Tweetalige Tuisskolers

'n God-in-alles tweetalige tuisskool-familie wat, met 'n plaashart, in die stad oorleef!

Musiek in my ore…

Volgens die plan dat Mamma semi-daagliks oor dieselfde onderwerp moet skryf as Ouboet. Sy weergawe (“Music to my ears…“) is in Engels geskryf.

 

Dié uitdrukking is veronderstel om oor te dra hoe bly, dankbaar, selfs verheug, die spreker is om ‘n sekere geluid te hoor: ” … laggende kinderstemme soos musiek in die moeë soldaat se ore…” of dalk “…sy instemming tot my plan klink na musiek in my ore…”

 

Moontlik is dit omdat musiek van ouds af verbind word met heugelike gebeure: feeste, troues, konserte, oorwinnings. Daarom dat ons enige aangename geluid assosieer met musiek (net in ons eie ore, natuurlik! – ander hoor dit nie) se positiewe eienskap.

 

Maar wat van diegene wat nie juis van musiek hou nie? Of, erger nog, glád nie van musiek hou nie? Sou die rumoer van stadsverkeer, alarms en skreeuende stemme vir hulle dan wees soos musiek in hul ore? Net ‘n groot lawaai? Ook maar goed dat diesoortige mense in die minderheid is, anders sou die uitdrukking geheel-en-al ‘n ander betekenis hê!

Lewer kommentaar »

Vergelykende blogs

In ‘n vorige skrywe (Twee vlieë met een klap ) het ek reeds genoem dat ons graag met een aktiwiteit meervoudige vaardighede aanleer, bemeester of inoefen. Tans is daar nog so ‘n aktiwiteit: Ouboet se blog.

 

Dit het soos volg ontstaan: seuns skryf (met pen en papier) nie te graag nie, en die wêreld word al meer tegnologies, so hulle leer om behoorlik te tik. Nadat die ‘leer tik’ verby is, kom die ‘oefen dit’ deel. Om daagliks ‘n stuk teks uit ‘n boek oor te tik, het na ‘n baie doellose oefening gevoel, maar tog moes ouboet dit maar doen… totdat iemand met die idee van ‘n blog vorendag gekom het.

 

Oombliklik het allerhande ander vaardighede wat ook deur ‘n blog aandag sou kry, in gedagte gekom. Dit kan sy kreatiewe skryfwerk wees. Onbewustelik kan dit ook heelwat rekenaarvaardighede verbeter. Taalvaardighede: spelling en taalleer. Sowel wilde verbeeldingsvlugte as logiese redenasie, en selfs ‘n bietjie filosofiese bespiegelinge, kan tot uiting kom.

 

So het Ouboet se blog tot stand gekom. Vir ‘n tyd lank was die nuutjie daarvan voldoende inspirasie. Die aardigheid daarvan het egter nie te lank gehou nie, of die verskonings begin. Meestal oor moeder se keuse van onderwerpe. So kies dan self onderwerpe! Nee, dis ook nie goed nie. Wat is dan verkeerd met my onderwerpe? Mens kan niks daaroor skryf nie. Regtig? Ja, niemand kan nie. Wel, ek sou kon. Dan, miskien as ek elke dag Mamma s’n lees, sal ek beter idees hê.

 

En die uiteinde van die saak is nou dat Mamma vier keer per week ‘n (baie kort) stukkie moet skryf oor dieselfde onderwerp as Ouboet. So na drie jaar van stilte: “Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my wit perd blogpos voor jou deur op jou skerm!”

1 kommentaar »

LEGO-kunsuitstalling

Ons, die hele familie, het ons dag se tuisskool gebruik vir ‘n besoek aan die kunsuitstalling van Nathan Sawaya, ‘n beeldhouer wat LEGO blokkies gebruik as medium, eerder as marmer, hout, gips of metaal.

Uit die staanspoor was dit ‘n goeie dag, want pa het ‘n dag se verlof gebruik om saam met ons ‘die STAD’ aan te durf. Enige uitstappie waarop pa saamkom, het onmiddelik verhoogde entoesiasme en belangstelling.

Gewoonlik wanneer ons êrens kuns raakloop (‘n uitstalling in ‘n winkelsentrum, straatmark, selfs vakansiewoonplek of kantoorgebou) stop ons eers ‘n oomblik, bekyk en bespreek. Dis maar ‘n redelike oppervlakkige bepreking, want ek is self glad geen kunskenner nie! Is dit ‘n portret, landskap of stillewe? Wat van die kleurkeuse – meestal lig, donker of kleurvol? Is dit realisties? Is daar enigiets ongewoon, soos ander dinge as verf? Lyk dit of dit ‘n emosie weergee, soos hartseer, vrolik, moeg? En dan natuurlik: hou jy daarvan of nie, en waarom sê jy so?

Maar met die Legokuns is daar soveel meer aan verbonde: sommige van sy skeppings is reproduksies van bekende kunsstukke; dis baie bevredigend om te hoor hoe die seuns uitroep: Dis Van Gogh! Daar’s Mona Lisa! Kyk, die sfinks! Natuurlik was daar eie konnotasies ook: Venus de Milo is ‘daai een wie se arms afgegooi is in Asterix en Obelix by die Olipmiese Spele’. Ouboet was in die wolke om ‘Die tweede Chinese perd’ te herken uit ‘n Geskiedenisles se rotstekeninge.

Omdat hulle ook hul eie familielede se smaak en voorkeure goed ken, kon hulle soms ‘n sekere persoon roep: Pappa, jy móét hierdie kom sien! Mamma, jy sal hier wil kyk! Boetie, jy sal hiervan hou! Hulle besef dus dat kuns subjektief is – almal hou nie van dieselfde goed nie (dankie, tog!)

Omdat sommige van die stukke driedimensioneel is, kon kleinboet op die grond kruip om te sien of Red Face Mask se neusgate hol is en daar ‘n tong in sy mond is, dan sy kop by Yellow se borsopening insteek om die holte te bestudeer, terwyl ouboet om en om Parthenon loop en binne-in tuur om te kyk dat dit daar ook netjies afgewerk is.

Ons kon Legokuns vergelyk met digitale beelde – hoe die blokkies té blokkierig kan wees as jy baie naby staan, maar ‘n prent vorm as jy terugtree, net soos wanneer jy op die rekenaar in- en uitzoem. Hoe dit makliker is om iets groots te laat rond lyk as iets kleins, soos met Apples en Tall Pencil, wat verklaar waarom hoë-resolusie beelde mooier lyk. Ag, ja, die blokkiesprente is ook vergelyk met Minecraft, want alles is so blokkierig, en een van hulle was vas van plan om in Minecraft ‘n skildery te probeer maak met verskillende kleure wol.

Die beste van alles is dat hulle baie goed bekend is met die medium. Daar was intense ontleding om uit te vind hóé sekere effekte verkry is. Hulle weet watter blokkies bestaan en wat nie. Daarom moet party blokkies op hul sy staan, byvoorbeeld in die Japanese skrif van The great Wave off Kanagawa. Die tegniese gesprekke het soms erg, wel, tegnies, geraak voordat hulle ooreengestem het oor hoe sekere dinge prakties uitgevoer is. Dis ‘n soort kennis wat hulle nie het van olieverf of marmer nie, daarom kon hulle hierdie keer die kunstenaar se bemeestering van die medium beter verstaan.

Dit was ‘n dag waarop ek baie bly was dat ons tuisskool. Beide ouers kon dáár wees om te sien hoe verskillende ‘skoolvakke’ en lewensondervindings bymekaar kom tot een genotvolle ervaring. Daar was geskiedenis, kuns, Minecraft, rekenaarkunde, Lego, argitektuur, beroepskeuses, Afrikaans, filosofie, kultuur en sommer nog baie meer, en niemand het eers ‘n klas aangebied nie!

Lewer kommentaar »

Italiaans

In ‘n vorige hoofstuk van my lewe (voor huwelik, kinders, tuisskool, huishou…) was ek op ‘n stadium aan’t soek vir iets om weer ‘n doel en uitdaging in alledaagse lewe te sit. My lewe oor die algemeen was teleurstellend en oninteressant, ek wou iets hê om oor opgewonde te raak. Toe besluit ek om Italiaans te leer. Ek wou nog altyd verstaan wat in operas aangaan! Die Italiaanse ambassade was net ‘n paar blokke van my destyds werkplek geleë en het Italiaane klasse aangebied.

Vir ‘n hele aantal maande (meer as ‘n jaar, dink ek) het ek twee maal per week by “Professore” gaan Italiaans leer. Later het ek van werk verander, ver van die ambassade, kon nie meer betyds by die klasse wees nie, het toe maar oorgeskakel na Saterdagoggende. Ek het niemand geken wat Italiaans praat nie, dus geen oefening ingekry nie anders as met myself praat, of in die klas. Tot ek op ‘n dag verlief raak op ‘n Duitser en besluit om Italiaans te los en eerder Duits te leer! Die Italiaanse grammatika- en woordeboek het in die boekrak staanplak gekry… en daar bly staan.

Later, as tuisskoolma, het die idee van klassieke tale my sterk aangetrek. Al die programme wat verkondig dat mens klassieke Grieks en Latyn moet leer, dan kan jy jou eie taal baie beter praat, het egter aanvaar dat “jou eie taal” Engels is. Nêrens kon ek inligting vind oor ‘n soortgelyke program in Afrikaans nie. Dit het ook nou nie juis gehelp dat ons toe nie in Suid-Afrika gewoon het nie! Dan voel dit ook vir my vreemd om twee “dooie tale” te leer as daar ‘n wêreld vol tale is wat mens dalk eendag met ‘n lewende medemens kan praat.

Die seuns het ek vroeg-vroeg geleer om tot by tien te tel in Italiaans. Later, soos ons ander skoolwerk doen, kon ek herhaaldelik daarna verwys, byvoorbeeld met die name van reëlmatige veelhoeke, soos dekagoon, oktagoon, ens. Ook in Engels met triangletricycle (tre = drie). Selfs desimaal (dieci = tien). Uno beteken een, en dis een van ons gereelde kaartspele! So tussendeur het ek seker maar tonne kere genoem dat soveel woorde van Latyn afkomstig is en dat Italiaans die naaste lewende taal aan Latyn is.

Eendag, omtrent middel verlede jaar, toe Ouboet iets anders in ‘n boekrak soek, kom hy op die Italiaanse handboek af… Hy bestorm my, boek in die hand, so opgewonde soos nog iets. Dis asof hy Penny is wat Medusa se Duiwelsoog-diamant (Die Redders / The Rescuers) ontdek het! Hy begin sommer onmiddelik om die boek deur te blaai en woorde uit te spreek. Eers was ek bietjie verbaas, ek weet mos ek het nog die boek..? Gelukkig, voordat ek iets kon sê wat sy entoesiasme demp, skiet onskool (unschool) 101 my te binne: die beste tyd om enigiets te leer is wanneer mens belangstel.

Na ‘n kort gesprek (Ja, ek wil SO graag Italiaans leer) het ons ooreengestem om een maal per week Italiaans-klas te hê. My Italiaans is so verroes dat ek nie eens meer een enkele sin kan uitkry nie, maar gelukkig het ek nog die boeke, en soos wat ek dit lees, kraak die nodige breinselle uit hulle roes uit. My handboek is gerig op haastige grootmense, so eintlik gebruik ons dit nie vir ons klas nie, maar dit gee my darem idees en, bo alles, help om die geroeste breinselle te olie.

Die moeilikste was om te besluit wat leer ons en in watter volgorde. Dit moet tog interessant wees (my handboek begin met etiket by paspoortbeheer en reisdokumente, nie eintlik wat seuns eerste wil leer nie). Verder moet elke nuwe stukkie kennis bydrae by die vorige, sodat hulle darem iets kan sê. Daar moet ook balans wees tussen woordeskat en grammatika. Dalk maak ek dit onnodig ingewikkeld? Hmm… Nee, wat.

Hier is wat ons tot nou toe geleer het:

  • Tel: hulle kon eintlik al tel, maar dit was ‘n prettige manier om te begin met telliedjies vanaf YouTube
  • Persoonlike voornaamwoorde: Ek is Guido. Jy is Luigi. Hy is Pinocchio. Sy is Gina…
  • Vervoer-woordeskat: fiets, kar, vragmotor, vliegtuig, trein, vuurpyl, motorfiets, huurmotor, helikopter, bagasie, kaartjie, gondel, straat, bus, boot…
  • Meervoude van vervoer: een bus, twee busse. Hierby ook ‘n verduideliking van die manlike en vroulike woordvorme van alle selfstandige naamwoorde (maklik vir hulle om te verstaan, Duits het dit ook) en hoe mens dit sommerso aan die woord kan sien, ook self kan uitwerk wat die meervoud moet wees, want Italiaans bly byna altyd by die reëls.
  • Die alfabet: verskye YouTube alfabetliedjies in Italiaans
  • Besitlike voornaamwoorde: Ek het ‘n vuurpyl. Jy het tien treine. Sy het ‘n helikopter. Julle het bagasie. Hulle het drie vuurpyle…
  • Kleure: Weereens het YouTube heelwat vrolike, interessante videomateriaal verskaf
  • Gebruik van byvoeglike naamwoorde (eintlik net die kleure, maar hoe om dit in ‘n sin te pas): Jy het ‘n blou fiets. Ek is ‘n groen motor. Dit is vyf blou helikopters.
  • Vrae met bogenoemde: Het jy ‘n rooi kar? Nee, ek het ‘n blou kar. Is dit ‘n pers trein? Nee, dit is ‘n pers vragmotor.
  • Kos-woordeskat: brood, water, kaas, tamatie, spaghetti, olywe, knoffel, olyfolie, tamatie, wyn, koffie, sout, groente, vrugte, vleis, rys. Ons fokus op algemene woorde, met net spesifieke groente of vleis wat meer Italiaans is, soos tamatie, sampioene, salami. Dit was ‘n openbaring aan hulle hoeveel koswoorde in Afrikaans kom net so uit Italiaans!
  • Soos ons die nuwe woorde leer, gebruik ons weer die vrae, telwoorde, besitting, kleur, ens. van vorige lesse

Volgende kom “Ek wil … ” sinne saam met asseblief en dankie. Die wortel voor die donkie se neus hier is dat, wanneer hulle hierdie deel onder die knie het, ons na ‘n Italiaanse restaurant sal gaan as beloning, waar hulle dan moet probeer om die spyskaart te verstaan sonder om na die Engels te kyk!

Dis seker nie nodig dat hulle ‘n volksvreemde taal aanleer as hulle alreeds een tuis praat nie. Maar… Dit kos geen ekstra geld nie, net bietjie dinkwerk en moeite, met as beloning, ekstra taalvaardigheid. Hulle herken gereeld woorde in Afrikaans, Engels en Duits wat ooreenstem met die Italiaans (Latyn) en dit spoor hulle net aan.

Hoe lank hierdie gier gaan hou, weet ek nie. So lank as wat hule nog belangstel, gaan ons aan!

Lewer kommentaar »

Twee vlieë met een klap.. (of selfs meer)

Dis so heerlik wanneer mens een ding kan doen en ‘n klomp “vakke” kan afmerk. Veral as daardie een ding boonop pret is. Ja, ek weet mens behoort nie eintlik te dink aan vakke afmerk nie, maar ek kan dit net nie verhelp nie. As ek in my gedagtes kan besluit: hierdie aktiwiteit tel vir x, y, en z, so ons het al ‘n klomp goed gedoen vandag, dan voel ek beter.

Een jaar het ek besluit dat die Kerskaartjies daardie jaar met krale versier sal wees. Verskillende kraletjies van wit, rooi, groen, goud en silwer is uitgepak, met ‘n paar groter sterretjies daarby, tesame met dun draad om dit op te ryg. Nadat ek gemeet het hoe lank elke kralestring sal moet wees om mooi op die kaartjie te pas, het ek begin om een te ryg.

Twee nuuskierige agies het al om my gedraai, aan die kraletjies gevat, vrae gevra. Hmmm… hoekom nie? Ek het hulle beduie wat ek besig was om te doen, ‘n spul dreigemente laat val (as jy darem al hierdie kraletjies op die grond stamp, boeta!) en hulle laat saamspeel.

Want dis hoe hulle dit beskou het: speel. Boonop saam met Mamma. Lekker! Met redelik vrye teuels oor hoe die stringetjies moet lyk.

????????????????????

In my gedagtes het dit heeltemal anders gelyk:

  • Hierdie kan tel as die kuns vir die week. Hulle is mos kreatief besig hier. Merk dit af.
  • Al hierdie klein kraletjies maak dit beslis ook ‘n fyn motoriese oefening. Fyn motoriese vaardighede is nodig om netjies te kan skryf, so tegnies is hierdie skrifoefening. Merk dit af.
  • Omdat hulle self besluit in watter volgorde om die kraletjies te ryg, is hulle besig om allerhande patrone te vorm. Soms is dit herhalende patrone, soms ‘n spieëlbeeld en soms effens lukraak. Patrone is deel van Wiskunde. Wonderlik – merk dit ook af!
  • Terwyl ons werk, praat ons oor waarom ons dit nou eintlik doen. Ons gee aan mense kaartjies om te wys ons gee om, om menseverhoudings te bou, hulle op te beur, al sulke dinge. Dis mos nou deel van Sosiale Wetenskappe (soms hou ek baie van die nuwe vakname!). So, merk af die Sosiale Wetenskappe!
  • Natuurlik, vanweë die feit dat dit KERSkaartjies is, praat ons ook oor Kersfees. Dat dit nie sommer net ‘n vakansiedag is vir geskenke, pret en dinge ontvang nie. Dis ‘n herdenking van God se grootse genadegeskenk aan ons: sy Seun Jesus. Ook Jesus se liefdesgeskenk aan ons: sy Lewe. Boonop ‘n opmerking of twee oor waarom sterre so ‘n belangrike deel vorm van Kersfeestemas – die ster wat die wyse manne gelei het na Betlehem. Dus het ons ook Bybel gedoen; merk.
  • Ons het hierdie heel aan die begin van Desember gedoen. Ouboet wou weet waarom so vroeg, dis mos nog lank tot Kersfees, wat my die geleentheid gebied het om ‘n praatjie oor beplanning in te kry. Die krale is net die eerste stap van die kaartjies, daar moet nog genoeg tyd wees om dit alles klaar te maak, dan moet ek dit nog uitdeel voordat mense vertrek op Kersvakansie. Beplanning is mos deel van lewensvaardighede, nie waar nie? Merk dit ook af.
  • Met al hierdie gepratery, wat altyd gepaardgaan met ‘n paar taalkorreksies, het ons beslis ook Afrikaans gedoen vir die dag. Nog ‘n merk.

Nou dis die soort skooldag waarvan ek hou – sewe vakke afgehandel in een aktiwiteit, terwyl ons het baie pret gehad het saam as familie. Boonop is ‘n groot deel van die Kerskaartjiemakery ook gedoen!

2 Kommentare »

En daar leer ek om te hekel!

Ek het grootgeword in ‘n familie waar almal (of byna almal) hulle eie, spesiale vaardigheid het. My ma brei graag – sy het vir die seuns babaklere gebrei, later seunstruie, en voorsien ons nou nog van pragtige, pasperfekte slaapkouse, vingerlose handskoene en serpe.

My ouma hekel eerder. So lank as wat ek onthou, wanneer sy by ons kom kuier het, staan sy soggens vyfuur op, gaan stil-stil kombuis toe, maak vir haar ‘n fles rooibostee en sit en hekel. Daar sit sy totdat ons eendag wakker word, deur die kombuis warrel vir ontbyt voor skool en hou eers weer op as daar weer relatiewe stilte en orde in die huis is – dan gaan sy voort met haar dag. Toe ek ouer word, was daar elke verjaarsdag ‘n lappie of twee om in my trousseau-kis weg te pak. Sy het vir ons die pragtigste eetkamertafeldoek gehekel as trougeskenk.

My niggie maak hoede. Soos in regte-egte spoggerige dameshoede vir troues en kerk en parlement en perdewedrenne en boetieks. Sy kan enigiets optower wat mens op jou kop kan dra – van vere-agtige knippies wat net bo een oor vassteek, tot flambojante somershoede groot genoeg om daaronder weg te kruip vir ‘n donderstorm. In styl.

My tannie (en my ma ook as sy lus het) maak klere. Dis los somerskeppings en deftige baadjies. ‘n Hele nuwe uitrusting vir die kombuis om by die gordyne te pas – oortreksels vir die teepot en broodrooster en voedselverwerker. Of passende plekmatjies en servette vir ‘n spesifieke geleentheid. Of besluit Saterdagmiddag sy wil Sondag iets nuuts aantrek kerk toe en skep dit dan sommerso.

‘n Ander niggie was ewig besig met kruissteek-kunswerke. Sy het ‘n ruk lank by ons loseer toe ek nog op skool was, en daar was altyd een of ander spesiale lap êrens te sien, wat nog ‘n gare-prentjie moet kry.

My voorkeur-kunsvorm was papier. Ek hou daarvan om met papier te werk – jy kan dit presies meet tot op die laaste millimeter en dit bly die regte grootte. Die steke is nooit te groot of klein nie. Jy diepmerk met liniaal presies waar jy dit vou, en dit werk uit, geen naat wat te breed is en nou pas Barbie se been nie meer in haar langbroek nie. Jy pak alles soos jy beplan voordat jy gom smeer en bring veranderings aan voordat dit te laat is. Geen steke uittrek of gare lostorring nie. Ek vind papier ‘n baie gehoorsame, beheerbare medium om mee te werk.

Dis nie dat ek nie die ander probeer het nie, of te min aangemoedig is nie. My ma (en die skool) het my probeer leer om te brei, en ek kan regs en aweregs steke maak, maar dit kom nooit tot ‘n bruikbare eindproduk nie… behalwe vir ‘n plein serp wat kleinboet nooit dra nie. Ek wou ook naaldwerk doen en het my ma selfs omgepraat om ‘n “Maak jou eie maklike popklere”-boek vir my te koop vir my tiende verjaarsdag of so iets. Vandaar weet ek dat Barbie se broekspype nie ‘n millimeter kan uit wees nie, dan pas dit nie meer nie. Ek het darem eenmaal gordyne gemaak vir die babakamer – dis immers net reguit lyne en as die naat nou effens skeef is hier en daar, is dit nie opsigtelik nie. Van borduurwerk het ek gehou, maar wat DOEN mens met die stuk lap daarna, ek kon nooit veel nut daarvoor kry nie, en mens kan ook net soveel kussings en muurbehangsels hê (wat in elk geval nog meer naaldwerkvaardighede vereis).

Om die storie van my pogings kort te hou, dit was amper soos tuisskool. Almal het probeer om my sekere vaardighede aan te leer, en tot ‘n mate daarin geslaag, al is dit nou ook meer teoreties as prakties, maar ek het net nooit eintlik die nut daarvan gesien in my alledaagse lewe nie. Nie een van die goggas het my gebyt nie.

Totdat…! (So ‘n storie moet ‘n “totdat”-oomblik hê, nè?) Toe ons in ons nuwe huis intrek, was daardie hierdie vreemde, lang, smal oppervlak in die eetkamer. Die hout is nie besonder mooi nie, niks wat ons het pas daar nie. Alle lappies is of heeltemal te kort, of te breed, of albei. ‘n Hele string kleineres werk ook nie. Ek bel toe maar my ma (wat doen mens dan nou anders?) en hoor of Ouma nog hekel – laas wat ek gehoor het sukkel haar vingers bietjie.

Die uiteinde daarvan is dat daar ‘n paar weke later ‘n pakkie by die poskantoor opdaag. Binne-in is ‘n fyn gehekelde lappie, gemaak volgens die afmetings wat ek geneem het. Die dooie hoekie lyk nou heel skaflik.

Maar toe tref die aaklige gedagte my: wat as Ouma nie meer kan hekel nie? Sy kan ook nie vir altyd aanhou nie. Niemand anders in ons familie hekel nie, en niks anders sou so reg lyk op daardie oppervlak nie. Dalk moet ek leer?

Eers dag ek, hekel en ek sal nie maats wees nie, want brei was nie juis my gunsteling-tydverdryf nie. Maar alles wat ek teen brei het, is nie van toepassing op hekel nie: mens kan nie steke verloor nie (ten minste nie so dat die hele breiwerk leer soos ‘n sykous omdat daar in die middel van die ry een steek uittrek nie). Mens kan sommer net ophou waar jy is en later aangaan, hoef nie eers die ry klaar te maak nie. Boonop verloor daar nie so maklik een pen nie. Met brei het ek aanhoudend een van die breipenne verloor en moes eers ‘n halfuur daarna soek voordat ek kon verder brei. Dis nou seker nie brei se skuld dat ék so is nie, maar die kombinasie (brei + my) het net nie gewerk nie, ook al rym dit.

Ewe vuur en vlam lig ek my ma in met die volgende telefoonoproep. Hulle was juis op pad om die volgende week by ons aan te kom op pad na iewers anders, so sy raai my toe aan om nie hekelpenne en gare te koop nie, sy bring sommer maar saam van wat sy het. (Liewe mamma weet ook teen hierdie tyd hoe dit gaan met my en handvaardighede 😉 ) So gesê, so gedaan. Sy laai ‘n sak met penne, hekelgare en ‘n paar uitknipsels oor “Leer om te hekel”, wat nog aan my sussie behoort het, by ons af.

By die biblioteek bewapen ek myself ook met ‘n boek wat my al die geheime van hekel stap vir stap sal uitspel. Daagliks probeer ek al hierdie geheime ontrafel. Na ‘n paar weke bel ek my ma en laat weet dat sy maar weer al die hekelgoed moet saamvat wanneer hulle weer by ons verbykom – dit help tog nie. Wat het ek nou eintlik gedink? Teen die tyd behoort ek mos al van beter te weet! My vingers kan net nie gare en penne raakvat en gemaklik wees daarmee nie.

So ‘n paar weke (maande?) later sien ek eendag ‘n nuwe deelwerk genaamd “The Art of Crochet“. Wat eintlik my oog gevang het, is die DVD wat daarmee saamkom, wat belowe om die nabyskote te wys van elke aspek van die gehekelry. Die eerste uitgawe kos ook net R9.95. Omdat ek nog steeds graag wou leer hekel (nie omdat ek hardkoppig is nie!), besluit ek dat tien rand ook nou nie soveel geld is om te betaal nie. Maar as hierdie nie werk nie, dan gee ek regtig op! Gelukkig sluit hierdie tienrandaanbod sommer ook ‘n bolletjie wol en ‘n hekelpen in.

Het my gesinslede (almal manlik) my gespot (liefderyk) toe ek hierdie deel-tydskrif te voorskyn bring en verklaar dat ek weer gaan probeer om te leer hekel. Ek het die arme DVD sat gespeel, en omtrent elke 2 sekondes eers laat wag terwyl ek weer my vingers uit die wol ontknoop. Die seuns het al die woorde van die DVD-demonstreerdame uit die kop saamgesê! Maar, raai wat? Sedert die laaste probeerslag enkele maande gelede, terwyl ek NIE probeer het nie, het my vingers skielik besluit hulle kan dit doen. Dis toe nie eintlik so moeilik nie.

1 kommentaar »

Ander tale

My persoonlike opinie is dat blootstelling aan ander tale baie belangrik is vir kinders. Nou, mens sou seker kon sê dat hierdie opinie sterk gekleur is deur die feit dat ons ‘n tweetalige huishouding is, en ook dat die kinders reeds van voorgeboorte af omring is deur drie tale. Nogtans dink ek nie dat drie genoeg is nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink nie elke mens behoort te, of kan, twintig tale vlot praat nie! Net dat dit goed is vir kinders om daaraan blootgestel te word.

Volgens linguistiese navorsing, word babas normaalweg gebore met die vermoë om al die klanke in al die tale te kan maak – daai babagebrabbel is ‘n mengsel van klanke uit Chinees, Arabies, Bulgaars, Hindi, Malayalam, Swahili, Zoeloe, Hebreeus, Tagalog, Serbies en nog ‘n paar honderd ander! Omdat die mense rondom die baba egter net sekere van al daardie klanke herhaaldelik maak, leer die baba dan dat daardie die “regte” klanke is om te maak en eindig op met mama, doedoe en gogga. Mettertyd vervaag al die ander klanke en wanneer hierdie baba eendag op die ouderdom van dertig Urdu wil aanleer, moet hy/sy van voor af leer om die ander klanke te maak wat nie in sy eie taal(e) voorkom nie.

So, waarom sou dit voordelig wees om aan ander tale blootgestel te word?

Hier’s my redes:

  1. Dit leer hulle verdraagsaamheid. Alle mense is nie dieselfde nie. Hulle lyk nie dieselfde nie en praat ook nie dieselfde nie. Wanneer iemand ‘n (vir hulle) vreemde taal praat, gaan hulle waarskynlik foute maak en ‘n aksent hê. ‘n Kind wat besef dat hy/sy nie al die tale in die wêreld vlot kan praat nie, sal meer begrip hê hiervoor en hopelik nie lag vir die foute nie, eerder help.
  2. Dit leer hulle meer van hulle eie taal. Mens onderskei eers wat uniek is aan jou kultuur nadat jy ‘n ander gesien het. Ek het byvoorbeeld nooit besef dat my ma se aartappelslaai besonders is nie, totdat ek ander mense s’n geëet het en dit minder lekker gevind het – maar almal rondom my het gesmul. My norm vir ‘n goeie aartappelslaai is dus duidelik anders as ander s’n, vanweë hoe ek grootgeword het. Ek het dit net nooit geweet nie, totdat ek die ánder probeer het.
    Dieselfde met taal. Mens besef eers dat “g”-klanke besonders is aan Afrikaans (en verwante tale) nadat jy mense teëgekom het wat glad nie die geluid kan maak nie, omdat dit nie in hulle taal voorkom nie. Sesotho gebruik byvoorbeeld nie lidwoorde nie (‘n, die) en daarom vind Sesothosprekendes dit soms moeilik om hierdie woorde reg te gebruik. Baie tale het geen of min verkleinwoorde, waar ons in Afrikaanse enige ou woordjie kan vervorm tot verkleinwoordjie as ons willetjies, of hoe, my lesertjie? En so meer…
  3. As hulle ooit ‘n ander taal sal wil of moet aanleer, sal dit makliker wees. Hulle sal verstaan dat die vreemde taal nie aanmekaarpas soos hul eie taal nie, gewoond wees daaraan om te luister vir ander klanke. Dit beteken nie hulle moet alles verstaan wat in die ander tale aangaan nie, maar net die ore oefen. Basies net minder beperk wees tot wat hulle ken en nie alle tale oordeel volgens die een wat hul ken nie.
  4. Dis soms nuttig. Om byvoorbeeld te weet dat carne die Italiaanse woord vir vleis is, help wanneer mens leer van karnivore, ook in sommige restaurante. Om te weet alpha is die eerste letter van die Griekse alfabet, help om sin te maak uit “alfabet”, “Alfa en Omega”, “Alfa Centauri”, ens. Soms help dit net om ‘n fliek meer te geniet, wanneer hulle van die klanke herken as die film in ‘n ander land as Amerika of Engeland afspeel!

So, hoe doen mens dit? Begin jy om die kinders elke dag by ‘n ander persoon af te laai vir ‘n taalles? Wel, dit kan lekker wees, maar ook duur, frustrerend en tydrowend. Boonop is jy dan beperk tot vyf, ses of sewe tale. Hier’s ‘n paar dinge wat ons al gedoen, en geniet, het:

  • Eerste moet natuurlik wees om mense te leer ken van ander tale, maar dis makliker gesê as gedaan. As almal op jou dorpie Afrikaans praat, sal dit nie help nie. Maar… as jy tóg iemand leer ken wat ‘n ander taal praat, vra hulle net een woord, miskien “hallo” of “hoe gaan dit?” of “dankie” en gebruik daardie een woord elke keer wat jy hulle sien. Miskien kom jul tuinier uit Malawi of die deeltydse skoonmaakster uit Zimbabwe of die bure uit Bulgarye of iemand by die kerk is getroud met ‘n Franse dame! Gebruik daardie geleenthede.
  • Kleintyd het ons minstens en maal per week ‘n stukkie film gekyk in ‘n ander taal. Nie ‘n hele twee-uur-lange film nie. Sommer net ‘n 15 minute stukkie uit ‘n (aan ons) baie bekende tekenprent. Of een episode uit ‘n reeks. Dis nogal pret om te sien watter ander taalopsies daar op sommige DVDs is. Dis fassinerend om ‘n bekende tekenprent in Nederlands te kyk. Of selfs ‘n taal te kies wat ‘n ander skrif gebruik, sodat jy nie eens weet watter taal gekies is nie! Laat die kinders ook kies. Omdat ons nie in die week TV gekyk het nie, was selfs TV in ‘n onbekende taal ‘n waardeerde bederf. Na die tyd het ons elkeen een ding probeer noem wat ons opgeval het – die taal klink dalk harder, of sagter, as Afrikaans. Of meer vloeiend. Of dalk klink dit of die stemme die heeltyd kwaad is, maar dis net die taal.
  • Soms was dit meer doelbewus – met groot hulp van ander internetgebruikers die hele wêreld oor, danksy YouTube. Tik in “Count to ten in Turkish” of “Arabic alphabet song” of “Colours in Italian” of “Chinese PinYin”. Dis gewoonlik iemand se tuisgemaakte video, maar daar is ook soms gratis snitte uit opvoedkundige programme. Dis groot pret. Noudat die seuns ouer is, het hulle ook soms versoeke.

Sommige dinge onthou hulle na een keer se kyk of luister, ander gaan by die een oor in en die ander uit – maar selfs daarvoor moes dit DEUR die brein gaan!

Lewer kommentaar »

3 Maklike Watereksperimente

Wetenskap is pret! Leer is lekker!

As hierdie twee dinge vroeg-vroeg reeds by ‘n kind ingeskerp word, dan is die stryd reeds halfpad oorwin. Goed begonne, half gewonne. Dis ‘n belangrike doelwit in ons tuisskool-lewe (wel, eintlik bedoel ek nou die pret-deel, maar ook die goed begonne). Kinders is van nature leergierig, dit hang af of hierdie lus vir leer aangemoedig word of met verveling gesmoor word.

Seuns hou daarvan om met water te mors. Ja, ek weet tuisskoolouers wil ook nie heeldag skoonmaak en opruim na ‘n morsige leerondervinding nie. Dit hoef ook nie só morsig te wees nie en die kinders kan gerus van jongs af leer om te help opruim na die eksperimente.

Vir ons was eksperimente, veral dié met water daarby, ‘n goeie manier om te leer, maar ook terselfdertyd aan te leer dat wetenskap, en leer oor die algemeen, lekker is. Hier is drie watereksperimente vir voorskool, graad 1 of graad 2 wat byna geen voorbereiding verg nie:

Dryf of sink?

Al wat nodig is, is ‘n skottel (of bad) vol water, ‘n papier en potlood. Dis nou van ma se kant af. Dan mag die seuns 20 (dit pas goed in op ‘n folio papier) dinge kies waarmee hulle wil eksperimenteer. Ouboet skryf die name van al hierdie dinge onder mekaar neer op die papier, as die eerste kolom . (Dit tel sommer ook as spelling / Afrikaans / skrif vir die dag, want daar gaan waarskynlik woorde wees wat hy nie weet hoe om te spel nie.)

Dan moet Ouboet en Kleinboet raai watter van hierdie dinge sal dryf en watter sink, in water. Een kolom vir Ouboet se hipotese, een vir Kleinboet s’n – hy hoef net ‘n D of S te maak langs elke voorwerp. Nou vir die pret.

Hulle maak beurte om die goed in die skottel water te gooi, te kyk of dit dryf of sink, dan moet Ouboet weer die waarneming noteer.

????????????????????

Daarna kan hulle kyk hoeveel van hulle hipotese reg was, en dalk is daar ‘n besprekingspunt of twee as dinge anders was as wat hulle dink.

Wat gebeur as dit vries?

Benodigdhede: ‘n Deursigbare houer wat in die vrieskas mag gaan, ‘n rekkie wat om die houer sal pas, water en voedselkleursel.

Nou ja, die voedselkleursel is nie noodsaaklik nie, maar gekleurde water is meer pret – ook meer sigbaar.

Vul die houer gedeeltelik met water, voeg voedselkleursel by (“Cool!”). Pas dan die rekkie om die houer. Die seuns kan seker maak dat die rekkie mooi presies op die watervlak lê as merker.

Plaas dan die houer in die vrieskas (of vrieskompartement van die yskas) totdat die water gevries is. Wees daarop voorbereid dat die vrieskas of yskas ‘n honderd keer oopgemaak gaan word om te kyk of dit al gevries is!

????????????????????

Wanneer die water solied gevries is, haal dit uit, maar wees versigtig om nie die rekkie te skuif nie. Die seuns vergelyk nou die watervlak toe die water nog vloeistof was, soos gemerk deur die rekkie, met die volume noudat dit gevries is. Water sit uit wanneer dit vries!

Lug is ligter as water

Met weereens ‘n bak vol water, ‘n strooitjie en ‘n leë koeldrankblikkie, of ander houer met klein opening, is almal gereed vir nog ‘n watereksperiment!

Begin deur na die dryf of sink-eksperiment te verwys: Sal ‘n leë koeldrankblikkie dryf of sink? Wat daarvan as die blikkie vol water is? En as dit vol lug is?

Maak die koeldrankblikkie vol water en sit dit in die bak water, waar dit sink. Laat die seuns beurte maak op die strooitjie by die blikkie se opening in te steek en te blaas. twee dinge kan nie terselfdertyd dieselfde ruimte inneem nie. Ons kar kan nie wees waar ‘n ander kar reeds is nie, dan is daar ‘n ongeluk. Net so met die lugwat hulle uitblaas en die water in die blikkie – albei kan nie in die blikkie wees nie. Omdat die lug ingeblaas word, druk dit die water uit. Soos wat daar meer lug in die blikkie is, begin die blikkie hoër in die water lê totdat dit eindelik dryf. Die lug in die blikkie maak dit nou ligter as die water, daarom dryf dit.

????????????????????

Dan, om sommer ‘n ekologiese les daarby in te werk, herinner ek die seuns daaraan om nie die water sommer net in die drein af te gooi nie – dis immers nog skoon bruikbare water. Benat die potplante daarmee, vul die troeteldiere se waterbakke of selfs die toilet se watertenk!

Lewer kommentaar »

Soos ‘n padda in kookwater

Hierdie storie het ek gelees toe ek omtrent agt of nege jaar oud was, maar ek het ook mense van ander lande teëgekom wat dit ken, so dalk is dit meer ‘n soort fabel. Indien nie, en iemand die oorsprong daarvan ken, laat weet my asb. sodat ek dit hier kan noem, of verwyder as dit kopiereg sou skend. Die storie het my egter my lewe lank bygebly, en met baie dinge gehelp om keuses te maak. Hier’s eers die storie:

‘n Seun vang eenmaal ‘n padda by die rivier, en neem dit huis toe. Hy wil sien wat die padda doen as hy dit in warm water gooi. Hy kry ‘n pot vol vuurwarm water en gooi die padda daarin. Die padda spring onmiddelik uit! Die slinkse seun neem toe ‘n pot koue water en gooi die padda daarin. Die padda swem heerlik rond. Dan plaas die seun die pot koue water op die stoof, waar hy die plaat aanskakel teen ‘n baie lae temperatuur. Die water word nou geleidelik warmer en warmer, en die padda kom dit nie eens agter nie. Padda swem rustig verder. Op ‘n stadium bereik die water in die pot ‘n temperatuur wat glad nie meer veilig is nie, maar die padda is nie bewus daarvan nie en spring nie uit om sy lewe te red nie. Padda swem net onbekommerd verder, totdat die seun weer kyk en die padda dryf in die water, pens bo, morsdood.

Dis nogal ‘n grusame einde, maar dis juis die punt. Die boek waarin ek dit gelees het, het nie die storie as Bybelles vertel nie. Dit het geëindig met morele les: So is dit soms met slegte dinge – hulle word so stadigaan slegter dat mens dit nie eens agterkom nie, net soos die padda, totdat dit te laat is.

Die verhaaltjie het my kindergemoed egter so getref, dat ek dit oral begin raaksien het, ook in Bybelverhale. Een voorbeeld daarvan is Saul, wat aanvanklik glad nie wou koning wees nie, maar sy mag het so na sy kop toe gegaan dat hy hom later sommer die priester se mag toe-eien.

Later as tiener, het ‘n sekere voorval dit weer sterk bewys. Daar was ‘n familielid van ongeveer my ouderdom, wat graag gelees het, soos ek. Sy ouers het glad nie gelees nie. Hulle het ook nie gekyk wat hy lees nie. Hy het veral belanggestel in boeke met towenaars, dwerge, trolle en allerhande fantasiekarakters. Met elke kuier was daar minder boeke oor ander fantasiekarakters, en meer towenaars, towery en donker magte. Eendag het ek selfs teenoor my ouers opgemerk dat daar nie eens meer boeke in sy kamer is wat ek sal wíl lees nie. My ouers het ‘n paar keer met syne gepraat en gevra of hulle dalk nie bietjie moet kyk na die tipe boeke wat hy lees nie, maar hulle was net gelukkig dat hy wel lees. Dit was voordelig daarin dat sy Engels baie goed was op skool (nie juis my familie se sterkpunt nie) en dit was vir hulle voldoende. ‘n Jaar of wat later, hoor ons dat hy ‘n Satanis geword het. Daar was seker ook ander faktore wat daartoe bygedra het, maar vir ‘n kind uit ‘n Christelike huis, is ek seker dit was die langdurige blootstelling, stadigaan al hoe meer intens, wat daardie verandering teweeggebring het.

Nou, as volwassene en ma, sien ek dit in soveel meer situasies. Mens raak eenvoudig net gewoond aan dinge. As iemand wat grootgeword het in ‘n omgewing waar geen vloekwoorde, nie eens effense kras woorde, toegelaat word nie (my ma het kwaai gefrons as ons snot of verneuk sê), maar blootgestel is daaraan later in werksomgewing, het ek die ander dag tot my skok agtergekom dat dit my nie meer soveel pla as iemand ‘n soortvan algemene vloekwoord uiter nie. Nes die padda, het ek gewoond geraak aan die warmer water.

Hiermee probeer ek niemand bangpraat nie. Ek wil beslis nie hê enigiemand moet ophou fantasieverhale lees nie – NarniaHobbit, en Lord of the Rings is almal gewilde leesstof in ons huis! Ook wil ek niemand aanmoedig om paranoïes te wees nie. Net mooi vra: wees versigtig en let op. Soms kom die eerste film of boek uit, ouers fynkam dit om seker te maak dis toelaatbaar vir hul kinders, dan kom die opvolg uit, en die ouers kyk weer so vlugtig daarna (miskien). Maar gewoonlik teen die derde van ‘n reeks is hulle gewoond aan die water in die pot en let nie meer op of dit warmer word of nie. As die eerste en tweede boek (of film) oukei was, sal die derde seker tog ook wees? So as daar dan dinge voorkom waarmee hulle nie saamstem nie, weet hulle dit nie.

Nog ‘n voorbeeld is in films: Ek het die eerste Harry Potter gekyk, dit was aanvaarbaar. ‘n Fantasiewêreld met ‘n towenaarskool, byna soos Liewe Heksie wat moet skool toe gaan… in ‘n meer moderne era. Maar soos die opvolgnommers hoër gestyg het, het dit al hoe boser geword. Ek het met een van hulle (kan nie onthou of dit twee of drie was nie) uit die Kine uitgestap in die middel van die film, want ek kon dit net nie verder kyk nie. Hoe sou ‘n ouer wat dit nie self gekyk het nie, daarvan bewus wees? (Persoonlik dink ek die filmmakers doen dit met opset.)

Toets gereeld die waters. Nog iets wat ons probeer om gereeld te doen: bespreek met jou kinders waarom jy dink ‘n sekere film, boek, TV-reeks, uithangplek, enigiets is nie goed vir hulle nie. Kennis maak mag, onthou? Dan kan hulle self polisieman speel.

Sjoe, nou het ek hierdie sedepreek oorgelewer! Dit brand my al vir sooo lank.

Wat dink julle?

Lewer kommentaar »

Tossels

Oorspronklik wou ek iets anders skryf, en net daarin verwys na tossel maak, maar besef toe dat almal dalk nie tossels op dieselfde manier maak nie. Dus, verander van plan: Hier is hoe ek gewoond is daaraan om dit te maak – as iemand ‘n ander manier ken, pos dit asseblief in die kommentaar!

Benodigdhede: Stewige karton, potlood, skêr, dikkerige wol (Dubbelbrei werk goed. Dunner wol sal net baie langer neem) . ‘n Passer en kunsmes kan handig wees.

Stap 1: Trek sirkels op karton

SirkelsTossel_Stap1 Trek twee sirkels, van verskillende grootte, met dieselfde middelpunt, op stewige karton. Trek nog ‘n tweede stel sirkels, presies nes die eerstes, ook op stewige karton.  (Dis waar die passer handig is, maar mens kan ook twee ronde voorwerpe van verskillende groottes natrek.)

Hoe groot moet die sirkels wees?

Die buitenste (groter) sirkel bepaal hoe groot die tossel aan die einde sal wees. Groter sirkel, groter tossel, kleiner sirkel, kleiner tossel.

Die binneste (kleiner) sirkel bepaal hoe dig die tossel sal wees. Dit beïnvloed ook hoe lank dit sal duur om dit te maak. Met ‘n groter binnesirkel, sal die tossel stewiger (digter) wees, maar ook langer duur en meer wol gebruik.

Stap 2: Sny die sirkels uit

Tossel_Stap2

Sny eers die twee buite-sirkels uit, sodat jy twee ronde stukke karton in jou hande het. Gebruik dan die kunsmes om die binneste sirkels los te sny sonder om die buite-sirkels te beskadig. Dit lyk nou soos twee tweedimensionele wiele.

Stap 3: Kry die wol gereed

Tossel_Stap3c

Sny ongeveer 5 meter van die wol af en draai dit in ‘n balletjie.

Stap 4: Begin die tossel

Tossel_Stap4

Plaas die twee kartonsirkels op mekaar. Knyp die los punt van die balletjie wol met een hand vas teenaan die karton, en met die ander hand wikkel die balletjie wol deur die opening in die midddel, om die rand van die kartonsirkel, weer deur die opening in die middel, oor en oor. Met die eerste paar wendings, neem die wol bo-oor die los punt om dit vas te wikkel.

Stap 5: Wikkel die wol om en om… en om en om en om…

Tossel_Stap5a

Hou aan om wol om en om die kartonsirkels te wikkel, totdat die hele oppervlak bedek is. Hou dan maar nog steeds aan. Wanneer die balletjie wol opgebruik is, sny nog ‘n lengte wol af en gaan maar net voort. Dit kan nog van dieselfde kleur wees, of verskillende kleurkombinasies. Die wol hoef ook nie gelas te word nie – wikkel net die twee los punte (einde van die ou wol, begin van die nuwe) weer vas soos wat jy werk.


Tossel_Stap5bHoe meer wol reeds omgewikkel is, hoe kleiner sal die opening in die middel word. Soos die opening in die middel kleiner word, sal ‘n nuwe balletjie wol ook moeiliker daardeur pas. Wanneer dit dan nodig is om met ‘n nuwe balletjie wol te begin, sny dit gerus korter (3 meter eerder as 5) sodat dit makliker deur die opening pas.


Stap 6: Sny dit oop

Tossel_Stap6c

Wanneer jy nie meer wol deur die opening in die middel kan kry nie, stop. Bekyk die wolsirkels teen die buiterand, en sny die wol oop, sodat die skêr se punt tussen die twee kartonsirkels insteek.

Stap 7: Bind die stukkies goed vas

Tossel_Stap7a

Neem dan ‘n stuk wol en bind die tossel vas deur die wol tussen die twee kartonsirkels in te wikkel,  en met ‘n stewige knoop om die middelpunt vas te maak. Maak seker dat die wol baie styf om die middel gespan is, anders sal die tossel maklik uitmekaarval.

Gebruik dieselfde wol as vir die maak van die tossel, dan sal niemand ooit weet waar die vasbindplek is nie. Ek het met opset hier ‘n ander kleur gebruik ter wille van duidelikheid.

Die punte van hierdie vasbindwol kan kort gesny word om die tossel soos ‘n bal te hou, of gebruik word om die tossel êrens vas te bind.

Stap 8: Haal die karton af

Tossel_Stap8a

Trek die twee kartonsirkels versigtig van die wol af, een na elke kant toe. As mens die kartonne heel afkry, kan dit weer gebruik word, maar soms kry ek dit nie af nie en moet dit sny (of dit skeur sommer vanself terwyl ek nog probeer om dit af te haal).


Tossel_T1
En siedaar!
Tossel is klaar...

2 Kommentare »