘n-boks begin gebruik het. Met Sonlight kon mens presies sien wat jy koop vóórdat jy dit koop, en al die boeke was treffers! (Perfek, sê ouboet wat hier oor my skouer sit en lees in plaas daarvan om sy Engelse skryfwerk te doen…)

Daar was selfs ‘n skedule by wat mens se skooljaar organiseer in 36 weke, en presies wys watter bladsy van watter boek jy moet lees elke dag. Ons moes natuurlik ‘n paar ekstra blokkies trek vir elke dag, want die oudste het reeds begin lees in Afrikaans en Duits, en dit moes elke dag geoefen word. Verder wou hy graag begin met skryf en Wiskunde, so dit het alles by die skedule bygekom.

Na ‘n paar weke van entoesiasme het ek agtergekom dat hy begin om minder en minder lus te lyk wanneer ons na die skoolhoekie gaan. Boonop het baie dae se skool eers laatmiddag gestop met ‘n kom-ons-moet-nog-hierdie-bladsy-ook-doen-vandag-anders-raak-ons-agter sessie, net om al die blokkies te kan afmerk vir die dag se skool.

Dis wat dit geword het: binne ongeveer een kwartaal het almal se entoesiasme en opgewondenheid om te tuisskool, almal (ma en seun) se leersame gees en afwagtende vreugde, afgewater tot by merk-al-die-blokkies-af plig. Skool was nie meer lekker nie. Dis nie lekker as ‘n kind huil want hy’s nie nou lus om nog te lees óók nie, hy’s klaar moeg van al die ander goed en wil eerder met sy treintjies speel. Dis nie lekker om ‘n kind aan te jaag nie om tóg nét asseblíéf tóg klaar te maak met hierdie bladsy, want ek moet nog kos maak ook voordat kleinboet wakker word.

Die hartseerste daarvan is dat dit alles voorheen lekker was! Hy het begin om te leer lees op die ouderdom van 4, want hy wou. Hy het begin om Wiskunde te doen, en dit geniet, voor sy 5de verjaardag, want hy wou graag. Ek het al die Engelse boeke in Afrikaans voorgelees, graag, want dit was lekker. Maar nie meer nie. Vir niemand nie. Ook nie vir pa wat saans tuiskom en in donderwolkgesigte moet vaskyk nie! Dit alles in ‘n vreemde land waar ons eintlik net mekaar en God het.

Op ‘n dag het ons (ek) die genoeg-is-genoeg punt bereik. Vir ‘n week of twee lank het niemand eers na die skoolhoekie gegaan nie, nie eers om deur die mooi boeke te blaai nie. En ek het heeldag op die internet deurgebring, elke dag. (Wel, wanneer kleinboet nie dringende aandag nodig gehad het nie.)

Op die net het ek gedwaal van die een tuisskool-webblad, -ondersteuningsgroep, -geselsvertrek en -blog na die ander. Gelees wat ander mense te vertelle het. Woorde leer ken soos ‘unschool’, ‘deschool’, ‘eclectic approach’, ‘school-at-home’, allerhande name soos Waldorf en Montessori, verskeie filosofieë en metodes wat tot nog toe geheel en al aan my onbekend was. Ek’t begin verstaan waarom sommige mense gekant is teen die woord tuisSKOOL, maar tuisONDERRIG verkies. Gelees hoeveel ander tuisskoolma’s moedeloos op die internet roep om hulp, om deur soveel, so-baie-veel geantwoord te word, met bemoedigings, aanmoedigings, persoonlike verhale, praktiese voorstelle, en nog meer. Dit was hartroerend en helend: Ek is nie die enigste nie; bevrydend: Slaafse navolging van ‘n kurrikulum is nie die enigste manier nie.

Eindelik het ons weer begin skool, en nog steeds die blokkies afgemerk, maar as dit nou drie dae neem om een dag se blokkies te merk was dit maar nou net so. Aanvanklik moes ek dit teenoor myself regverdig: wel, ons doen ook hierdie en hierdie ekstra. Tog het selfs die behoefte om verskoning te maak vir hoeveel ons elke dag gedoen het, mettertyd verminder. Daarteenoor het die genot, die lus vir ontdekking, die opgewondenheid oor “wat lekkers gaan ons vandag doen?” teruggekom. Ons het selfs ander dinge begin doen wat die kurrikulum nie voorgeskryf het nie. En as iemand bel om te vra of ons wil saamkom dieretuin toe, dan het ons sonder ‘n tweede gedagte alle skoolgoed weggepak en saamgegaan.

Ons het weer geleer om te doen waarin ouboet belangstel, wat lekker is vir almal en ook prakties is met kleinboet se roetine wat elke maand verander. Skool was weer pret!

So het die eenjaarboks ongeveer twee jaar gehou. Instede van ‘n gedig ‘n dag uit “Mother Goose”, het ons een ‘n week gelees – en dit was ouboet se enigste beplande Engelse lesse tot en met hierdie jaar (graad 6-erig). Sonder die druk om baie dinge op ‘n dag te doen, kon ons die gedig behoorlik van alle kante af beetpak: nuwe woordeskat, sommer rym, ritme, alliterasie, beeldspraak gesoek, en groot besprekings gehad oor die moontlike lesse uit die gedig. Ouboet is nogal ‘n prater en ‘n filosoof.

Alhoewel die eenjaarboks gerek het tot twee jaar of so, was dit tog op ‘n dag deurgelees. Wat nou? Bestel ons weer ‘n boks of doen iets anders?

1 kommentaar »

Ons kurrikulum-storie (deel 1)

Destyds toe ons besluit het dat tuisskool in ons pad vorentoe wag, was die kinders onderskeidelik 1 en 4 jare oud. Kort daarna was daar ‘n tuisskool-ekspo naby ons, dus het ons gaan kyk na die verskillende opsies. Die lesings oor tuisskool was interessant, en verskeie van die lesse wat ander uit ondervinding geleer het, het ons gehelp om makliker deur die tuisskoollewe te kom.

Die ander hoogtepunt van die dag was al die kurrikulumverskaffers en ander bronne van opvoedkundige materiaal wat elk ‘n stalletjie gehad het om te wys wat hulle bied. Dáár het ek byna die hele Saterdag deurgebring. Al was die kinders nog ver van verpligte skoolouderdom, is dit nooit te vroeg (of te laat) om te begin navors en planne te beraam oor wát ons nou presies gaan doen nie. Van stalletjie tot stalletjie het ek beweeg om die oorwegend Suid-Afrikaanse opsies te bestudeer.

Een van ons redes om te tuisskool is dat ons as ouers wou toesien dat ons kinders hulle taalerfenis (Duits en Afrikaans) behou. Dus wou ons graag oorwegend Afrikaans en Duits as taalmedium gebruik, ten minste vir die eerste paar jaar, totdat die grondslag goed gelê is. Natuurlik het ons nie verwag om maklik Duitse materiaal te kry nie – dis immers Suid-Afrika hierdie, en tuisskool is onwettig in Duitsland. Maar ‘n tuisskoolekspo in Suid-Afrika is mos die ideale geleentheid om Afrikaanse bronne te soek!

Die idealis in my was totaal teleurgestel. Sommige dinge was net in Engels beskikbaar. Sommige van die beskikbare onderrigmateriaal in Afrikaans was werklik baie duur, veral dié gerig op kleuterskoolouderdom (wat mens dan ook nie vir lank kan gebruik nie). Meeste van die verskaffers wat op hoërskool fokus, het streng die nasionale kurrikulum gevolg, wat nie eintlik veel vryheid toelaat nie.

Die enkele laerskool-kurrikulum-verskaffers wat daar was, het ‘n geslote-boks stelsel gevolg: Koop hierdie boks vir soveel Rand, en daarin is alles wat jy nodig het vir so-en-so graad. “Ek wil graag sien presies watter boeke in hierdie graad gelees gaan word, watter geskiedenis / kuns / wetenskap hulle behandel, hoeveel skryfwerk daar per dag is, asseblief?” Nee, jy kan hier (by die ekspo) na ‘n paar van ons werkboeke kyk om te sien hoe dit lyk, maar wat in die boks is vir elke graad, is ons geheim (my parafrasering). Hoe weet mens dan of dit goeie kwaliteit is? Wel, daarvoor lees jy die getuigskrifte van ander wat dit reeds gebruik het. Maar hoe weet mens dan of die materiaal of onderwerpe by jou kinders gaan aard? Alle kinders is tog nie dieselfde nie – dis seker die grootste verskil tussen ‘n skool en tuisskool. Aanpasbaarheid. Verder koop mens tog nie ‘n motor sonder om alle aspekte daarvan te bestudeer nie? Of gee ‘n paar duisend rand uit op ‘n voedselverwerker of draaibank sonder om te weet presies wat dit alles kan en nie kan doen nie?

Voeg daarby die hartseer feit dat in die vlugtige kykie wat ek gehad het, elke een van hierdie verskaffers êrens ‘n spelfout verkoop het! Soms in ‘n werkboek, soms op hul advertensiemateriaal, soms in hul eksklusiewe leesboeke. Hoe kan ek regverdig om baie van my man se swaarverdiende geld uit te gee op ‘n meestal onbekende produk, as die klein bietjie wat ek wel kon sien, foute bevat? Hoe kan mens ‘n kurrikulumverskaffer vertrou om die regte inligting aan jou kinders te gee, as van hulle Afrikaanse leesboeke vir graad een spelfoute in het? (In ‘n ander skrywe het ek reeds genoem dat ek in my jonger jare ‘n akademies-georiënteerde idealis was… dalk het dit verander?)

Nou moet ek byvoeg dat hierdie ‘n hele paar jaar gelede was en dat dinge intussen baie verander het soos wat tuisskool meer wortel geskiet het in ons land. Maar dis hoe dit toe was. Baie teleurstellend.

Kort daarna is ons land-uit agter werk aan (vir my man), sonder enige Suid-Afrikaanse kurrikulum. Nadat ons ‘n aantal tuisskolers en voormalige tuisskolers van verskillende lande ontmoet het, het ons besluit om Sonlight te probeer – mens weet boonop presies wat is in die boks! Al is dit dan nou ook Engels. Ons het die ‘Kindergarden’-boks gekoop, en ‘n paar ekstras: Ouboet het reeds begin om te leer lees (in Afrikaans) met kaartjies en boekies wat ek self gemaak het, en hy wou baie graag ook begin somme maak en skryf. Daar was groot opgewondenheid toe die boks uitgepak word, en ek moet erken, dit was seker een van die beste tuisskool-kopies wat ons nog ooit gemaak het. Al was dit dan nou ook Engels, en nie-Suid-Afrikaans. Dit was alles van uitstekende gehalte, interessant en van hoë standaard in elke opsig.

Meer daaroor volgende keer!

Lewer kommentaar »

Lewensvaardighede

Die dag toe my kleinsussie tuiskom na skool en vertel van die vak “Lewensvaardighede” (Life orientation skills), het ek byna in my koffie verstik. As ongetroude, pas-begin-werkende, redelik akademies georiënteerde idealis, kon ek glad nie die nut daarvan insien nie. Eintlik, kon ek nie die nodigheid daarvoor verstaan nie. Dis tog nie dinge wat mens uit ‘n boek moet leer nie, dis sommer maar net deel van die lewe. Dit was sommer maar net ‘n teken van dalende standaarde in die skole, myns insiens… ‘Die kinders van vandag’… in my jongmens-wysheid.

Later jare, na meer blootstelling aan die werklikhede van die lewe, het ek besef presies hoe nodig dit is. Al meer gesinne het net werkende ouer(s); al meer kinders moet vanaf drie maande of so na ‘n oppasser gaan, dan na ‘n kleuterskool, dan skool en nasorgsentrum. Boonop van voor 8 soggens tot na 5 smiddags (ma/pa moet dan by die werk wees 8-5). Dan is daar aandete, huiswerk, miskien ‘n bietjie TV voor slapenstyd, want more-oggend moet daar weer vroeg opgestaan word. Naweke is sportwedstryde, verjaarsdagpartytjies, dalkies ‘n familiekuier of kerk en honderd-en-tien ander dinge wat ingepas moet word. So wanneer moet hulle eintlik sien hoe hierdie dinge gedoen word? Niemand (in Suid-Afrika, ten minste) gaan bank toe, doen weeklikse inkopies, laat kom die loodgieter of elektrisiën laataand nie. Sou hulle dalk so iets doen, moet die kinders tog reeds in die bed wees!

Daar is ook ander kinders wat bloot nie die geleentheid het om hierdie dinge te sien en beleef nie – hulle het nie eens ‘n geboude huis nie, waarom sou die loodgieter of elektrisiën nodig wees? Daar is nie eens genoeg geld vir moderne lewe nie, waarom bank toe gaan? Beslis geen luukse van weeklikse inkopies nie! Begroting beteken wanneer daar geld is moet jy besluit wat die heel dringendste ding is wat daarmee gedoen moet word, baie beslis nie vooruitbeplanning nie!

Nou dat ons tuisskool, is ek soms dankie-tog bly dat lewensoriëntering ‘n skoolvak is. Soms voel dit of ons dag niks verder kom nie as ‘die kar moet ‘n nuwe battery kry’, ‘daar’s fout met die bankrekening, ‘motorlisensie moet hernu word’, ‘saailinge moet nou geplant (en dus gekoop) word as ons hierdie jaar enige groente wil plant’, ‘die hoenderkos is op’, ‘daar’s ‘n venster wat vervang moet word, gaan by die glasplek verby’, ‘wat eet ons vanaand – o gats, inkopies!’ Tersyde: Hoekom gebeur hierdie dinge ook soms almal op een dag? Dan is ons van vroegmore uithuisig tot laatmiddag. Saans vra pa oor die dag se skool en die kinders antwoord: “Ons het amper geen skool gedoen vandag nie! Lekker!!” Pa frons in my rigting: “Is dit wat hier aangaan as ek by die werk is?”

Dan kan ek rustig antwoord: “Ons het vandag op lewensvaardighede gekonsentreer.” En dit tel. Want dis nou ‘n skoolvak.

1 kommentaar »

%d bloggers like this: