Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Tossels

op 1 Maart 2015

Oorspronklik wou ek iets anders skryf, en net daarin verwys na tossel maak, maar besef toe dat almal dalk nie tossels op dieselfde manier maak nie. Dus, verander van plan: Hier is hoe ek gewoond is daaraan om dit te maak – as iemand ‘n ander manier ken, pos dit asseblief in die kommentaar!

Benodigdhede: Stewige karton, potlood, skêr, dikkerige wol (Dubbelbrei werk goed. Dunner wol sal net baie langer neem) . ‘n Passer en kunsmes kan handig wees.

Stap 1: Trek sirkels op karton

SirkelsTossel_Stap1 Trek twee sirkels, van verskillende grootte, met dieselfde middelpunt, op stewige karton. Trek nog ‘n tweede stel sirkels, presies nes die eerstes, ook op stewige karton.  (Dis waar die passer handig is, maar mens kan ook twee ronde voorwerpe van verskillende groottes natrek.)

Hoe groot moet die sirkels wees?

Die buitenste (groter) sirkel bepaal hoe groot die tossel aan die einde sal wees. Groter sirkel, groter tossel, kleiner sirkel, kleiner tossel.

Die binneste (kleiner) sirkel bepaal hoe dig die tossel sal wees. Dit beïnvloed ook hoe lank dit sal duur om dit te maak. Met ‘n groter binnesirkel, sal die tossel stewiger (digter) wees, maar ook langer duur en meer wol gebruik.

Stap 2: Sny die sirkels uit

Tossel_Stap2

Sny eers die twee buite-sirkels uit, sodat jy twee ronde stukke karton in jou hande het. Gebruik dan die kunsmes om die binneste sirkels los te sny sonder om die buite-sirkels te beskadig. Dit lyk nou soos twee tweedimensionele wiele.

Stap 3: Kry die wol gereed

Tossel_Stap3c

Sny ongeveer 5 meter van die wol af en draai dit in ‘n balletjie.

Stap 4: Begin die tossel

Tossel_Stap4

Plaas die twee kartonsirkels op mekaar. Knyp die los punt van die balletjie wol met een hand vas teenaan die karton, en met die ander hand wikkel die balletjie wol deur die opening in die midddel, om die rand van die kartonsirkel, weer deur die opening in die middel, oor en oor. Met die eerste paar wendings, neem die wol bo-oor die los punt om dit vas te wikkel.

Stap 5: Wikkel die wol om en om… en om en om en om…

Tossel_Stap5a

Hou aan om wol om en om die kartonsirkels te wikkel, totdat die hele oppervlak bedek is. Hou dan maar nog steeds aan. Wanneer die balletjie wol opgebruik is, sny nog ‘n lengte wol af en gaan maar net voort. Dit kan nog van dieselfde kleur wees, of verskillende kleurkombinasies. Die wol hoef ook nie gelas te word nie – wikkel net die twee los punte (einde van die ou wol, begin van die nuwe) weer vas soos wat jy werk.


Tossel_Stap5bHoe meer wol reeds omgewikkel is, hoe kleiner sal die opening in die middel word. Soos die opening in die middel kleiner word, sal ‘n nuwe balletjie wol ook moeiliker daardeur pas. Wanneer dit dan nodig is om met ‘n nuwe balletjie wol te begin, sny dit gerus korter (3 meter eerder as 5) sodat dit makliker deur die opening pas.


Stap 6: Sny dit oop

Tossel_Stap6c

Wanneer jy nie meer wol deur die opening in die middel kan kry nie, stop. Bekyk die wolsirkels teen die buiterand, en sny die wol oop, sodat die skêr se punt tussen die twee kartonsirkels insteek.

Stap 7: Bind die stukkies goed vas

Tossel_Stap7a

Neem dan ‘n stuk wol en bind die tossel vas deur die wol tussen die twee kartonsirkels in te wikkel,  en met ‘n stewige knoop om die middelpunt vas te maak. Maak seker dat die wol baie styf om die middel gespan is, anders sal die tossel maklik uitmekaarval.

Gebruik dieselfde wol as vir die maak van die tossel, dan sal niemand ooit weet waar die vasbindplek is nie. Ek het met opset hier ‘n ander kleur gebruik ter wille van duidelikheid.

Die punte van hierdie vasbindwol kan kort gesny word om die tossel soos ‘n bal te hou, of gebruik word om die tossel êrens vas te bind.

Stap 8: Haal die karton af

Tossel_Stap8a

Trek die twee kartonsirkels versigtig van die wol af, een na elke kant toe. As mens die kartonne heel afkry, kan dit weer gebruik word, maar soms kry ek dit nie af nie en moet dit sny (of dit skeur sommer vanself terwyl ek nog probeer om dit af te haal).


Tossel_T1
En siedaar!
Tossel is klaar...


2 responses to “Tossels

  1. Toortsie sê:

    Dis maar die beste manier. Ons het ‘n naald gebruik om meer wol deurgesteek te kry.
    Of jy kan ‘n reghoek gebruik en dit dan die wol net om dit draai. Wanneer genoeg wol omgedraai is, sny jy die wol aan die bokant in twee (vir die punte van die tossel). ‘n Ekstra stukkie wol word onder om die kern gebind om die wolle bymekaar te hou. Nog ‘n stukkie wol word so 1.5 cm van die onderkant af om al die wolle gebind. Maak ek myself duidelik?

    Like

    • tweetaligetuisskolers sê:

      Ja, dis ‘n goeie beskrywing van die tossels wat soos klokkies lyk! Soos wanneer mens dit onderaan iets vasmaak sodat dit afhang.

      Dankie vir jou bydrae!

      Liked by 1 person

Wat dink jy?