Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Drukskrif: Voorskool – 1 tot 10

Daar is verskeie menings oor waar die vorming van nommers nou eintlik hoort – as Wiskunde of as skrif.

Ek stem saam met diegene wat die skryf van die nommers klassifiseer as ‘n skrifoefening. Om te weet hoeveel is agt (die betekenis van die woord) is Wiskunde; om die nommer te kan skryf, en te oefen om dit netjies te kan skryf, is skrif.

Veral kinders wat nie daarvan hou om te skryf nie, ontwikkel maklik ‘n hekel aan wiskunde wanneer wiskunde gebruik word as skrifoefening. Verder is daar nie veel nut in om ‘n hele ry 3’s, dan ‘n ry 4’s te maak elke keer voordat jy ‘n paar somme maak nie – dit word meestal net afgerammel, en help nie om netjiese skrif aan te leer nie. Nou ja, dis my storie en ek bly daarby – hierdie inskrywing is nie daar om ‘n debat aan die gang te sit nie!

So, elke mens kan gerus hul eie opinie oor die saak hê! Hier is die werksblaaie wat ek gemaak het toe ons seuns se tuisskool nog op voorskoolse vlak was:

Nommer 1

Nommer 2

Nommer 3

Nommer 4

Nommer 5

Nommer 6

Nommer 7

Nommer 8

Nommer 9

Nommer 10

Soos wat ek reeds genoem het, vind ek dat dit meer voordelig is om ‘n klein hoeveelheid skryfwerk netjies te doen as ‘n bladsy vol te skryf wat al hoe slordiger daar uitsien soos die kind al hoe minder lus is om dit te doen. Daarom is die drukstukke kort en duidelik.

Lekker tuisskool!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – U tot Z

Nadat ons minstens eenmaal die werksblaaie van al die letters en nommers gedoen het, het ons die voltooide werksblaaie in ‘n boek saamgebind en dit in daardie seun se kamer gaan neersit.

Omdat hy trots is op wat hy gedoen het, kyk hy soms daarna vir ‘n hele tydjie nadat dit voltooi is en trek soms die letters weer na met sy vinger, of met kleurpotlood bo-oor die voorheen gedoende grys potlood. Op hierdie manier word die letters deur die vakansie ingeskerp uit vrye wil, wat ‘n baie kragtige manier is van leer.

Enige prentjies wat hy nog nie ingekleur het nie, kan hy ook nou inkleur, wat ook fyn motoriese spierbeheer oefen. Beide ons seuns hou nie daarvan om in te kleur wanneer hulle moet nie, maar kleur graag in wanneer hulle lus voel om dit te doen.

Die einddoel hiervan is tweeledig: eerstens om trots te kweek op voltooide werk, tweedens om die volgende jaar se hersiening te vergemaklik. Omdat die letters nog bekend is, is daar dan minder tyd nodig om hulle weer te leer, en kan vinniger voortgegaan word met nuwe werk.

Die laaste ses letters van die alfabet:

U is vir uniform, Uniform & uniform (weer in Afrikaans, Duits en Engels)

V is vir vulkaan, Vulkan & volcano

W is vir walvis, Wal & whale

X is vir xilofoon, Xylophon & xylophone

Y is vir ys (die onmoontlikste letter om in al drie tale ‘n gewone woord voor te vind!)

Z is vir Zoeloe, Zulu & Zulu

Volgende inskrywing handel oor voorskoolse oefening van nommers!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – P tot T

Soos tekstuur gehelp het om ouboet te leer, so werk beweging weer vir kleinboet. Hy het ook die tekstuurkaarte nagetrek, maar dit was eerder agter die skootsittery aan as enigiets anders.

Vir hom het dit gehelp om die letters fisies te maak: met sy hande, met sy voete of met sy hele liggaam. Hy moes iets optel of trap of rondbeweeg om dit te máák. Of dit nou was met groot stukke karton wat in die nodige vorms gesny is, volgens Handwriting Without Tears se patroon, of met spaghetti wanneer die letter nie kurwes het nie, of selfs met swembadnoedels vir hierdie letters – hy wou dit uitpak.

Op beddegoed-wasdag het ons eers die lakens gebruik om die dag se letter uit te pak voordat dit in die wasmasjien beland het. Dis veral nuttig vir die geboogde letters, soos C, O, G en J.

Wanneer ons verby ‘n swembad gestap het, het ons eers ons voete in die water gedruk en dan letters gestap op die plaveisel langsaan – die nat voetspore vorm duidelike letters, maar word gou weer droog (so daar is geen vandalisme nie). Dieselfde geld vir ‘n stappie op die strand (of in ‘n sandput) waar die sand gelyk is, deur met hak-teen-toon voetspore, of deur een voet in die sand gesleep, die letters te stap.

Soms het ons groot letters gemaak, ‘n paar treë hoog, soos deur met ‘n stok in die grond te krap. Soms was dit kleiner, soos met gebreekte stukke ontbytkos (bv. Otees). Soms was dit plat figure, soos die voetspore of sleepmerke, soms driedimensioneel, gepak met takke, blare, klippe, kos of wasgoed. Solank dit net grootmotoriese liggaamsbeweging ingesluit het… meer soos speel as soos skool.   🙂

Die vorige vyf werksblaaie vir voorskoolse drukskrif-hoofletters, is hier beskikbaar. Hier is dan die drukstukke vir letters P tot T:

P is vir pan, Pfanne & pan (Afrikaans, Duits & Engels)

Q is vir Qatar lugredery. (Gedurende die tyd wat ons in die buiteland gewoon het, was hierdie volgens die seuns die beste lugredery, en dus vir my ‘n maklike oplossing vir die problematiese letter Q!)

R is vir reënboog, Regenbogen & rainbow

S is vir slang, Schlange & snake

T is vir tafel, Tisch & table

Volgende keer die laaste ses letters. Ek hoop dit help êrens iemand om ‘n makliker dag se tuisskool te kan geniet!

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – K tot O

Tekstuur is baie belangrik vir ouboet. Hy eet nie sommige kosse nie, omdat die tekstuur hom naar maak. Hy dra nie graag sommige klere nie, want “dit voel nie lekker op my vel nie” (so hy moet maar liewers klaar aanpas in die winkel voordat dit gekoop word!).

Siende dat hy dus so gevoelig is vir tekstuur, het ek besluit om dit in te span. Ek het stewige karton gebruik (soos die agterblad van ‘n eksamenblok) en in groot blokke gesny, omtent so 10cm x 7cm. Daarop het ek dan die letters geteken, eers in potlood sodat ek nog foute kon regmaak, een per blok. Bo-oor die potlood dan nagetrek met omlyner (“liner”), ‘n dik een, soos met glasverf of materiaalverf. Nadat die omlyner droog was, het ek die klein nommertjies, wat volgorde aandui, ingevul met ‘n gewone swart pen.

Wanneer ons vir die eerste keer die skryf van ‘n nuwe letter oefen, het ons dit eers met die vinger op hierdie tekstuur-blokke nagetrek. Die omlyner maak ‘n duidelik voelbare riffel en die klonte in die goedkoop, veeldoelige omlyner wat ek gebruik het, het dit net versterk. ‘n Paar herhalings van die natrekbeweging help om die letter se vorm, sowel as die volgorde van die bewegings, in te skerp nog voordat hy moes begin skryf.

Omdat die blokke ook groter is as wat die letters uiteindelik op papier sal wees, is dit verder byna grootmotoriese beweging. Ouboet het gewoonlik op my skoot gesit, op ‘n stoel weg van ‘n tafel. Met niks om jou elmboog op te steun nie, moet mens jou hele arm beweeg om die letters na te trek, nie net ‘n vinger nie.

Die tekstuurletters se vorm en voorkoms stem ook ooreen met die werskblaaie, wat help om kontinuïteit te verleen.

Hier is die aflaaibare werksblaaie vir die voorskoolse drukskrif-hoofletters wat ek gemaak het:

K is vir kangaroe, Känguru, kangaroo

L is vir lorrie, Lastwagen & lorry

M is vir muis, Maus & mouse

N is vir neute, Nüsse & nuts

O is vir orrel, Orgel & organ (daar is nie baie woorde wat met ‘O’ begin in Afrikaans, Duits & Engels nie!)

Die vorige vyf letters is steeds hier beskikbaar, en die volgende vyf hier (binnekort), saam met idees wat inpas by kleinboet se kinetiese leer.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – F tot J

Hou skrifoefening kort! Dis seker die belangrikste les wat ek geleer het uit dure ondervinding. Gewoonlik wanneer my seun sy skrif vinnig en netjies afgehandel het, was my eerste instink om te dink dat dit te min of te maklik was en dan ‘n tweede bladsy uit te deel. Dit beteken eintlik ek beloon goeie werk met nog meer werk!

Gelukkig het besef dat dit glad nie aanmoedigend is nie. Wanneer ‘n seun vinnige, netjiese werk lewer, beloon hom met iets positiefs, soos: “Dit is so pragtig gedoen, jy mag nou vir tien minute gaan trampolien spring.” Deur vir hom net nog meer werk te gee, leer jy hom dat dit nie help om sy werk die eerste keer vinnig en reg te doen nie, dat daar geen voordeel in is nie. So kan mens selfs in iets soos die reaksie op skrif wat gedoen word, positiewe werksetiek stimuleer, of nie.

Nog iets wat hierby aansluit, is dat een sin wat netjies en reg geskryf is, baie meer werd is as ‘n bladsy vol haastige gekrabbel. Daar is areas van onderrig waar ‘n flink werkstempo belangrik is, maar nie in skrif nie. Kwaliteit baie beslis bo kwantiteit in hierdie geval. Doen eerder ‘n klein bietjie, maar konsentreer daarop om dit na die beste van jou vermoë te doen, daaruit leer jy tog iets!

Dis een van die redes waarom daar nie op my voorskoolse werksblaaie rye en rye natrekke per letter is om te oefen nie. Doen eerder ‘n klein aantal korrek. Trek eers die voorbeeldletter (in die hoek links bo) ‘n paar keer na met die vinger, in die volgorde soos aangedui, sodat die vorm van die letter reeds bekend is wanneer daar die eerste keer ‘n potlood gebruik word.

Verlede keer het ek werksblaaie A tot E as gratis drukstukke aangebied, hier is nou F tot J:

F is vir fiets & Fahrrad

G is vir gorilla, Gorilla & gorilla (Afrikaans, Duits en Engels!)

H is vir huis, Haus & house

I is vir igloe, Iglu & igloo

J is vir jagluiperd

Volgende keer ‘n stukkie raad oor tekstuur, saam met die volgende vyf hoofletters.

Lewer kommentaar »

Drukskrif: Voorskool – A tot E

Saam met die kurrikulum-in-‘n-boks het ons ook Handwriting Without Tears bestel, omdat meer as een tuisskoolma dit aanbeveel het. Ons het egter net die onderwysgids bestel, sodat ek eers daardeur kon lees en besluit of dit ons ook sou pas, voordat ons die werksboeke koop.

Volgens my is dit ‘n wonderlike, praktiese manier om kinders te leer skryf. Eerstens is daar die hele gedagte dat alle hoofletters uit vier vorms (kort lyn, lang lyn, klein kurwe, groot kurwe) saamgestel is. Dit maak onmiddellik die wêreld van letters eenvoudiger.

Tweedens organiseer hulle letters wat dieselfde begin, bymekaar. In plaas daarvan om te sê dat M en N kinders sal deurmekaar maak en hulle ver uitmekaar te behandel, sit hulle dit juis bymekaar omdat dit byna dieselfde is. Voordat ek nou die hele boek hier oortik in my opgewondenheid, sal ek dit maar liewer daar laat.

Ongelukkig het omstandighede verander voordat ons die werkboeke en houtvorms kon koop. Dus was ek genoodsaak om maar net ‘n alternatiewe plan te maak. Met dit wat ek reeds geleer het uit HWT,  tesame met die lees van Ruth Beechick se boek The Three R’s en die raadpleeg van elke gratis skrif-werksblad wat ek op die internet kon opspoor, was ek gereed om nou my eie voorskoolse drukskrif-werksblaaie aanmekaar te slaan, spesifiek gerig op ons Suid-Afrikaanse seuns.

Meestal het die prentjies op elke blad ooreengestem met ons eie alfabet-prente, sodat dit geldig kan wees in Afrikaans, Duits en Engels. Omdat ek afhanklik was van prente wat hergebruik kon word sonder om kopiereg te skend, (en ek glad nie self kan teken nie, ook nie op ‘n rekenaar nie) moes ek hier en daar maar ‘n ander woord kies. Maar hulle almal werk in Afrikaans!

Dus,  A is vir appel, Apfel & apple

B is vir boot, Boot & boat

C is vir clown (kroek, ek weet, maar dié woord word tog in alle tale gebruik, of dit nou eintlik daar hoort of nie)

D is vir dolfyn, Delfin & dolphin

E is vir emmer & Eimer

Volgende keer ietsie wat ek swaar moes leer oor skrifoefening, saam met die werksblaaie van nog ‘n paar hoofletters.

Lewer kommentaar »

Voorskool: Groter as, kleiner as en gelyk aan

Die jonger kinders wil klaarblyklik maar net dieselfde doen as hul ouer boeties of sussies. Skool lyk gewoonlik so lekker. En dit help nie dat Mamma sê: “Kom tel vir my die rosyntjies. Is daar tien? Deel dit nou mooi tussen jou en ouboet. Hoeveel kry elkeen?” en dan vir kleinboet laat probeer verstaan dat hy ook regtig Wiskunde gedoen het vandag nie! Ouboet se Wiskunde is dan op ‘n papier wat Mamma gemaak het, so kleinboet wil sy Wiskunde met alle geweld ook op ‘n papier hê! Klink dit bekend?

Een van die eerste dinge wat kleinboet op papier gedoen het vir Wiskunde, was groter as, kleiner as of gelyk aan. Met behulp van Microsoft Excel, Webdings en Wingdings, het ek werksblaaie gemaak om hierdie begrippe as ‘n prettige storie te leer. Sover ek onthou was kleinboet maar skaars drie jaar oud toe ons hiermee begin het as deel van die dag se tuisskool.

  • Aanvanklik het ons glad nie die simbole ingevul nie; net vir elke lyn / reël ‘n eensin-storie vertel: hier is ‘n paar huise, en daar is ‘n paar families. Kyk jy of daar vir elke familie ‘n huis is, en of hulle nog meer moet bou. Dan trek hy met kleurpotlood sulke lang boë om elke huis en familie te pas. Die antwoord kry ek dan mondelings: Daar’s nog te min huise. ‘n Ander voorbeeld: hier is treine en daar treinspore – kan elke trein sy eie spoor kry? Dan dieselfde lyne die hele papier vol, voordat ek die antwoord hoor. Soms was die lyne só die hele plek vol dat dit moeilik was om te sien van waar tot waar hulle gaan. toe het ons maar begin om vir elke ‘som’ ‘n ander kleur te gebruik. Nadat hy ‘n paar keer hierdie gedoen het, was dit tyd vir die volgende stap.
  • Die storie van die baie honger voëltjie: Daar’s ‘n Wiskundevoëltjie wat altyd baie honger is. Maak nie saak hoeveel hy eet nie, hy bly altyd baie honger. Omdat hy altyd so honger is, maak hy altyd sy bekkie oop na die plek waar die meeste is om te eet. As daar meer goeters aan hierdie (links) kant is, dan maak hy sy bekkie soontoe oop. (Teken groter as simbool   >  .) As daar meer goeters aan hierdie (regs) kant is, dan maak hy eerder sy bekkie soontoe oop. (teken kleiner as simbool  <  .) Wanneer daar presies ewe veel aan albei kante is, dan kan hy nie besluit nie, en probeer om gelyk na albei kante oop te maak (=). Met elkeen van die somme op die bladsy moet hy dan weer (soos bo) uitvind watter kant is die meeste, en dan die ooreenstemmende voëltjiebekkie natrek.
  • Later, toe kleinboet getalle 1-10 reeds ken, het ek nog werksblaaie gemaak, met ‘n mengsel van prentjies en getalle. As hy vir ‘n paar maande nie van hierdie tipe werk gedoen het nie, moes ek gewoonlik eers weer die storie van die baie honger Wiskundevoëltjie vertel.

Hier is albei dokumente, hopelik kan iemand anders hulle ook nog gebruik. GroterKleinerGelyk_Prente en GroterKleinerGelyk_PrentGetal

Nadat kleinboet ‘n regte bladsy skoolwerk gedoen het, net soos ouboet, voel hy sommer weer baie tevrede met homself!

1 kommentaar »

Gedigte

Ons hou van gedigte. Wel, ék hou van gedigte, en het dit nog altyd graag met die seuns gedeel, so interessant as moontlik, so hulle gee nie om as die taalles van ‘n dag om ‘n gedig handel nie. Van baie jongs af is D. J. Opperman se Kleuterverseboek ‘n gereelde genoot. Later Junior Verseboek asook vele ander, bekend en onbekend. Die eerste amptelike Engels wat hul doelbewus geleer het, was Mother Goose. In Duits is baie van die bekendste kinderverhale geheel-en-al in rym geskryf, soos Max und Moritz. Gedigte kan vir verskeie doeleindes gebruik word:

  • Voorlees
    Soms lees ons net ‘n gedig vir die lekker daarvan, soos Ek dink ek kan. Wie geniet dan nie die moedige klein treintjie se stryd teen die berg nie?
  • Woordeskat
    ‘n Verbeeldingryke gedig kan ‘n prettige manier wees om woordeskat aan te leer, soos Old Mother Hubbard. Na elke vers moet mens eers stop en verduidelik wat doen ‘n “fishmonger”, “hosier”, “cobbler”. (Sommer ook Geskiedenisles van die dae toe jy nie alles in een “Mall” gaan kry het nie, dalk selfs in een supermark!) In Afrikaans gebruik vele ouer gedigte woorde wat nie meer algemeen gebruik word nie, omdat dit nou na geskiedkundige voorwerpe of gebruike verwys, soos die Padda wat wou gaan opsit,maar nie ‘n opsitkers kon kry nie.
  • Lyste dinge
    Afrikaans het ‘n rykdom aan telrympies, vingerrympies, rympies om die maande van die jaar of dae van die week te onthou, selfs die alfabet! Toe die seuns jonger was, het ons, wanneer daar ‘n verskeidenheid was, saam ‘n hele spul net deurgelees sodat elkeen self kon kies van watter een hul die meeste hou, en dan verder op daardie twee gekonsentreer.
  • Verbeelding
    Daar is niks wat nie in ‘n gedig kan gebeur nie: Jakkals kan met die hoenders praat, ‘Kind van tien’ kan in een nag beide meermin en pionier wees, daar’s seerowers, feë, drake en pratende diere. Deur ander mense se skeppende kuns te bestudeer, stimuleer dit jou kind se verbeelding.
  • Emosie
    Deur gedigte kan kinders aan verskeie emosies blootgestel word, dit leer herken en dalk in veilige familieverband bespreek hoe om dit te hanteer, sou dit dalk eendag hulle pad langs kom. Daar is baie gedigte wat mens laat lag, maar in sommige (veral waar mens lag vir die eienaardigehede van ‘n sekere dier) is daar soms ‘n reël wat jou vir ‘n oomblik laat wonder hoe voel die een waarvóór almal lag. Dis ‘n kompakte blootstelling aan seermaakgevoelens sonder dat dit te diep gaan.
  • Memoriseer
    Dit is belangrik om ‘n kind se geheue te strek en te oefen, net soos met spiere. Maar dis soveel makliker om ‘n gedig te memoriseer wanneer mens eers die ritmevan die gedig ontdek het, veral met ouer Afrikaanse gedigte en Engelse “nursery rhymes”: “Ek sóék na ‘n mán wat sy mán kan stáán, ‘n mán met ‘n árm wat ‘n slág kan sláán”. Dieselfde geld vir rymwoorde; as jy dan vashaak met die volgende reël, maar onthou “neer” rym met “Heer”, is dit makliker om die volgende reël te onthou, van “Voor my bedjie kniel ek neer/Hoor my bede, liewe Heer“. Gedigte kom ook in allerhande verskillende lengtes, so kies die gedig wat elke kind net-net gaan uitdaag, maar moontlik is sonder dat hul moedeloos word.
  • Gedigleer
    Natuurlik is daar ‘n magdom letterkundige begrippe wat op gedigte van toepassing is. Daar is rymdwang en beeldspraak, verskillende genres en te veel dinge om op te noem. Deur elke nou en dan ‘n gedig te lees wat iets nuuts bevat, leer hul ‘n wye veld van letterkundige begrippe ken. Dis baie minder oorweldigend as om een dag te ontdek die volgende hele hoofstuk handel oor die een vreemde begrip na die ander!
  • Uitdruk van ‘n opinie
    Omdat gedigte ‘n kunsvorm is, is dit die ideale manier om kinders oefening te gee daarin om hul eie opinie te vorm, en te kan oordra aan ander, met redes. Nadat jul ‘n gedig gelees het, vra die kind wat hy/sy daarvan dink. Natuurlik gaan party se antwoord niks langer wees nie as: “Dis mooi.” Moedig hulle dan aan met vrae soos: was daar iets in die gedig waarvan jy hou? en nie hou nie? hoekom/hoekom nie, kan jy dit verduidelik? Vertel daarna ook waarvan jy hou en waarvan nie. Dis ‘n proses, met sommige kinders ‘n lang proses, maar tog betekenisvol. Eendag sal dit daartoe bydrae dat hulle kan sê: “Ek hou nie hiervan nie, want…” Om mens se keuses te kan motiveer, speel ‘n belangrike rol in die lewe. Waarom het jý daardie huis gekies, daardie kar gekoop, daardie werk aanvaar, daardie aanbod van die hand gewys, besluit om te tuisskool?

Ek het ‘n soort algemene gedigwerksblad saamgestel wat ons nogal gereeld gebruik. Vanaf graad 1 en nog steeds in graad 6. Aan die begin het ons dit net mondelings beantwoord, later skriftelik. Aanvanklik  hoef hul ook nie al die vrae te beantwoord nie, ek merk sommer dié wat hulle al kan doen met ‘n potlood. Soos ons dan nuwe terme byleer, kan hulle ook daardie vrae antwoord.

Een van die redes waarom ons een standaardvraelys gebruik vir alle gedigte, is dit omdat dit hulle leer om ook mettertyd op hul eie ‘n gedig te kan bestudeer. Daar hoef nie vrae te wees wat spesifiek op daardie gedig van toepassing is nie, gaan net deur dieselfde lys gedagtes as gewoonlik!

Hier is ons gedigwerksblad: Gedigvrae_Afr

Noudat deelkrag verby is vir vanaand kan ek my tikwerk oorlees en die baie tikfoute korrigeer (o, waarom het ek nie tik as skoolvak gekies nie?)

Popsielief
Popsielief, toe kom dan nou
met jou ogies hemelsblou:
jy moet alles nou laat staan,
ons twee moet nou bed toe gaan.

En so aan en so meer – tot volgende keer!

Lewer kommentaar »

%d bloggers like this: