Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

3 Maklike Watereksperimente

Wetenskap is pret! Leer is lekker!

As hierdie twee dinge vroeg-vroeg reeds by ‘n kind ingeskerp word, dan is die stryd reeds halfpad oorwin. Goed begonne, half gewonne. Dis ‘n belangrike doelwit in ons tuisskool-lewe (wel, eintlik bedoel ek nou die pret-deel, maar ook die goed begonne). Kinders is van nature leergierig, dit hang af of hierdie lus vir leer aangemoedig word of met verveling gesmoor word.

Seuns hou daarvan om met water te mors. Ja, ek weet tuisskoolouers wil ook nie heeldag skoonmaak en opruim na ‘n morsige leerondervinding nie. Dit hoef ook nie só morsig te wees nie en die kinders kan gerus van jongs af leer om te help opruim na die eksperimente.

Vir ons was eksperimente, veral dié met water daarby, ‘n goeie manier om te leer, maar ook terselfdertyd aan te leer dat wetenskap, en leer oor die algemeen, lekker is. Hier is drie watereksperimente vir voorskool, graad 1 of graad 2 wat byna geen voorbereiding verg nie:

Dryf of sink?

Al wat nodig is, is ‘n skottel (of bad) vol water, ‘n papier en potlood. Dis nou van ma se kant af. Dan mag die seuns 20 (dit pas goed in op ‘n folio papier) dinge kies waarmee hulle wil eksperimenteer. Ouboet skryf die name van al hierdie dinge onder mekaar neer op die papier, as die eerste kolom . (Dit tel sommer ook as spelling / Afrikaans / skrif vir die dag, want daar gaan waarskynlik woorde wees wat hy nie weet hoe om te spel nie.)

Dan moet Ouboet en Kleinboet raai watter van hierdie dinge sal dryf en watter sink, in water. Een kolom vir Ouboet se hipotese, een vir Kleinboet s’n – hy hoef net ‘n D of S te maak langs elke voorwerp. Nou vir die pret.

Hulle maak beurte om die goed in die skottel water te gooi, te kyk of dit dryf of sink, dan moet Ouboet weer die waarneming noteer.

????????????????????

Daarna kan hulle kyk hoeveel van hulle hipotese reg was, en dalk is daar ‘n besprekingspunt of twee as dinge anders was as wat hulle dink.

Wat gebeur as dit vries?

Benodigdhede: ‘n Deursigbare houer wat in die vrieskas mag gaan, ‘n rekkie wat om die houer sal pas, water en voedselkleursel.

Nou ja, die voedselkleursel is nie noodsaaklik nie, maar gekleurde water is meer pret – ook meer sigbaar.

Vul die houer gedeeltelik met water, voeg voedselkleursel by (“Cool!”). Pas dan die rekkie om die houer. Die seuns kan seker maak dat die rekkie mooi presies op die watervlak lê as merker.

Plaas dan die houer in die vrieskas (of vrieskompartement van die yskas) totdat die water gevries is. Wees daarop voorbereid dat die vrieskas of yskas ‘n honderd keer oopgemaak gaan word om te kyk of dit al gevries is!

????????????????????

Wanneer die water solied gevries is, haal dit uit, maar wees versigtig om nie die rekkie te skuif nie. Die seuns vergelyk nou die watervlak toe die water nog vloeistof was, soos gemerk deur die rekkie, met die volume noudat dit gevries is. Water sit uit wanneer dit vries!

Lug is ligter as water

Met weereens ‘n bak vol water, ‘n strooitjie en ‘n leë koeldrankblikkie, of ander houer met klein opening, is almal gereed vir nog ‘n watereksperiment!

Begin deur na die dryf of sink-eksperiment te verwys: Sal ‘n leë koeldrankblikkie dryf of sink? Wat daarvan as die blikkie vol water is? En as dit vol lug is?

Maak die koeldrankblikkie vol water en sit dit in die bak water, waar dit sink. Laat die seuns beurte maak op die strooitjie by die blikkie se opening in te steek en te blaas. twee dinge kan nie terselfdertyd dieselfde ruimte inneem nie. Ons kar kan nie wees waar ‘n ander kar reeds is nie, dan is daar ‘n ongeluk. Net so met die lugwat hulle uitblaas en die water in die blikkie – albei kan nie in die blikkie wees nie. Omdat die lug ingeblaas word, druk dit die water uit. Soos wat daar meer lug in die blikkie is, begin die blikkie hoër in die water lê totdat dit eindelik dryf. Die lug in die blikkie maak dit nou ligter as die water, daarom dryf dit.

????????????????????

Dan, om sommer ‘n ekologiese les daarby in te werk, herinner ek die seuns daaraan om nie die water sommer net in die drein af te gooi nie – dis immers nog skoon bruikbare water. Benat die potplante daarmee, vul die troeteldiere se waterbakke of selfs die toilet se watertenk!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – 1 tot 10

Daar is verskeie menings oor waar die vorming van nommers nou eintlik hoort – as Wiskunde of as skrif.

Ek stem saam met diegene wat die skryf van die nommers klassifiseer as ‘n skrifoefening. Om te weet hoeveel is agt (die betekenis van die woord) is Wiskunde; om die nommer te kan skryf, en te oefen om dit netjies te kan skryf, is skrif.

Veral kinders wat nie daarvan hou om te skryf nie, ontwikkel maklik ‘n hekel aan wiskunde wanneer wiskunde gebruik word as skrifoefening. Verder is daar nie veel nut in om ‘n hele ry 3’s, dan ‘n ry 4’s te maak elke keer voordat jy ‘n paar somme maak nie – dit word meestal net afgerammel, en help nie om netjiese skrif aan te leer nie. Nou ja, dis my storie en ek bly daarby – hierdie inskrywing is nie daar om ‘n debat aan die gang te sit nie!

So, elke mens kan gerus hul eie opinie oor die saak hê! Hier is die werksblaaie wat ek gemaak het toe ons seuns se tuisskool nog op voorskoolse vlak was:

Nommer 1

Nommer 2

Nommer 3

Nommer 4

Nommer 5

Nommer 6

Nommer 7

Nommer 8

Nommer 9

Nommer 10

Soos wat ek reeds genoem het, vind ek dat dit meer voordelig is om ‘n klein hoeveelheid skryfwerk netjies te doen as ‘n bladsy vol te skryf wat al hoe slordiger daar uitsien soos die kind al hoe minder lus is om dit te doen. Daarom is die drukstukke kort en duidelik.

Lekker tuisskool!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – U tot Z

Nadat ons minstens eenmaal die werksblaaie van al die letters en nommers gedoen het, het ons die voltooide werksblaaie in ‘n boek saamgebind en dit in daardie seun se kamer gaan neersit.

Omdat hy trots is op wat hy gedoen het, kyk hy soms daarna vir ‘n hele tydjie nadat dit voltooi is en trek soms die letters weer na met sy vinger, of met kleurpotlood bo-oor die voorheen gedoende grys potlood. Op hierdie manier word die letters deur die vakansie ingeskerp uit vrye wil, wat ‘n baie kragtige manier is van leer.

Enige prentjies wat hy nog nie ingekleur het nie, kan hy ook nou inkleur, wat ook fyn motoriese spierbeheer oefen. Beide ons seuns hou nie daarvan om in te kleur wanneer hulle moet nie, maar kleur graag in wanneer hulle lus voel om dit te doen.

Die einddoel hiervan is tweeledig: eerstens om trots te kweek op voltooide werk, tweedens om die volgende jaar se hersiening te vergemaklik. Omdat die letters nog bekend is, is daar dan minder tyd nodig om hulle weer te leer, en kan vinniger voortgegaan word met nuwe werk.

Die laaste ses letters van die alfabet:

U is vir uniform, Uniform & uniform (weer in Afrikaans, Duits en Engels)

V is vir vulkaan, Vulkan & volcano

W is vir walvis, Wal & whale

X is vir xilofoon, Xylophon & xylophone

Y is vir ys (die onmoontlikste letter om in al drie tale ‘n gewone woord voor te vind!)

Z is vir Zoeloe, Zulu & Zulu

Volgende inskrywing handel oor voorskoolse oefening van nommers!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – P tot T

Soos tekstuur gehelp het om ouboet te leer, so werk beweging weer vir kleinboet. Hy het ook die tekstuurkaarte nagetrek, maar dit was eerder agter die skootsittery aan as enigiets anders.

Vir hom het dit gehelp om die letters fisies te maak: met sy hande, met sy voete of met sy hele liggaam. Hy moes iets optel of trap of rondbeweeg om dit te máák. Of dit nou was met groot stukke karton wat in die nodige vorms gesny is, volgens Handwriting Without Tears se patroon, of met spaghetti wanneer die letter nie kurwes het nie, of selfs met swembadnoedels vir hierdie letters – hy wou dit uitpak.

Op beddegoed-wasdag het ons eers die lakens gebruik om die dag se letter uit te pak voordat dit in die wasmasjien beland het. Dis veral nuttig vir die geboogde letters, soos C, O, G en J.

Wanneer ons verby ‘n swembad gestap het, het ons eers ons voete in die water gedruk en dan letters gestap op die plaveisel langsaan – die nat voetspore vorm duidelike letters, maar word gou weer droog (so daar is geen vandalisme nie). Dieselfde geld vir ‘n stappie op die strand (of in ‘n sandput) waar die sand gelyk is, deur met hak-teen-toon voetspore, of deur een voet in die sand gesleep, die letters te stap.

Soms het ons groot letters gemaak, ‘n paar treë hoog, soos deur met ‘n stok in die grond te krap. Soms was dit kleiner, soos met gebreekte stukke ontbytkos (bv. Otees). Soms was dit plat figure, soos die voetspore of sleepmerke, soms driedimensioneel, gepak met takke, blare, klippe, kos of wasgoed. Solank dit net grootmotoriese liggaamsbeweging ingesluit het… meer soos speel as soos skool.   🙂

Die vorige vyf werksblaaie vir voorskoolse drukskrif-hoofletters, is hier beskikbaar. Hier is dan die drukstukke vir letters P tot T:

P is vir pan, Pfanne & pan (Afrikaans, Duits & Engels)

Q is vir Qatar lugredery. (Gedurende die tyd wat ons in die buiteland gewoon het, was hierdie volgens die seuns die beste lugredery, en dus vir my ‘n maklike oplossing vir die problematiese letter Q!)

R is vir reënboog, Regenbogen & rainbow

S is vir slang, Schlange & snake

T is vir tafel, Tisch & table

Volgende keer die laaste ses letters. Ek hoop dit help êrens iemand om ‘n makliker dag se tuisskool te kan geniet!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – K tot O

Tekstuur is baie belangrik vir ouboet. Hy eet nie sommige kosse nie, omdat die tekstuur hom naar maak. Hy dra nie graag sommige klere nie, want “dit voel nie lekker op my vel nie” (so hy moet maar liewers klaar aanpas in die winkel voordat dit gekoop word!).

Siende dat hy dus so gevoelig is vir tekstuur, het ek besluit om dit in te span. Ek het stewige karton gebruik (soos die agterblad van ‘n eksamenblok) en in groot blokke gesny, omtent so 10cm x 7cm. Daarop het ek dan die letters geteken, eers in potlood sodat ek nog foute kon regmaak, een per blok. Bo-oor die potlood dan nagetrek met omlyner (“liner”), ‘n dik een, soos met glasverf of materiaalverf. Nadat die omlyner droog was, het ek die klein nommertjies, wat volgorde aandui, ingevul met ‘n gewone swart pen.

Wanneer ons vir die eerste keer die skryf van ‘n nuwe letter oefen, het ons dit eers met die vinger op hierdie tekstuur-blokke nagetrek. Die omlyner maak ‘n duidelik voelbare riffel en die klonte in die goedkoop, veeldoelige omlyner wat ek gebruik het, het dit net versterk. ‘n Paar herhalings van die natrekbeweging help om die letter se vorm, sowel as die volgorde van die bewegings, in te skerp nog voordat hy moes begin skryf.

Omdat die blokke ook groter is as wat die letters uiteindelik op papier sal wees, is dit verder byna grootmotoriese beweging. Ouboet het gewoonlik op my skoot gesit, op ‘n stoel weg van ‘n tafel. Met niks om jou elmboog op te steun nie, moet mens jou hele arm beweeg om die letters na te trek, nie net ‘n vinger nie.

Die tekstuurletters se vorm en voorkoms stem ook ooreen met die werskblaaie, wat help om kontinuïteit te verleen.

Hier is die aflaaibare werksblaaie vir die voorskoolse drukskrif-hoofletters wat ek gemaak het:

K is vir kangaroe, Känguru, kangaroo

L is vir lorrie, Lastwagen & lorry

M is vir muis, Maus & mouse

N is vir neute, Nüsse & nuts

O is vir orrel, Orgel & organ (daar is nie baie woorde wat met ‘O’ begin in Afrikaans, Duits & Engels nie!)

Die vorige vyf letters is steeds hier beskikbaar, en die volgende vyf hier (binnekort), saam met idees wat inpas by kleinboet se kinetiese leer.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – F tot J

Hou skrifoefening kort! Dis seker die belangrikste les wat ek geleer het uit dure ondervinding. Gewoonlik wanneer my seun sy skrif vinnig en netjies afgehandel het, was my eerste instink om te dink dat dit te min of te maklik was en dan ‘n tweede bladsy uit te deel. Dit beteken eintlik ek beloon goeie werk met nog meer werk!

Gelukkig het besef dat dit glad nie aanmoedigend is nie. Wanneer ‘n seun vinnige, netjiese werk lewer, beloon hom met iets positiefs, soos: “Dit is so pragtig gedoen, jy mag nou vir tien minute gaan trampolien spring.” Deur vir hom net nog meer werk te gee, leer jy hom dat dit nie help om sy werk die eerste keer vinnig en reg te doen nie, dat daar geen voordeel in is nie. So kan mens selfs in iets soos die reaksie op skrif wat gedoen word, positiewe werksetiek stimuleer, of nie.

Nog iets wat hierby aansluit, is dat een sin wat netjies en reg geskryf is, baie meer werd is as ‘n bladsy vol haastige gekrabbel. Daar is areas van onderrig waar ‘n flink werkstempo belangrik is, maar nie in skrif nie. Kwaliteit baie beslis bo kwantiteit in hierdie geval. Doen eerder ‘n klein bietjie, maar konsentreer daarop om dit na die beste van jou vermoë te doen, daaruit leer jy tog iets!

Dis een van die redes waarom daar nie op my voorskoolse werksblaaie rye en rye natrekke per letter is om te oefen nie. Doen eerder ‘n klein aantal korrek. Trek eers die voorbeeldletter (in die hoek links bo) ‘n paar keer na met die vinger, in die volgorde soos aangedui, sodat die vorm van die letter reeds bekend is wanneer daar die eerste keer ‘n potlood gebruik word.

Verlede keer het ek werksblaaie A tot E as gratis drukstukke aangebied, hier is nou F tot J:

F is vir fiets & Fahrrad

G is vir gorilla, Gorilla & gorilla (Afrikaans, Duits en Engels!)

H is vir huis, Haus & house

I is vir igloe, Iglu & igloo

J is vir jagluiperd

Volgende keer ‘n stukkie raad oor tekstuur, saam met die volgende vyf hoofletters.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – A tot E

Saam met die kurrikulum-in-‘n-boks het ons ook Handwriting Without Tears bestel, omdat meer as een tuisskoolma dit aanbeveel het. Ons het egter net die onderwysgids bestel, sodat ek eers daardeur kon lees en besluit of dit ons ook sou pas, voordat ons die werksboeke koop.

Volgens my is dit ‘n wonderlike, praktiese manier om kinders te leer skryf. Eerstens is daar die hele gedagte dat alle hoofletters uit vier vorms (kort lyn, lang lyn, klein kurwe, groot kurwe) saamgestel is. Dit maak onmiddellik die wêreld van letters eenvoudiger.

Tweedens organiseer hulle letters wat dieselfde begin, bymekaar. In plaas daarvan om te sê dat M en N kinders sal deurmekaar maak en hulle ver uitmekaar te behandel, sit hulle dit juis bymekaar omdat dit byna dieselfde is. Voordat ek nou die hele boek hier oortik in my opgewondenheid, sal ek dit maar liewer daar laat.

Ongelukkig het omstandighede verander voordat ons die werkboeke en houtvorms kon koop. Dus was ek genoodsaak om maar net ‘n alternatiewe plan te maak. Met dit wat ek reeds geleer het uit HWT,  tesame met die lees van Ruth Beechick se boek The Three R’s en die raadpleeg van elke gratis skrif-werksblad wat ek op die internet kon opspoor, was ek gereed om nou my eie voorskoolse drukskrif-werksblaaie aanmekaar te slaan, spesifiek gerig op ons Suid-Afrikaanse seuns.

Meestal het die prentjies op elke blad ooreengestem met ons eie alfabet-prente, sodat dit geldig kan wees in Afrikaans, Duits en Engels. Omdat ek afhanklik was van prente wat hergebruik kon word sonder om kopiereg te skend, (en ek glad nie self kan teken nie, ook nie op ‘n rekenaar nie) moes ek hier en daar maar ‘n ander woord kies. Maar hulle almal werk in Afrikaans!

Dus,  A is vir appel, Apfel & apple

B is vir boot, Boot & boat

C is vir clown (kroek, ek weet, maar dié woord word tog in alle tale gebruik, of dit nou eintlik daar hoort of nie)

D is vir dolfyn, Delfin & dolphin

E is vir emmer & Eimer

Volgende keer ietsie wat ek swaar moes leer oor skrifoefening, saam met die werksblaaie van nog ‘n paar hoofletters.

Lewer kommentaar »

Voorskool: Groter as, kleiner as en gelyk aan

Die jonger kinders wil klaarblyklik maar net dieselfde doen as hul ouer boeties of sussies. Skool lyk gewoonlik so lekker. En dit help nie dat Mamma sê: “Kom tel vir my die rosyntjies. Is daar tien? Deel dit nou mooi tussen jou en ouboet. Hoeveel kry elkeen?” en dan vir kleinboet laat probeer verstaan dat hy ook regtig Wiskunde gedoen het vandag nie! Ouboet se Wiskunde is dan op ‘n papier wat Mamma gemaak het, so kleinboet wil sy Wiskunde met alle geweld ook op ‘n papier hê! Klink dit bekend?

Een van die eerste dinge wat kleinboet op papier gedoen het vir Wiskunde, was groter as, kleiner as of gelyk aan. Met behulp van Microsoft Excel, Webdings en Wingdings, het ek werksblaaie gemaak om hierdie begrippe as ‘n prettige storie te leer. Sover ek onthou was kleinboet maar skaars drie jaar oud toe ons hiermee begin het as deel van die dag se tuisskool.

  • Aanvanklik het ons glad nie die simbole ingevul nie; net vir elke lyn / reël ‘n eensin-storie vertel: hier is ‘n paar huise, en daar is ‘n paar families. Kyk jy of daar vir elke familie ‘n huis is, en of hulle nog meer moet bou. Dan trek hy met kleurpotlood sulke lang boë om elke huis en familie te pas. Die antwoord kry ek dan mondelings: Daar’s nog te min huise. ‘n Ander voorbeeld: hier is treine en daar treinspore – kan elke trein sy eie spoor kry? Dan dieselfde lyne die hele papier vol, voordat ek die antwoord hoor. Soms was die lyne só die hele plek vol dat dit moeilik was om te sien van waar tot waar hulle gaan. toe het ons maar begin om vir elke ‘som’ ‘n ander kleur te gebruik. Nadat hy ‘n paar keer hierdie gedoen het, was dit tyd vir die volgende stap.
  • Die storie van die baie honger voëltjie: Daar’s ‘n Wiskundevoëltjie wat altyd baie honger is. Maak nie saak hoeveel hy eet nie, hy bly altyd baie honger. Omdat hy altyd so honger is, maak hy altyd sy bekkie oop na die plek waar die meeste is om te eet. As daar meer goeters aan hierdie (links) kant is, dan maak hy sy bekkie soontoe oop. (Teken groter as simbool   >  .) As daar meer goeters aan hierdie (regs) kant is, dan maak hy eerder sy bekkie soontoe oop. (teken kleiner as simbool  <  .) Wanneer daar presies ewe veel aan albei kante is, dan kan hy nie besluit nie, en probeer om gelyk na albei kante oop te maak (=). Met elkeen van die somme op die bladsy moet hy dan weer (soos bo) uitvind watter kant is die meeste, en dan die ooreenstemmende voëltjiebekkie natrek.
  • Later, toe kleinboet getalle 1-10 reeds ken, het ek nog werksblaaie gemaak, met ‘n mengsel van prentjies en getalle. As hy vir ‘n paar maande nie van hierdie tipe werk gedoen het nie, moes ek gewoonlik eers weer die storie van die baie honger Wiskundevoëltjie vertel.

Hier is albei dokumente, hopelik kan iemand anders hulle ook nog gebruik. GroterKleinerGelyk_Prente en GroterKleinerGelyk_PrentGetal

Nadat kleinboet ‘n regte bladsy skoolwerk gedoen het, net soos ouboet, voel hy sommer weer baie tevrede met homself!

1 kommentaar »

%d bloggers like this: